‘Jannie, as jy kat en muis wil speel, moet jy seker maak dat jy die kat is’: Lees ’n uittreksel uit Fortuine deur Ebbe Dommisse
More about the book!
Die restaurant Decameron in die hartjie van Stellenbosch is vandag nog die bymekaarkomplek van talle van Suid-Afrika se topsakemanne. Dit was ook die toneel van ’n veelbesproke botsing tussen van hierdie sakemanne, waaronder Markus Jooste, en ’n plaaslike belangegroep, skryf Ebbe Dommisse in Fortuine.
Lees die uittreksel:
~~~
Een van die bymekaarkomplekke van Stellenbosse sakelui is Stellenbosch se gholfbaan, waarvan vertel word dat dit die enigste gholfklub in die land is waar meer wyn as bier gedrink word.
’n Hele klompie van die Stellenbosse sakelui kom dikwels byeen vir middagete by Decameron, die Italiaanse restaurant in die middedorp waar Mario Ladu se spyskaart legendaries geword het. Middagetes kan soms tot laatmiddag voortduur as daar lekker gesels word. Mario sorg dat ’n tafel beskikbaar is vir sy gereelde klante, net soos hy jare lank altyd ’n tafel in ’n hoekie vir Anton Rupert uitgehou het wanneer hy nie by die Volkskombuis geëet het nie.
’n Vrydagmiddagete by Decameron was juis die voorspel tot ’n noue ontkoming wat een van Stellenbosch se bekendste vroue, Erna Meaker, met Steinhoff-aandele gehad het. Sy en haar man, Paul, het daardie dag in die rookvrye deel van die restaurant geëet toe hulle rook ruik. Paul het opgestaan en gesien dat Markus Jooste met ’n sigaret in die hand met mense staan en gesels. Die personeel wou nie teen die belangrike gas optree nie, maar Erna was erg beswaard.
Sy het summier besluit dat sy nie aandele wil besit van iemand wat ongevoelig teenoor ander restaurantgangers optree nie. Die volgende Maandag het sy haar makelaar opdrag gegee om alle Steinhoff-aandele in haar en haar kinders se trusts te verkoop. Enkele dae daarna het Steinhoff ineengesak.
Een van die belangrike sakebesluite wat in die Decameron geneem is, het die samesmelting van die drankmaatskappye Distillers en Stellenbosch Boerewynmakery geraak. Die nuwe maatskappy het ’n nuwe naam geverg. Die taak is onderneem deur ’n span kundiges wat uiteindelik tot Distell, ’n samevoeging van die twee name, ooreengekom het. Die voorstel is voorgelê aan Anton Rupert, wat nie baie tevrede daarmee was nie. Rupert, allerwee beskou as die orakel van handelsmerke, wou iets van die geskiedenis van die wynbedryf in die nuwe naam sien.
Die span het toe op ’n Vrydag teruggekeer met die naam Van Rijn, ontleen aan die Van Ryn Wine and Brandy Company, een van die boustene van Distillers. Rupert was in sy noppies met die naam en het gesê hy sal met sy tabakkollegas gesels om te reël dat die tabakhandelsmerk Rembrandt van Rįjn in die toekoms net as Rembrandt bekend staan. Die daaropvolgende Sondag was die Rupert-familie saam vir middagete in die Decameron en die voorgestelde nuwe naam is onder meer bespreek. Huberte Rupert, wat gereeld as haar man se klankbord opgetree het, was beswaard: ‘Maar Van Rijn is tabak!’
Maandagoggend vroeg het Johann Rupert laat weet: ‘Van Rijn is uit.’ Rupert sr. het uiteindelik goedgekeur dat met Distell voortgegaan word.
Die Decameron was ook die toneel van een van die botsings tussen Stellenbosch se sakelui wat lank druk bespreek is. Dit het gebeur toe bouplanne ingedien is vir verbouings aan die vierverdiepinggebou waarin die restaurant in Pleinstraat in die middedorp geleë is – strategies naby die kantore van ’n aantal van die sakelui. Daar was ’n halfdosyn beleggers in die gebou, onder wie Jannie Mouton en GT Ferreira, wat egter saam met die restauranteienaar, Mario Ladu, nie juis op die voorgrond in die twisgesprekke was nie.
Die groep ontwikkelaars het na aankondiging van die bouplanne, wat onder meer vir vyf verdiepings met ’n dakwoonstel vir Markus Jooste voorsiening gemaak het, teenstand gekry. Vooraan was die Stellenbosch Belangegroep, wat gelei is deur drie vroue wat om estetiese redes gekant was teen die beoogde ontwikkeling, onder meer weens die oorskryding van hoogtebeperkings. Die Belangegroep het ondersteuning gekry van die kant van die Ruperts; in die besonder van die Rupert Historiese Huise Stigting en Historiese Huise van Suid-Afrika.
Die stryd het in die howe gaan draai, naderhand in die appèlhof. Sommige Stellenbossers het met kleur en geur vertel dat Johann Rupert ’n slag vir Mouton raakgeloop en oor die dispuut aangespreek het: ‘Jannie, as jy kat en muis wil speel, moet jy seker maak dat jy die kat is.’ Mouton het homself na gesprekke met Anton Rupert aan vergaderings van die groep ontwikkelaars onttrek, maar nie sy belegging of sy middagetesitplek in die Decameron opgesê nie.
Na maande lange vertragings met hofsake en ’n gesukkel deur die munisipaliteit om goedkeuring vir die planne te gee, het van die kleiner beleggers die knyp begin voel. Toe het GT Ferreira, wat meer as een keer die vredemaker op Stellenbosch was, die Rupert-kamp gekontak om weer te bemiddel nadat vorige pogings nie geslaag was nie. ’n Skikking waarby die munisipaliteit betrek is, is oplaas in Februarie 2008 tussen die strydende partye bereik. Nuwe planne wat voldoen aan die vereistes vir die dorp se historiese kern is aanvaar. Die gebou is beperk tot vier verdiepings en Markus Jooste was ook sy dakwoonstel kwyt.
~~~
Categories Afrikaans Non-fiction South Africa South African Current Affairs
Tags Book excerpts Book extracts Decameron Ebbe Dommisse Fortuine Fortuine: Die wel en wee van Afrikaner-magnate Fortunes: The Rise and Rise of Afrikaner Tycoons Jannie Mouton Jonathan Ball Uitgewers Stellenbosch Uittreksel