C

Die liefde blom behoorlik in vier nuwe Romanzas deur Madelie Human, Louise van der Merwe, Marile Cloete en Bets Smith!
 More about the book!

Dis heerlike lente … en LAPA Uitgewers stel bekend vier lekkerlees-liefdesverhale!

Blom van sy hart deur Marilé Cloete

Blom van sy hartLiefde maak twee harte een …

Christeline is pas terug ná sy haar Doktorsgraad in Noorweë verwerf het. Haar prioriteite vir die toekoms is eenvoudig: ’n suksesvolle akademiese loopbaan, en om die vervreemding van haar ouers te verwerk. Maar Chrissie se vriendin, Beth, en die res van die vriendegroep het egter ander planne.

Rodney mag op die oog af net die mede-eienaar van ’n tuindiens wees en daarby ’n oppervlakkige grapjas, maar dié wat hom ken, weet dat daar meer in hom steek as wat hy voorgee.

Op ’n lentebesoek aan Namakwaland doen die groep vriende hulle bes om Kupido te speel. Chrissie en Rodney wil egter nie ingee teenoor mekaar nie en probeer om die aantrekkingskrag tussen hulle te ignoreer. Die mag van ’n blom moet egter nie onderskat word nie.

Oor die outeur

Marilé Cloete is die skrywersnaam wat Alta Cloete gebruik wanneer sy haar hand aan ’n romanse waag. Dit word bloot gedoen om genres te skei, sodat die leser weet van Marilé kry sy romanses en van Alta kry sy (liefdes)romans. Alta woon in die Paarl en het betreklik laat in haar lewe voluit begin skryf. Nou is daar nie sprake van ophou nie. Skryf maak die leë nes (tot ’n mate) vol en hou depressie op ’n afstand. Skryf bring groot uitdagings, maar ook nuwe visie, nuwe energie, nuwe vriende en ongelooflike bevrediging.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Ontydig deur Madelie Human

OntydigLiefde is tydloos …

Juliette het altyd gedink haar oupa se stories oor sy silwer sakhorlosie wat magiese kragte beskik was sommer versinsels. En toe beland sy in die een en twintigste eeu nadat sy en Juli, haar nasaat van driehonderd jaar later, plekke geruil het.

Luan Beukes het sy hande vol met die vrou wat sy aangenome suster se plek kom inneem. Hy ontdek dat hy dit geniet om haar touwys te maak oor die ingewikkeldhede van die hede, want hierdie vrou maak iets in hom wakker wat hy nooit te wagte was nie.

Juliette ontdek op haar beurt weer ’n innerlike krag en begin stadig maar seker aanpas in die moderne wêreld. Boonop begin sy vir Luan leer ken en dis nie lank voor hy haar hart behoorlik by haar vreemde nuwe klere wil laat uitspring nie. Dalk was die omruiling toe nie so ontydig nie …

Oor die outeur

Skryf was nog altyd ’n deel van Madelie Human se lewe, maar sy het eers op vyftig ernstig begin skryf. ’n Vriendin het haar uitgedaag om fiksie te skryf, en romanse was die logiese keuse omdat dit haar gunstelinggenre is om te lees. In 2008 publiseer LAPA haar eerste Romanza en dit wen ’n Woordveertjie. Madelie is nou ’n gevestigde skrywer met meer as dertig Romanzas op haar kerfstok.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

‘n Ridder vir Améli deur Bets Smith

'n Ridder vir Ameli‘n Ware liefdesverhaal het geen einde nie …

Vlak vyf van grendeltyd vang Améli de Klerk onkant. Ingeperk in ’n dakwoonstel in die middestad met kunsvoorraad wat boomskraap is en vinnig krimp. Alleen met haar kat, beklem die verlate stadstrate haar totdat sy ’n onverwagse ontsnappingsroete ontdek na ’n ander wêreld waar sy haar droomheld ontmoet.

Gideon Barnard is ’n sakeman en mede-eienaar van ’n familiebesigheid, ’n helikoptervlieënier en fotograaf. Hy is dinamies, intelligent en ’n man wat weet wat hy uit die lewe wil hê.

Vir Améli is hy die man van haar hart en herontdek sy haar skeppingsvermoë saam met hom. Maar kan die droomman die werklikheid oorleef?

Oor die outeur

Haar lewe lank ’n ywerige leser, begin Bets Smith skryf omdat sy aan haarself wou bewys sy kan. Ná die aanvaarding van haar eerste manuskrip het sy aanhou skryf want sy glo in die liefde en in gelukkige eindes en voel mense het nodig om herinner te word dat die goeie nog kan seëvier. Ná haar aftrede uit die onderwys verhuis hulle in 2018 na die Suidkaap waar daar netsoveel inspirasie is as in die Laeveld. ’n Man wat haar giere en geite verstaan, twee getroude kinders en vyf kleinkinders is al wat sy daarby nodig het. Ondanks ’n bedrywige program skryf sy tans voltyds en fokus veral op spanningsverhale. Tog bied die skryf van romanses ’n welkome afwisseling want goedvoelstories gee haar kans om te wys ware liefde kan alles oorkom. Sedert haar eerste poging het 29 boeke verskyn: 21 romanses, 2 historiese liefdesromans, 1 superromanse en 5 spanningsromans.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Oorfone en oefenfietse deur Louise van der Merwe

Oorfone en oefenfietseLiefde kan enige uitdaging oorkom …

Karli Visser is ‘n radio-omroeper, binnekort dertig jaar oud, en nie meer seker of sy lus is om haar gemaklike lewe en spasie met iemand anders te deel nie. Maar haar kollegas en vriende het ander planne en voor sy kan keer is sy in die middel van ‘n realiteitsprogram besig om te swoeg en sweet om 20 kg te verloor met een van die sexieste Bachelors in Bloemfontein.

Sybrand Naude is ’n biokinetikus by ’n vooraanstaande hoërskool. Hy geniet sy werk, maar sy groot droom is om eendag sy eie praktyk te hê. Dalk is hierdie openbare sirkus saam met Karli en haar radioprogram net die afskop wat hy nodig het. ’n Vrou soek hy nie, want hy het gesien hoe liefde sy broer gebreek het.

Al probleem is dat Sybrand totaal en al hopeloos in die taal van die liefde is, en veral oor vrouens oor die algemeen. Gaan Karli hom uit sy penarie kan red sodat hy ook geluk kan vind of is hy ’n verlore saak?

Oor die outeur

Louise van der Merwe het van haar tienerdae af haar neus in ’n boek. Om eendag haar eie boek vas te hou het ’n ontwykende droom geword waaraan sy hardkoppig vasgeklou het. Sy’s met haar eie held getroud en is steeds dolgelukkig ná drie woelige kinders. Sy’s ook mal oor liefdesverhale want liefde is mooi, lekker en raak nooit oud nie!

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Sluit vandag nog aan by die RomanzaKlub…

RomanzaKlub-lede ontvang elke maand twee Romanzas vir slegs R130. Plus, bestel jou derde en vierde Romanza vir slegs R50 elk en kry 50% afslag op alle SuperRomanza-boeke!

Kom gesels saam oor die liefde op die RomanzaKlub se Facebook-groep!

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags 'n Ridder vir Ameli Afrikaans Bets Smith Blom van sy hart LAPA LAPA Uitgewers Louise van der Merwe Madelie Human Marilé Cloete New books New releases Ontydig Oorfone en oefenfietse Romanza RomanzaKlub


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments