C

Die hart soek wat hy (of sy) soek in 5 splinternuwe Romanzas – nou op die rakke!
 More about the book!

Nuut by LAPA in die maand van liefde – vyf nuwe liefdesverhale deur René van Zyl, Frenette van Wyk, Analize Viljoen, Dina Botha en Lizelle von Wielligh!

Die hart soek wat hy soek deur René van Zyl

Hierdie keer sal sy nie vir sy sjarme val nie. Maar die hart soek wat hy soek …

Elizma Victor werk baie hard om vir haar jong seun, Luka, ʼn goeie ma te wees en om hom te beskerm. Hulle huisie by die see behoort hom veilig te hou van die lelik in die wêreld wat haar al vir jare teister. Sy sal seker maak hy word nie blootgestel aan hartseer of swaarkry nie. En Luka gaan nooit, ooit sy pa ontmoet nie.

ʼn Werksgeleentheid lok Elizma Hermanus toe. Die misterieuse skrywer, Zander Adlam, wil hê sy moet drie van sy boeke vertaal, maar sy weet niks van die man af nie. Hy is ʼn hermiet en lyk haweloos, maar sy kon haar nie voorberei op hoe bekend sy oë is nie. Alexander Adendorff, Luka se pa en haar jeugliefde, het haar weer gevind en dis asof die jare se seer verdwyn soos seeskuim.

Hierdie keer sal sy egter nie vir sy sjarme val nie. Sy moet haar hart verhard, hom op ʼn afstand hou en fokus op haar werk. Sy moet ook haar kind van hom weghou. Maar die hart soek wat hy soek …

Oor die outeur

René van Zyl is ’n oudjoernalis, skrywer en blogger wat teen die hange van die Magaliesberg in Hartbeespoort vir haar ’n nessie uitgegrawe het. Sy geniet dit veral om plaaslike gemeenskapsmusiekblyspele te skryf en op die planke te bring. Haar buite-die-boks man, twee dogters en seun is die groot liefdes in haar lewe en ook haar grootste inspirasie. Haar oudste seun is breingestremd en die lewe saam met hom het haar geleer om daaglikse uitdagings met genoegsame humor aan te pak. Sy glo onwrikbaar in die liefde en gelukkige eindes.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

In die naam van liefde deur Frenette van Wyk

As haar sprokiesverhaal ’n gelukkige einde gaan hê, sal sy daarvoor moet baklei.

Ná tien jaar daag Romain weer op by Kleinroosboom, die plaas waar Fleur met haar stiefma en twee stiefsusters bly. Fleur is steeds verlief op hom, maar Romain wil skynbaar net die magiese bos hê waar Fleur nou al jare bly, en hy is bereid om met enigeen van die drie dogters te trou om dit te kry.

Met die hulp van ’n towerstaf wat haar pa lank gelede vir haar gegee het, moet Fleur keer dat Romain nie met Danica of Nikita trou nie, dat sy haar bos behou, en ook haar grootse geheime bewaar.

Maar haar stiefma, Amelda, pers haar af. Sy verwag dat Fleur vir Romain oortuig om met Amelda self te trou, anders gaan sy Fleur se geheim verklap. As sy ’n gelukkig einde wil hê, weet Fleur dat sy daarvoor sal moet baklei.

Oor die outeur

Vir Frenette van Wyk beteken verhale skryf om iets uit jou hart te haal en lewe daaraan te gee. Die verhale bied vir haar net soveel opwindende ontvlugting en avontuur as vir haar lesers. Sy is ’n romantikus en skryf graag liefdesverhale met gelukkige eindes – iets wat grens aan die sprokiesagtige, en tog iets waarna elke vrou verlang en waarin hulle met hart en siel wil glo. Sy woon in Pretoria saam met haar man Etienne en is ’n trotse ouma.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Kleur en karamel deur Analize Viljoen

Waarheen sal jou hart jou lei as jy braaf genoeg was om te volg?

Wanneer ’n gebroke verhouding vir Hanri terugdryf na haar tuisdorp Swellendam, begin sy huise verf, vasberade om vroualleen ’n suksesvolle verfbesigheid staan te maak.

Op ’n projek ontmoet sy vir Lily, ’n nuweling op die dorp wat ’n koffiewinkel en bakkery kom oopmaak. Van die begin af is Hanri gefassineerd deur Lily, al probeer sy haar hart keer. Lily stel nie belang nie en vind nog haar voete ná ’n egskeiding.

Wanneer Hanri se beste vriend, Hein, vir Lily begin uitneem, lyk dit asof dié twee ’n verhouding aanknoop. Hanri wil nie vir Hein as vriend verloor nie, maar kan ook nie haar gevoelens vir Lily wegsteek nie. En vir derde wiel speel sien sy nie kans nie. Liefde is egter vreemd, en niemand kan voorspel waar die hart jou sal lei wanneer jy begin luister nie.

Oor die outeur

Nadat Analize Viljoen in vyf lande gebly het, is sy nou gevestig in haar klein huisie op ’n plot in Gordonsbaai. Sy skryf, kook kos van oral oor die wêreld en put vreugde uit haar mense, haar honde en die see. Sy kan nie ’n tyd in haar lewe onthou wat sy nie geskryf het nie.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Meer as net ‘n nag deur Dina Botha

Sy’s nie die tipe om te wag nie …

Ná Sureya haar loopbaan as plusgrootte model prysgegee het om haar eie reisagentskap te begin, wys sy vir haar verloofde ook sommer die deur. Die man se oog gly te maklik en sy sien nie kans vir ’n huwelik vol verwyt nie.

Nou begelei sy ’n groep ouer dames op ’n seereis aan boord die legendariese skip, Botanical, onder leiding van die bekwame en begeerlike kaptein, Chris Chandris. Dié aantreklike Griek laat knieë lam oral waar hy gaan, maar hoe is dit dan dat hy so gereeld oor Sureya se pad kom?

Is die kaptein net ’n kansvatter, of skuil daar iets meer agter sy belofte dat hy haar eendag gaan soen? Sureya is lankal nie meer die tipe om te wag vir eendag nie.

Oor die outeur

Dina Botha glo liefde is soos om ’n klippie in ’n poel water te gooi. Die rimpeleffek kan nie anders as om ander mense se lewe te raak nie. Daarom skryf sy al vir 11 jaar liefdesverhale. Sy is in Pretoria gebore en woon in Centurion. Op skool het sy Ena Murray, Elmar Steyn en ander bekendes se boeke verslind.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Soeter as tjoklits deur Lizelle von Wielligh

Kan sy meer verwag van liefde en die lewe?

Cecile se ma het altyd gewaarsku teen haar avontuurlustigheid, maar sy gaan beslis nie hierdie vreemdeling soen bloot omdat hy vra nie. Bygesê, die ongeluk was tegnies haar skuld, maar steeds, ’n dame het haar perke.

Nou verwag Blackie van haar om hom op sy plaas te kom rondkarwei terwyl sy been herstel. Haar aanstaande, Berno, keur dit glad nie goed nie, maar haar pligsbesef laat haar instem. Sy kan in elk geval doen met ʼn bietjie tyd om haar kop skoon te kry oor Berno en hulle huwelik.

Maar sal ses weke op Oorgenoeg saam met hierdie moeilike man die avontuurlus in haar blus? Wil sy steeds terugkeer na Berno en die toekoms wat daar wag?

Oor die outeur

Met ʼn BCom-graad agter haar naam, sou Lizelle von Wielligh nooit kon droom om die pen op te tel en te begin skryf nie, maar toe bring die Here ʼn onverwagse draai op haar pad wat haar meer vervuld laat as wat sy ooit kon droom. Deesdae vind sy dit baie meer stimulerend om haar gedagtes kreatief aan te wend, eerder as om syfers op die rekenaar te laat klop. Haar gesin kom altyd eerste in haar lewe. Sy is voltyds betrokke by haar kinders en is bevoorreg om ʼn ‘gelukkige einde’ saam met haar man te leef. As sy nie skryf nie, moet haar hande besig bly met ʼn handwerkie.

Ook beskikbaar as e-boek:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Analize Viljoen Die hart soek wat hy soek Dina Botha Frenette van Wyk In die naam van liefde Kleur en karamel LAPA LAPA Uitgewers Lizelle von Wielligh Meer as net 'n nag New books New releases René van Zyl Romanza Soeter as tjoklits


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments