C

Die liefde is onbeperk in vier nuwe Romanzas, nou beskikbaar by LAPA!
 More about the book!

Nuut by LAPA – liefde sonder perke in vier nuwe Romanzas deur Marilé Cloete, Didi Potgieter, Jeanette Stals en René van Zyl.

Liefde onbeperk deur Marilé Cloete

Hy is nie van plan om sy hart te verloor nie.

Estelle dra steeds swaar aan die een groot fout wat sy in die verlede gemaak het. Daarby is sy ’n ekstrovert wat bitter swaar kry tydens inperking, terwyl sy ook nie haar beroep as skoonheidsdeskundige mag beoefen nie.

Bernard kan van die huis af werk, maar die alleenheid van sy woonstel kry hom onder. Toe hy die kans kry, woon hy die braai by Estelle se suster-hulle by, hoewel hy goed weet dis onverantwoordelik.

Wanneer hy siek word, gebruik hy die kans om by Estelle te gaan aansterk, aangesien sy by dieselfde partytjie was. Daar span hulle saam; haar sangtalent en sy tegnologiese kennis help om haar wanhopige finansies te beredder. Maar hy is nie van plan om sy hart op die vurige donkerkop te verloor nie.

Oor die outeur

Marilé Cloete is Alta Cloete se romanse-skrywersnaam. Marilé het laat in haar lewe begin skryf. Dit bring groot uitdagings, maar ook nuwe visie, energie, vriende en bevrediging.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Hart van klip deur Didi Potgieter

Die vonke spat behoorlik …

Christi is die jongste lid van die suksesvolle Country-groep, Steely Susters. Haar skoonheid laat die meeste mense twyfel in haar talent en sy is daarop uit om hulle verkeerd te bewys. Na haar vorige verhouding traumaties geëindig het, weet sy dit is nou haar kans om op haar loopbaan te fokus.

Dan loop sy weer vir Richard Barret raak. Die sexy Ierse musikant en een van die grootste foute van haar lewe. Sy weet dit is die beste om heeltemal uit sy pad te bly, maar wanneer ’n familietragedie dié twee forseer om saam op Steely Hills te bly, spat die vonke behoorlik!

Hart van klip is Didi Potgieter se derde boek in die gewilde Harte-reeks. Didi neem ons op reis na Ierland en ons maak selfs ’n draai by die Parkers (haar vorige reeks se karakters) se befaamde bal. Die heldin se voorkoms is op Katryn Kruger, ’n baie bekende sosiale media persoonlikheid en ’n kennis van die skrywer, gebaseer.

Oor die outeur

Didi Potgieter woon op Potchefstroom. Haar eerste Romanza, Leer my liefhê, verskyn in Januarie 2014 en daarna sien vele ander Romanzas die lig. Met soveel onvertelde stories in haar kop en hart, hoop sy om dit nog lank te kan doen. Didi wen die ROSA Imbali-toekenning met Liefde vir ’n ridder en was al twee keer ’n finalis vir die ATKV-Woordveertjiesprys vir romanse.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Om te vlieg deur Jeanette Stals

Veg, vlug of vlieg?

Meriet vlug uit Upington om te ontsnap van die hartseer van haar mislukte huwelik en kry werk op ’n wynplaas in die Paarl. Maar haar tyd op die plaas word versuur deur ’n gesofistikeerde Kapenaar in die kantoor.

Die wynmaker, daarenteen, voel blykbaar net in die koue, steriele kelder tussen die wynvate tuis. Dis gek om aangetrokke te voel tot só ’n man. Boonop is alles nie pluis met die eienaar van die landgoed nie en Meriet moet fyntrap om nie haar eie toekoms op die spel te plaas nie.

Oor die outeur

Afgetree uit die onderwys, en werksaam as toergids en gastehuis-eienaar, konsentreer Jeanette Stals op haar skryfwerk. Omdat sy graag misdaadfiksie lees, begin sy haar toespits op die spanningsgenre. Haar eerste boek in die reeks met Luna as hoofkarakter, Katoog, verskyn in 2016. Sedertdien skryf sy ook romanses en historiese fiksie.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Strandwolf deur René van Zyl

Gaan haar verlede haar inhaal?

Met haar donker hare, vreemde rituele en Rooihuid-bloed, vlug Tala Robberts van vreeslike herinneringe en mense wat haar jongmenslewe gesteel het. Sy land met haar vyfjarige seuntjie op ’n stranddorpie, Strandloper, waar sy net alleen gelos wil word.

Die jong predikant op die dorp is egter gefassineer deur haar vreemdheid en spiritualiteit, terwyl ’n regte wildewragtig-strandloper haar nuuskierigheid aanwakker en haar hart bokspronge laat maak.

Voor sy haar kan keer, is sy stewig gewikkel in almal se wel en weë en haar emosies is ’n warboel. Watter keuse sal sy maak om vir haar en veral haar seun die regte toekoms te verseker? Gaan sy die foute van die verlede herhaal of gaan daardie verlede haar eendag inhaal?

Oor die outeur

René van Zyl is ’n oudjoernalis, skrywer en blogger wat teen die hange van die Magaliesberg in Hartbeespoort vir haar ’n nessie uitgegrawe het. Sy geniet dit veral om plaaslike gemeenskapsmusiekblyspele te skryf en op die planke te bring. Haar buite-die-boks man, twee dogters en seun is die groot liefdes in haar lewe en ook haar grootste inspirasie. Haar oudste seun is breingestremd en die lewe saam met hom het haar geleer om daaglikse uitdagings met genoegsame humor aan te pak. Sy glo onwrikbaar in die liefde en gelukkige eindes.

Ook beskikbaar as e-boek:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Didi Potgieter Hart van klip Jeanette Stals LAPA LAPA Uitgewers Liefde onbeperk Marilé Cloete New books New releases Om te vlieg René van Zyl Romanza Strandwolf


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments