C

‘Mens moet altyd alles bevraagteken en jou verstand gebruik. Selfs in jou eie geloof’ – René van Zyl gesels oor Die Alfadokument
 More about the book!

René van Zyl se jongste samesweringsriller Die Alfadokument het verlede jaar by LAPA verskyn en vertel die verhaal van die Nikolaïete, ʼn berugte internasionale geloofsorde wat in Kaapstad gesetel is.

Nadat die stigter van die Nikolaïete sterf, erf sy twintigjarige dogter Michaela, ’n loskop sosiale vlinder, sy posisie én sy geld. Maar die oorblywende direkteure van die Orde is nie gelukkig hieroor nie, en beraam ‘n plan om Michaela uit die weg te ruim. Saam met ‘n Britse soldaat probeer Michaela om die hart van die Orde binne te dring en hul duistere geheime te ontbloot. Hierdie geheime is saamgevat in die verlore Alfadokument, wat hulle nou moet opspoor.

Cliffordene Norton het met René gesels oor die dodelike kat-en-muis speletjie.

Lees die onderhoud:

Godsdiens kan ’n baie sensitiewe tema wees. Het jy enige terughoudendheid ervaar om die tema aan te pak?

Nee, as die vrou van ’n oopkop predikant (’n verligte een boonop, met ses grade agter sy naam – dus is hy meneer Google self) het ek sowaar al alles gesien en gehoor wat met geloof, sektes en misleiding in die godsdiensarena te doen het. Ek is ook baie geïnteresseerd in boeke en rolprente met dieselfde temas, veral waar onderduimse sektes ontmasker word (in fiksie en in die werklikheid).

Sommige mense kan soos skape gelei word om ’n charismatiese leier of ’n ideologie te glo wat teen die meeste mense se gesonde intellek indruis. Dit fassineer my. Ek het met Die Alfadokument ’n fiktiewe geloofstelsel versin met vreemde reëls en regulasies en ’n wêreldwye gevolg geskep, maar tog kan dit sin maak vir sommige mense, op ’n vreemde manier.

En daar is regoor die wêreld mense wat vreemder sektes aanhang. Ek glo mense moet ingelig word van hoe maklik enige mens op ’n dwaalspoor gelei kan word. ’n Mens moet altyd alles bevraagteken en jou verstand gebruik. Selfs in jou eie geloof. Ondersoek alles en behou die goeie!

Ek is boonop ’n oudjoernalis en my motto bly steeds: Lig in, voed op, en vermaak. Ek glo ek dat ek inspireer. Dis belangrik.

Ek kan bysê dat ek jare gelede met die skryf van my eerste boek, Wee Monk’s Tale, the secret of immortality, alreeds in die geskiedenis van die Christengeloof gediep het.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Cliffordene Norton Die Alfadokument Interviews LAPA LAPA Uitgewers Litnet René van Zyl


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments