C

Die liefde lê die wêreld vol in vier splinternuwe Romanzas! Plus, wen ’n Romanza-geskenkpak (31 Aug)
 More about the book!

Nuut by LAPA! Vier nuwe liefdesverhale deur Elsa Winckler, Dina Botha, Zinèt Oosthuizen en Elsa Drotsky. Plus, een gelukkige leser kan vandeesmaand wegstap met al vier boeke en ’n LAPA-geskenkbewys ter waarde van ’n R1,000! Lees verder om meer uit te vind.

’n Hart wat pas deur Elsa Winckler

Een soen kan jou lewe verander …

Die liefde en warmte van die Steyn-gesin waarvan Sabella deel geword het toe haar broer met hulle dogter getroud is, is nie iets wat sy ken nie. Sy het hoë mure om haar hart en baie slotte aan haar voordeur om seker te maak sy is veilig en kry nie weer seer nie.

Alles verloop seepglad totdat Hardus Steyn, ’n hartebreker en wingerdboer, haar soen. Hardus is ’n man wat dinge wil doen, probleme oplos en sy geliefdes beskerm en help. Trou en kinders kry was egter nog nooit deel van sy toekomsplanne nie. Totdat hy vir Sabella Morkel soen.

Skielik het hy ’n hart gekry wat by syne pas, maar is hy bereid om al sy planne te verander ter wille van liefde?

Oor die outeur

Elsa skryf sedert 2008 en sy is mal oor liefdesverhale, veral wanneer ’n soenery betrokke is – tot haar drie kinders se groot verleentheid. Manlief gee gelukkig glad nie om nie. Wanneer sy nie oor die liefde skryf nie, speel sy met haar kleinkinders, brei of verken een van die baie paadjies langs die see. Saans en naweke sal jy vir haar en haar man voor die televisie kry. Sy is dol oor haar kinders en versot op haar kleinkinders. Niks verskaf vir haar groter vreugde as om kos te maak vir hulle vir wie sy lief is nie.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Dit lê die wêreld vol deur Dina Botha

Moet die mag van liefde nooit onderskat nie …

Sosiale vlinder en beïnvloeder, Demi Leigh Henkel, is gewoond om aandag te trek. Toe ’n uiters aantreklike vreemdeling op ’n vlug nie eens in haar rigting kyk nie, vererg sy haar vir hom. Sy neem ’n selfie van haar en die slapende man en plaas dit op haar sosiale platform met ’n katterige aanmerking daarby.

Dokter Paul Krynauw spoor haar op en noem haar ’n sosiale verpesting wat mense se lewens verwoes. Sy besluit om twee weke by sy kliniek deur te bring met die idee om nie net die befoeterde dokter se persoonlike lewe te verander nie, maar ook sy persoonlikheid.

Min weet Demi Leigh dat Paul haar lewe op sy kop gaan draai en haar hart in sy hande gaan hou.

Oor die outeur

Dina Botha glo liefde is soos om ’n klippie in ’n poel water te gooi. Die rimpeleffek kan nie anders as om ander mense se lewe te raak nie. Daarom skryf sy al vir 11 jaar liefdesverhale. Sy is in Pretoria gebore en woon in Centurion. Op skool het sy Ena Murray, Elmar Steyn en ander bekendes se boeke verslind.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Liewer as lief deur Zinèt Oosthuizen

Kan liefde alle struikelblokke oorkom?

Anika was maar al te bly toe Ivan, haar vriend, so vinnig vir hul albei werk gekry het by die magtige eiendomsmagnaat, EVS. Dinge het aanvanklik goed begin, totdat die ontwikkelaar, Hugo, Anika se voete onder haar uitslaan.

Anika sukkel om ʼn balans te vind tussen haar nuwe werk en haar gevoelens vir Hugo. Wat sy nie besef nie, is dat daar veel meer in die familiebesigheid skuil. Hugo is nie wie hy sê hy is nie, en Ivan is nie die vriend wat sy gedink het sy ken nie.

Boonop is daar ʼn ondersoek na bedrog geloods en Anika is die hoofverdagte. Hoe sal die nuutgevonde liefde die stryd wen tussen al die misverstande, leuens en korrupsie?

Oor die outeur

Zinèt Oosthuizen het al op ʼn vroeë ouderdom die droomwêreld van lees ontdek en was op skool en universiteit die redaktrise van hierdie instansies se koerantjies. Sy het haar droomman op universiteit ontmoet en haar tuisdorp in Natal verruil vir die lewe in Gauteng saam met haar man en hul geskenkie-kind. Alhoewel sy baie lief vir taal-aktiwiteite is, spandeer sy die meerderheid van haar tyd as finansiële bestuurder. Sy spandeer haar vrye tyd met die aangename en eenvoudige dinge van die lewe, hou van kuns en wanneer sy met vakansie gaan, is dit met ‘n paar romantiese liefdesverhale heelbo in die tas gepak! Sy geniet dit om gereeld deur verhale weg te breek van die gejaag van die syferwêreld.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Paradyseiland deur Elsa Drotsky

Liefde kom onverwags …

Anabel Verhage is die enigste dogter van welgestelde ouers en het pas klaar studeer. Sy gaan kuier by haar tante Jinni op die Seychelle terwyl sy werk soek op die internet, min wetende dat sy meer as net werk op die eiland gaan ontdek.

Dokter Jerome D’Espeville is geskei en het ʼn vyfjarige dogtertjie. Hy woon saam met sy geliefde stiefma, Jinni, in ʼn groot plantasiehuis op die eiland. Hy is nie haastig om weer te trou nie, al het sy teatersuster haar oog op hom.

Anabel se teenwoordigheid in die huis kom krap Jerome se kop heeltemal deurmekaar. Saam met haar ontdek hy weer die ligter sy van die lewe en begin hy weer in liefde hoop. Maar sal Anabel sy verlede en kind aanvaar en ’n kans op geluk waag?

Oor die outeur

Elsa Drotsky skryf wanneer sy tyd daarvoor het. Dit is nou wanneer sy nie by die kerk help om ’n vreugdevolle geraas van musiek en sang te maak, of met familie en vriende se bedrywighede besig is nie. Tyd vir lees en ’n gevroetel in die tuin bly steeds haar voorkeure. Maar om te skryf is heerlik. Sonder die belangstelling en aanmoediging van lesers sal dit egter baie moeilik wees. Dankie aan almal wat die flikkerende vlammetjie aan die gang hou.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Plus, kompetisietyd!

Hoe goed ken jy jou Romanza-boeke? Neem deel aan LAPA se Raai-Raai-Romanza kompetisie om uit te vind! Op die spel? ’n Romanza-geskenkpak met hierdie maand se vier pragtige Romanzas PLUS ’n LAPA-geskenkbewys ter waarde van ’n R1,000! Die kompetisie is geldig tot 31 Augustus 2022.

Bepalings en voorwaardes geld.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags ’n Hart wat pas Afrikaans Competitions Dina Botha Dit lê die wêreld vol Elsa Drotsky Elsa Winckler LAPA LAPA Uitgewers Liewer as lief New books New releases Paradyseiland Raai-raai Romanza Romanza Wen Win Zinèt Oosthuizen


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments