C

Glo Kristel Loots in ‘love at first sight?’ En hoe lyk haar droomman? Lees haar onderhoud oor Eendag is nou om uit te vind
 More about the book!

Kristel Loots Eendag is nou

In haar jongste romanEendag is nou, vertel Kristel Loots die verhaal van ’n vrou wat al haar lewe lank wag op die dag wanneer sy waarlik gelukkig sal wees, net om met ’n donderknal te besef ‘eendag’ is hier, eendag is nóú …

Kristel het onlangs 10 vrae beantwoord oor haar verhaal van ’n vrou wat moeg raak vir haar lewe en haar man – ’n eiendomsagent – en vir haarself ’n plekkie in die son gaan soek.

Kristel sê onder meer: ‘Love at first sight is soms niks anders as wensdenkery of desperaatheid in geskenkpapier nie.’

Lees die onderhoud:

1. Watter drankie sou jy wees?

Miskien ’n Sondagmiddagdubbeldiksjokolademelkskommel – met ekstra sjokolade. Ietsie met ’n behoorlike suikerskop.

2. Watter boek is tans op jou bedkassie?

Wat daar is, is ’n lang lys van wonderlike Afrikaanse boeke wat tans beskikbaar is wat ek graag wil lees.

3. Watter 3 items is altyd in jou handsak?

  • ’n Outydse ‘cheapie’ selfoon met beperkte funksies in plaas van die peperduur een, sodat die skade nie so groot sal wees as my handsak gegryp word nie. Ek is óf ’n aartspessimis, óf ’n parate Suid-Afrikaanse vrou.
  • Al my bank- en ander winkelkaarte, my ID, mediese fondskaart én my bestuurslisensie, en natuurlik my geldsak sodat die skade in elk geval groot gaan wees as my handsak gegryp word. Logika was nog nooit ’n sterk punt in my samestelling nie.
  • ’n Pen.

4. Was daar iets spesifiek wat Eendag is nou geïnspireer het? ’n Fliek, ’n gesprek, ’n kunswerk?

’n Gesprek met ’n vriendin wat ’n oorsese vakansie beplan het eerder as om soos ’n wyse vrou die geld vir eendag in die bank te stoor. Waar mot en roes en inflasie verniel …

Omdat sy met ’n skok besef het: Eendag lê nie doer ver in die toekoms nie, Eendag is hier. Eendag is nóú. Mens moet Eendag gryp voordat Eendag by jou verbyglip en jy met jou hande ledig in jou skoot bly sit. Game over.

Kristel Loots en Alta Cloete in feestelike luim.

5. Glo jy in love at first sight?

Dit hang baie af hoe groot die behoefte na ’n ander helfte is. Soms gebeur dit dat jy met ’n verkyker die omgewing verspied, dringend op soek na ’n liefde vir jou lewe. Nou! Dadelik! Want almal om jou is getroud of geholpe en jou biologiese wekker gaan mal.

En dat juis die verkeerde man op die ‘regte’ tyd sy verskyning maak en jy jou ’n stralekrans om sy kop verbeel.  Love at first sight is soms niks anders as wensdenkery of desperaatheid in geskenkpapier nie.  Maar in ’n storie is alles natuurlik moontlik.

6. As jy ’n boek saam met iemand anders moes skryf, wie sou dit wees?

’n Boek oor films saam met Leon van Nierop.

Ek is mal oor die manier waarop hy van die heup af skiet daarmee en sy humoristiese beskrywings en vergelykings. Miskien mag ek dan ook iets kwytraak oor die temas en geloofwaardigheid van die sepies wat die volk en nasie (myself ingesluit) blykbaar so bekoor.

7. Dink jy dat jy in die regte era gebore is? In watter era sou jy wou leef?

Ek weet nie. Dinge raak soms woes.

Ek klink seker ’n bietjie na ’n Sondagskooljuffrou, maar ek verlang eintlik ’n bietjie na ’n tyd toe kinders – en selfs hul ouers – vroegaand na Heidi en Liewe Heksie kon kyk, nie na nare grootmensstories, wat nie bedoel is vir sensitiewe kykers of onskuldige kleine muisies, grote ore nie.

Soms verlang ek selfs heimlik na ’n paar (skadelose) heilige koeie wat eerder maar onaangeraak in vlak grafte gelos kon word.

In watter era sou ek graag wou leef? Dieselfde tyd as Rubens. Sodat hy my in die bad kon skilder en groot geld met my beeltenis maak. Dan kon ek en ander vroue met oorvloedige figure vir ’n verandering die ‘hot girls’ wees.

8. Beskryf vir ons jou idee van ’n lekker date.

  • Enige plek, enige tyd, ’n vertrek oorvol mense.
  • ’n Paar oë wat na joune soek. Joune. Wat na jóú kyk.
  • Om midde-in daardie geroesemoes uitgesonder te word.
  • Aan die skouer geraak te word, ’n asem in jou nek te voel en te besef vir daardie oomblik, vir daardie persoon, is jy spesiaal. Jy!
Die agtervolger (1998) is Kristel Loots se heel eerste liefdesverhaal.

9. As iemand jou hart wil wen, wat is 3 eienskappe wat hulle moet hê?

  • Hy moet my rug kalmerend ‘krap’ wanneer ek sukkel om aan die slaap te raak.
  • Asseblief nie vir my lieg nie, nie eens ’n witleuentjie vertel nie. Vertroue wat verloor is, word nie sommer weer gevind nie. Indien ooit.
  • Genoeg geld hê. Te veel is ook oukei, maar te min is nie maklik nie.

10. Wie is jou fliek/boek-boyfriend?

Hier bestel ek ietwat van ’n cliché cocktail, asseblief.

Ietsie van die sluimerende sexy-geit van ’n sedige Colin Firth, vermeng (shaken, not stirred) met die sensuele bad boy-sensualiteit van Hugh Grant.  En dan is daar natuurlik George (ek noem hom op sy naam). Soos in Clooney, ’n all- time favourite.

Haar lesers verlekker hulle aan Kristel Loots se humoristiese skryfstyl wat soms aan die tragikomedie raak. Kristel skryf ook verhale en artikels vir verskeie vrouetydskrifte. Eendag is nou is Kristel se negende liefdesroman.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Eendag is nou Interviews Kristel Loots LAPA LAPA Uitgewers Onderhoude


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments