C

Om te skryf… of nié te skryf nie – Jan Vermeulen beantwoord die groot vraag in The Penguin Post
 More about the book!

’n Oú hand as dit by die vashou van ’n pen kom, deel Jan Vermeulen hierdie raad vir dié wat wonder of hul (nóg) ’n storie moet skryf.

Is ek bedoel om te skryf?

As jy brand om gereeld met jou pen op jou beskeie kreatiewe manier die wêreld meer kleurvol, genotvol, hanteerbaar, leefbaar, verstaanbaar te maak, het jy iets om te sê en is jy bedoel om te skryf.

Elkeen van ons ervaar die werklikheid anders. Solank jy opreg uitdrukking gee aan jou lewensinsig, aan die manier waarop jy oor die lewe filosofeer, is jy bedoel om te skryf.

As jy dan nie skryf nie, bly jou plek in die wêreld van skrywers leeg.

Is hierdie storie myne om te vertel?

Skryf oor iets wat enorm baie vir jou saak maak, of jou enorm baie interesseer. Lesers is fyn om dit aan te voel.

Hoe skryf ek stories van hoë kwaliteit?

Begin deur jou unieke self in jou skryfwerk te stort (moenie ander skrywers na-aap nie). Skryf gaan oor die weergee van jou innerlike menswees. En jyself is die enigste persoon wat jouself ooit van binne af sal ken.

Oorskryf en herskryf, afsny en weggooi dra jou oor die drumpel van kwaliteit skryfwerk.

Maak seker jy het die stamina van ’n skrywer. Ure van navorsing, nie alleen oor die onderwerp van jou boek nie, maar ook oor skryftegnieke en algemene taalreëls, sal vir jou dieselfde effek hê as ’n strawwe oefenprogram vir ’n Olimpiese atleet.

Maak seker jy is bereid om te luister en te leer. ’n Skrywer wat soos Pontius Pilatus sê: Wat ek geskryf het, het ek geskryf en basta, gaan nooit kwaliteit skryf nie. As jy nie bereid is om op aandrang van jou redigeerder iets oor en oor te skryf nie… Oorskryf en herskryf, afsny en weggooi dra jou oor die drumpel van kwaliteit skryfwerk.

Vir wie skryf ek?

As jy net vir jouself skryf, net jou eie hart terapeuties wil uitstort of skoonmaak, skryf dan ’n blog, joernaal of dagboek.

As jy wil publiseer, moet jy op ’n basiese teikengroep besluit. Leer ken die behoeftes van jou spesifieke teikengroep en bevredig hul behoeftes met jou skrywerspen.

Is ek dikvellig genoeg om ’n skrywer te wees?

Pantser jou teen kritiek, want oor dieselfde boek sal mense skree hosanna! terwyl ander uitroep kruisig hom. Maak seker jy kan sulke water van jou eend se rug laat afrol, sonder om in oor-en-weer bekgevegte met lesers of resensente betrokke te raak. Skryf eerder rustig aan jou volgende storie.

Is daar regtig vir my plek in die wêreld van blitsverkopers?

WEG Louw het by herhaling gesê: In die huis van my Vader is daar genoeg woonplek. In die wêreld van skryf, kan ons elkeen ons eie plek hê (misdaadfiksie, romanse, jeug, kinderboeke, gedigte, kortverhale, noem maar op), sonder om teen mekaar te kompeteer. Skrywers is nie besig met ’n eier-in-die-lepel resies nie. We are a band of brothers and sisters wat een huis bewoon.

Moenie langer kreupel bly lê as jy begeer om te skryf nie. Glo, neem jou pen op en loop.

Die artikel was oorspronklik in The Penguin Post gepubliseer, ‘n tydskrif van Penguin Random House South Africa.

Lees ook:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Jan Vermeulen LAPA LAPA Uitgewers Om te skryf Penguin Random House SA Spieëltjie spieëltjie The Penguin Post


1 Votes

You must log in to post a comment

0 Comments