C

Gaan Kayla se lewe ooit weer oukei wees na Die Ramp? Lees ’n uittreksel uit Toe ons in Ghrieshuis was deur Maretha Maartens
 More about the book!

In haar jongste jeugroman, Toe ons in Ghrieshuis was, vertel Maretha Maartens ’n deernisvolle verhaal oor verlies, hoop en geloof.

Alles het vir Kayla en haar familie verander toe hulle geliefde huis heeltemal afgebrand het en haar pa, ’n motorwerktuigkundige en kranige fotograaf, sy sig verloor het.

LAPA Uitgewers het ’n uittreksel gedeel uit Hoofstuk 2 waarin Kayla wonder hoekom juffrou Marthie met haar wil praat …

Lees die uittreksel:

~~~

Die stoel waarop ’n mens sit en wag totdat juffrou Marthie met jou kan kom praat, kraak verskriklik. Ek wil nie hê dat sy my bewegings van buite af moet hoor nie, maar ek wil weet hoe my oë regtig lyk. En my skoolrok. Ek dink ek ruik dit nog steeds, want die rok het ’n reuk.

Dalk is dit waarom juffrou Marthie een van die vensters aan die stoep se kant oopgemaak het. Elke donker wolk het ’n silwer randjie. My skoolrok ruik snaaks, daarom is die venster oop, daarom kan ek juffrou Marthie met een van die kinders se ma’s hoor praat. Daarom sal ek hoor wanneer die gesprek verby is.

Die tennisskoene aan my voete het voorheen aan ’n ander meisie behoort, die sportsokkies ook. Ons het ’n boks vol kouse van die klerebank gekry en tannie Mollie wat die goed daar verkoop, het geweier om geld daarvoor te aanvaar.

Die eerste skooluniform wat ons uit die klerebankvoorraad aangekoop het, het ondertussen te klein vir my geword. Dié een was nommer twee. Tannie Mollie wou dit sommer vir ons gee, maar Mamma het die geld net eenvoudig op die toonbank voor haar neergesit.

‘Die prys is billik genoeg, Mollie,’ het sy nog gesê.

Dit was die een item wat ons nie by die klerebank moes gekoop het nie. Tannie Mollie het dit saam met ’n skoolhemp vir Daniël en skoene vir Andreas in ’n groot plastieksak gesit. Ek het eers by die huis besef dat die vreemde, muwwe reuk wat ek in die klerebankkamertjie geruik het, aan dié rok kleef. Ek hét iets soos nat hond geruik toe tannie Mollie die skoolrok teen my skouers en rug gehou het, maar my aandag was by Andreas wat met te groot skoene aan sy voete by my verbygekom het: ‘Ek sal hulle mos ingroei, nè, sussie?’

Die nathondreuk in my skoolrok is nes ’n kerrievetkol op ’n wit toppie. Kerrievlekke wil nie verdwyn nie.

Ek het Pappa ook Maandagoggend aan die rok laat ruik.

‘Ruik Pappa ’n nat hond?’

‘Ek ruik niks nie,’ het hy my verseker. ‘Of, wag. Ek ruik die see en die son.’ Maar dalk wou hy my ook maar net oukei laat voel.

Ek het mos ook heeltyd vandat hy uit die hospitaal gekom het, probeer om hom oukei te laat voel.

‘Is Pappa oukei vandag?’

‘Natuurlik, my kind. En jy?’

‘As Pappa oukei is, is ek oukei.’

‘En as jy oukei is, is Pappa oukei, my meisiekind.’

Die moeilikste ding op die hele aarde is om oukei te klink as die hele lewe nie meer oukei is nie.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts Jeugroman LAPA LAPA Uitgewers LUCA Maretha Maartens Toe ons in Ghrieshuis was


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments