C

‘Ek het gegroei in my straf in en dis hoe dit gebeur het’ Lees ’n uittreksel uit Praat jy! deur Thérèse Hulme
 More about the book!

‘Wanneer jy vir leerders geleenthede skep om die outeurs van hul lewe te raak sal wonderwerke gebeur.’

Só skryf Thérèse Hulme in haar praktiese gids vir onnies, Praat jy! Idees vir die skep van ’n skryfkultuur in die klas.

In hierdie omvattende boek, nou ook beskikbaar in Engels as My Word!, vertel sy stories van die jongmense wat sy oor ’n tydperk van sewentien jaar aan die skryf gekry het in van die mees gemarginaliseerde gemeenskappe in die Wes-Kaap.

Laat haar narratiewe benadering jou inspireer om ook uit niks uit ’n skryfkultuur in jou klas te vestig.

Lees die uittreksel:

WONDERWERKE

Wanneer jy vir leerders geleenthede skep om die outeurs van hul lewe te raak sal wonderwerke gebeur. So onthou ek die dag toe Ashleigh van Rooy, wat na Grassy Park se Yoh!-groep gestuur is vir detensie, ’n gedig, ‘Hoe dit gebeur het’, voorgelees het. Sy het vertel van die bakleiery wat tot die detensie gelei het, haar aanvanklike teësinnigheid om in die groep te wees, en wat toe gebeur het:

Ek onthou dat ek in my agterbank gesit
en luister het na die poësie,
en heeltyd gedink het dat juffrou Chapman my
maar eerder kon geskors het.
Sessie na sessie.
Dieselfde bank.
Dieselfde ding.
Dieselfde gedagtes
totdat
ek my eerste gedig geskryf het.
En ek weet wat jy dink:
Wat? Wie? Jy?
Wel, ja. Ek.
Om daaraan te dink verbaas my ook.
Ek het gegroei in my straf in
en dis hoe dit gebeur het.

As die proses eers begin en sy eie loop neem, gebeur daar ook ander soorte wonderwerke. Ná ’n geleentheid waar jong digters opgetree het, het ’n ma kom sê sy kan nie glo sy sou die dag beleef wat haar tienerdogter, wat op die outistiese spektrum is, haar verse met vrymoedigheid voor ’n groep mense sou voorlees nie.

Daar is ook stories wat vertel van die wonder, ontroering en inspirasie wat leerders in my lewe gebring het, en steeds doen.

Categories Afrikaans Non-fiction South Africa

Tags Afrikaans Boekuittreksel Book excerpts Book extracts LAPA LAPA Uitgewers My Word! Praat jy! Praat jy! Idees vir die skep van 'n skryfkultuur in die klas Thérèse Hulme


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments