C

[Om te skryf] ‘Skrywers is nooit eensaam nie’ vertel Jeanette Stals in The Penguin Post
 More about the book!

Jeanette Stals, wat al aksie-verhale, geskiedkundige romans én liefdesverhale die lig laat sien het, meen sy het nooit te min geselskap nie.

Skryf behels baie ure in afsondering en maak jou tydelik ’n kluisenaar. Maar jy is nooit eensaam nie, vertoef net tydelik in ’n binnewêreld met fiktiewe familie en baie goeie vriende – byna soos om te droom in die nag.

Om wakker te wees is deesdae meer van ’n uitdaging. Ontwikkeling van die tegnologie gebeur vinnig en dis permanent. In drie geslagte is gevorder van die eerste motorvoertuig tot by landings op ’n planeet in die buitenste ruim. Daarbý kom ook ontwikkeling op ander terreine, soos kunsmatige intelligensie. Dis algemeen bekend dat mense, in sekere beroepe, deur robotte vervang gaan word. In die buiteland is daar reeds ’n robot in ’n kerk en een in ’n tempel wat ingespan word om beswaarde mense van ‘raad’ te bedien. Volgens meneer Musk en sy medewerkers het hulle GPT2 die potensiaal om skrywers oorbodig te maak; dié rekenaar sal joernalistieke verslae skryf en ook fiksie kan produseer. Die doelwit is dat rekenaars in die afsienbare toekoms asemrowende stories aan uitgewers moet verskaf.

’n Skrikwekkende gedagte.

Kan ’n rekenaar woede ervaar, insig hê waarom iemand moord sal pleeg?

Dit laat die vraag opduik: Kan ’n rekenaar woede ervaar, insig hê waarom iemand moord sal pleeg? Kan die stuk tegnologie ’n allesoorheersende liefde vir ’n ander ontwikkel? Stel jou voor – ’n skrywer-robot raak verlief op die rekenaar wat in die laboratorium net langsaan werk aan ’n ruimteprojek! Kan ’n blikbrein so betrokke raak by die karakters waaroor dit skryf dat dit saam met hulle lag of huil terwyl dit skryf …? Noem dit ‘kop in die sand druk’, maar my gevoel is: Nee, dit kan nie. Dis juis die mens met die krake in sy psige, sy feilbaarheid van denke, wat daardie ekstra ‘iets’ aan ’n storie gee.

Fiksie word breedweg in vyf genres ingedeel wat oorspronklik vir bemarkingsdoeleindes gevestig is. So kan lesers aanlyn of by ’n boekwinkel makliker soek na iets wat in hulle smaak val. Gelukkig geld hierdie rigiede grense nie aldag meer nie en uitgewers sal deesdae ook manuskripte aanvaar wat elemente van meer as een genre bevat. Maar oor die algemeen kan fiksie steeds breedweg ingedeel word as Misdaadverhale, Historiese romans, Liefdesverhale, Wetenskapsfiksie, Magiese of Verbeelding-verhale. (Daar bestaan ook ander indelings en onder elk daarvan is verskeie subgenres).

Dis juis die mens met die krake in sy psige, sy feilbaarheid van denke, wat daardie ekstra ‘iets’ aan ’n storie gee.

Skrywers verkies meestal ’n spesifieke genre om in te skryf en ook om te lees. (Lees is immers goeie opleiding vir skryf). Persoonlik is skryf vir my meer instinktief, dit kom uit die agterkop, of moet dit onderbewussyn genoem word? Karakters meld hulle aan en mettertyd is ek so betrokke by hulle lewens dat ek geen ander keuse het nie as om daaroor te skryf. Ek lees graag boeke uit verskillende genres en met elke storie bevind my karakters hulle in ander omstandighede, ervaar uitdagings en frustrasies van ’n ander aard, wat beteken my boeke val nie almal in dieselfde genre nie. Die spanning en raaisels van die misdaad-stories was een groot plesier om te skryf; die historiese roman se navorsing het ander wêrelde vir my oopgemaak en die Romanza wat tussendeur die lig gesien het, was soos om ’n ligte soufflé te geniet na ’n swaar hoofgereg. Skryf is kos en mens kan nie altyd gourmet wil eet (indien dit binne my bereik sou wees!), ook nie net van pasta lewe nie.

Skryf is kos en mens kan nie altyd gourmet wil eet (indien dit binne my bereik sou wees!), ook nie net van pasta lewe nie.

Nes voeding, is lees noodsaaklik en mense lees of skryf om verskeie redes. Dit mag wees om sin te probeer maak van die wêreld om ons, of om ons medemens beter te verstaan. Maar hoofsaaklik lees ons vir die wonderlike plesier daarvan.

Die artikel was oorspronklik in The Penguin Post gepubliseer, ’n tydskrif van Penguin Random House South Africa.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Bloedbande Jeanette Stals Om te skryf Penguin Random House SA The Penguin Post


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments