C

Aandag, onnies! Voor jy ‘speel’ druk, lees die gratis uittreksel uit Leon van Nierop se praktiese filmstudiegids, Druk speel
 More about the book!

‘Geniet dié boek! Ek glo dit sal jou help om met al jou sintuie na ’n film te kyk – en met jou oë wawyd oop.’ So skryf Leon van Nierop in die Voorwoord tot Druk speel: ’n Filmstudiegids vir die klaskamer.

Druk speel is spesiaal geskryf om onderwysers te help om die hoe en wat van filmanalise beter te kan verstaan. Nie net help filmstudie met leerders se verbetering van visuele geletterdheid nie, maar dit bevorder ook kritiese denke. Volkleurfoto’s van Suid-Afrikaanse films word gebruik om filmiese aspekte te verduidelik.

Lees die uittreksel:

Voorwoord

Hierdie boek dien as handleiding vir veral onderwysers oor hoe om leerders by te staan in hul ontleding van (voorgeskrewe) Afrikaanse films. Die doel is ook om aan leerders in verstaanbare terme en taal te verduidelik waarna ’n mens moet kyk wanneer jy ’n film ontleed, maar veral om raak te sien watter hulpmiddels en gereedskap die regisseur gebruik om jou te manipuleer of te vermaak of ’n stelling te maak, hoekom hy dit doen en wat hy met elke effek bereik. Die sluier word ook gelig oor wat agter die skerms gebeur, wat ’n bepalende invloed op ’n skoot of toneel kan hê.

Daar word verduidelik hoe baie van die filmgereedskap aangewend word soos ’n beeldhouer ’n beitel gebruik (veral in kinematografie) om die finale produk of storie uit die geordende chaos daaromheen te bevry. Daar word verduidelik hoe elke stukkie gereedskap ingespan word en watter rol elke afdeling van die filmspan (én elke spanlid) speel om ’n effek te bereik. Daarom dra die span so graag met trots T-hemde wat verkondig dat hulle lede van die ‘crew’ is, want sonder hulle was daar nie ’n film nie! Hierdie handleiding probeer ook hul bydraes, veral in naproduksie – voordat jy ‘speel’ druk – verduidelik.

Daar word nie probeer om leerders (of onderwysers) op te lei in die kuns van film maak nie. Dít is filmskole se funksie. Daar word bloot na die noodsaaklike beplanning en werksaamhede agter die skerms, asook die invloed wat ’n beeld op ’n kyker het, gekyk en die invloed van elke afdeling verduidelik. Dit geld veral hoe selfs die skuif van ’n kamera die betekenis van ’n toneel heeltemal kan verander; ook wat ‘ruimte’ in ’n film beteken en hoe dit persepsies kan beïnvloed.

Daar is baie oefeninge waar leerders ná afloop van die boek self na enige toneel in enige film kan kyk en – met motivering – kan besluit of die toneel/film werk of nie. Dus probeer die boek jou aanmoedig om te dink terwyl jy kyk. Elke voorbeeld word ook prakties verduidelik, met die invloed wat byvoorbeeld ’n stelontwerper se rekwisiete op die uitwerking van die toneel en sodoende die kyker kan hê. Trek ’n voorwerp op ’n tafel jou aandag af of is dit integraal deel van die storie en die toneel?

Die onderwyser is die noodsaaklike tussenganger tussen leerder en film, en ’n fasiliteerder van feite, inligting en artistieke oorwegings of aanslag. Onthou, daar is selde ’n reg-of-verkeerdantwoord. Dit is die leerder en onderwyser se interpretasie wat belangrik is (vandaar so baie uiteenlopende resensies oor dieselfde fliek), maar dit moet te alle tye deeglik gemotiveer word. Deur bloot te sê ‘Dit het nie gewerk nie’ is ’n maklike, oorvereenvoudigde uitweg. Verduidelik hoekom dit nie gewerk het nie, of hoe jy as leerder of onderwyser ’n spesifieke skoot of toneel sou interpreteer deur byvoorbeeld die beligting te verander. Of selfs dat ’n akteur nie in sy rol pas nie en ’n karakter verkeerd interpreteer en vertolk.

Daar word veral ook klem gelê op ‘show, don’t tell’. Wys, laat dinge gebeur, maar elke element moet presies op die regte plek in die legkaart inpas, anders is die prentjie skeef omdat byvoorbeeld die klank dalk te hard, te sag of verwronge is.

Geniet dié boek! Ek glo dit sal jou help om met al jou sintuie na ’n film te kyk – en met jou oë wawyd oop. Dit maak fliekontleding, of bloot net fliek, ’n avontuurreis en pomp die brein vol visuele adrenalien en woema in plaas daarvan om terug te sit en net na prentjies te kyk.

Film is al beskryf as een van die mees onderskatte maar kragtigste en jongste kunsvorms. Druk speel probeer onderwysers help om dít aan leerders te verduidelik, maar hulle ook te lei en uiteindelik te vertrou om hul eie gevolgtrekkings en afleidings te maak.

Sien ’n skoot of toneel geheel en al as ’n storie op sy eie, met tientalle mense wat betrokke is om dit blokkie vir blokkie in te kleur en te versterk. Oorweeg ook presies wat elkeen doen en hoe ’n toneel sou gelyk het sonder hul bydraes. As daar een swak skakel in die ketting is, kan ’n hele toneel sink.

Daarom, vóórdat jy die ‘speel’-knoppie druk, lees en leer eers wat alles gebeur voor die beeld op die skerm flikker – hoe die filmmaakproses dikwels heeltemal onderskat of misgekyk word. Verstaan hoekom ’n toneel nie werk nie met voorbeelde en motiverings. En beoordeel hoe elke lid van die span se bydrae jou persepsie ten goede of verkeerdelik manipuleer of beïnvloed.

Ten slotte: ’n Groot woord van dank aan Nicola van Niekerk, Waldimar Pelser en kykNET, asook Homebrew Films vir toestemming om foto’s uit hul films te mag gebruik. My innige dank vir Kathie Viljoen met haar skerp oog en indringende vrae wat die teks in die regte rigting gestuur het.

– LEON VAN NIEROP

Categories Afrikaans Non-fiction South Africa

Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts Druk speel LAPA LAPA Uitgewers Leon van Nierop Uittreksel


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments