‘Ek … ek het weggeloop. Ek het nêrens anders om te gaan nie’: Lees ’n uittreksel uit Toe als groen was deur An-Mari do Carmo
More about the book!
LAPA Uitgewers het ’n uittreksel gedeel uit Toe als groen was deur An-Mari do Carmo – ’n aangrypende grootwordverhaal gebaseer op ware gebeure by die KwaSizabantu Sendingstasie in KwaZulu-Natal.
Op haar agtiende verjaarsdag loop Marné weg van die huis af. Weg van Die Sending waar sy grootgemaak is tussen groen valleie. Weg van die kultus met hulle tienduisend reëls wat haar hele lewe beheer.
Sy begin ’n nuwe lewe by haar tannie in Klerksdorp en probeer leer hoe om ’n doodnormale meisie te wees. Maar na jare van breinspoeling en manipulasie is dit nie so maklik om weg te breek van die sendingdogtertjie wat sy eens was nie.
Lees die uittreksel:
~~~
Wegloopkind
Toe die syfers op my horlosie oorgaan na 00:01 breek die nuwe jaar aan, en ek verjaar. Ek trek vir die eerste keer my asem as agtienjarige in en ontsnap deur die gat wat ek in die heining gemaak het.
Agter my, diep in die Vallei van Duisend Heuwels, lê die Sederboom Sending stil en donker. Kilometers huise en rondawels, paaie na die groenteplase. Die massiewe ouditorium, die skool en sportveld, die winkel, die vliegveld in die middel van als.
Ek staan vir ’n oomblik en kyk terug na die plek waar ek grootgeword het. Die plek waarvoor my ouers alles opgegee het toe ek net vyf was. Waar my kleinsussie Lielie gebore is. As ons ooit ‘n lewe buite hierdie tronk gehad het, kan ek dit nie onthou nie.
Neem ek die regte besluit?
Daar, ’n paar meter van die grensdraad af – dis mos ’n flitslig … Sekuriteit!
Ná ’n wilde rondkykery sien ek ’n groot boom ’n entjie weg en beweeg so stil en vinnig as moontlik tot agter die dik stam, dankbaar vir die maan wat agter ’n wolk inskuif.
My hart is in my keel. Ek durf nie asemhaal nie. As die sekuriteitsbeampte my sien …
Swaar voetstappe kom nader en die flitslig weerkaats links en regs van my verby.
Ek maak my so klein as moontlik agter die boom, want ek wil nie uitvind wat gebeur met kinders wat probeer wegloop en gevang word nie.
Die voetstappe word stil. Hy het die gat in die heining gekry. Flip, ek het nie tyd gehad om dit weer toe te maak nie.
’n Radio kraak en die wag sê iets in Zulu wat ek nie mooi vang nie.
Ek hou my asem op.
Die voetstappe beweeg weer verder weg en verdwyn.
Ek blaas my asem stadig uit. Toe ek die flitslig nie meer sien nie, stoot ek my van die boom af weg en begin die vyf kilometer grootpad toe stap sonder om terug te kyk. In my rugsak is elke sent wat ek die laaste jaar gespaar kon kry, ’n paar stukkies klere, padkos, ’n bottel water, ’n paar foto’s en
my Bybel.
Terwyl ek stap, gaan ek weer my plan deur. Stap van hier af tot by die grootpad. Dit sal seker ’n uur of twee vat. Neem dan ’n taxi tot in Durban – as daar taxi’s is hierdie tyd van die nag. Die vroegste bus vertrek om 07:30 in Durban, en dan is dit nege uur tot in Johannesburg. Van daar af die volgende bus vir nog drie uur tot in Klerksdorp.
Die koevert met die adres op is veilig in my rugsak, al het ek dit lankal gememoriseer. Dit is in ’n Noordwes-dorp waarvan ek nog nooit gehoor het nie, maar wat my enigste hoop geword het. Die brief wat binne-in die koevert was, was in stukkies geskeur toe ek dit in my pa se kantoorasblik sien lê het. Ek kon nie als uitmaak nie, net ’n paar woorde: ... kom weg daar, vir jou dogters se onthalwe. Asseblief, Boet, ek smeek …
My pa se sussie is net ’n vae herinnering, die laggende gesig van ’n vrou wat my as klein dogtertjie op haar sagte skoot getel en gekielie het. Toe kom daar ’n skielike leemte in ons familie. Gefluisterde gesprekke waarin ek net ’n naam kon hoor. Oproepe wat beantwoord en dan dadelik doodgedruk word.
’n Handjie vol herinneringe, afgeluisterde gesprekke, opgeskeurde briewe, en ’n gesteelde adres, sewe honderd kilometer ver. Dis al wat ek het; my enigste kans om ’n lewe van my eie te hê.
Dis al laat in die aand toe ek die klokkie by die hek lui. Toe my vinger aan die knoppie raak, gee my knieë in en ek sak op ’n klip langs die hek neer. My maag kla kliphard en ek sal my linkernier gee vir ’n stort. As ek net ’n rekkie gehad het om my reguit donkerbruin hare vas te maak. Ek voel vuil en gross.
Dit was die langste nag en dag van my lewe. My hande bewe nou nog; die vrees wat op die lang reis my longe vasgedruk het, se krampagtige houvas het nog nie verslap nie.
Ná ’n ruk kraak ’n vrou se stem oor die interkom.
‘Hallo?’
Ek skrik. My bene wil nie werk nie, maar ek dwing myself regop om by die interkom uit te kom.
‘Tannie Minette?’ My stem kraak in my droë keel.
‘Ja?’ kom die stem huiwerig. ‘Wie is daar?’
‘Marné.’ My stem breek. Ek maak keel skoon en probeer weer. ‘Dis Marné Lindeque, Tannie. Jou broer Jacques se dogter.’
Dit is vir ’n rukkie stil. ‘Is jy ernstig?’
‘Ja, Tannie. Ek … ek het weggeloop. Ek het nêrens anders om te gaan nie.’ My stem wil-wil weer breek en ek sluk hard. Ek gaan nié nou huil nie. Nie nou al nie.
‘Ag dankie, Here, dankie …’ ’n Snik klink oor die interkom op. ‘Ek maak die hek oop. Kom in, my kind.’
~~~
Categories Afrikaans Fiction South Africa
Tags Afrikaans An-Mari do Carmo Boekuittreksel Book excerpts Book extracts LAPA LAPA Uitgewers Toe als groen was