C

Die liefde kook by LAPA! Hier is vier nuwe Romanzas om die maand van liefde mee af te skop
 More about the book!

Tweede viool deur Salma Swanepoel

Martlie haat haar werk, maar sy sal enigiets doen om te verseker dat haar sussie die geleenthede kry wat syself nooit gehad het nie. Al is dit om papegaaiwerk te doen. Dit help natuurlik ook nie dat sy lyk en voel soos ’n lawwe, veelkleurige parkiet tussen ’n klomp stemmige African Greys nie. Sy sou veel eerder heeldag heerlike geregte in ’n spogkombuis optower, maar sy is al so gewoond daaraan om tweede viool te speel dat dit haar eintlik nie meer pla nie. Haar kwaai baas, Jaco, is egter iemand om mee rekening te hou. Hy is onvriendelik, ongeduldig en ongelooflik aantreklik. Sy kan nie eens meer haar vervelige werk in vrede doen nie!

Oor die outeur

Salma Swanepoel woon naby die see saam met haar man, kinders en troeteldiere. Sy hou van lag, musiek en stories en hoop om verhale te skryf wat lesers heerlik laat ontspan.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Omdat jy die een is deur Elsa Winckler

Carina Erasmus geniet dit om saam met haar susters betrokke te wees by haar ma se besigheid en as fotograaf te werk. Tyd vir ’n man, veral een wat haar so ontstig soos Conrad Vissser, is daar nie. Die een afspraak wat sy met hom gehad het, was loshande dié goorste een waarop sy nog was. Conrad Visser weet sedert sy tienerjare hy is nie die soort mens op wie iemand anders kan staatmaak nie, daarom het hy twee reëls waarvolgens hy lewe: moenie verlief raak nie en hou mense op ’n afstand. Sodoende kan hy niemand teleurstel nie. Totdat Carina Erasmus met haar lang bene en donker hare sy reëls kom breek.

Oor die outeur

Vir solank as wat Elsa Winckler kan onthou, lees sy liefdesverhale. Om self ’n liefdesverhaal te probeer skryf, was ’n logiese volgende stap. Op die manier kon sy uiteindelik al die gesprekke wat naamlose gesigte gereeld in haar kop voer, neerskryf. Die heldinne in haar stories is onafhanklik, hardekwas en nie skaam om hulle sê te sê nie. Die helde is sterk, maar is ook sensitief vir die onderskeie heldinne se behoeftes. En natuurlik is hulle altyd sexy en onmoontlik aantreklik!

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Hart van ys deur Didi Potgieter

Emily Williams is die ruggraat van die Steely Sisters. Koel, professioneel en nooit emosioneel nie. Sy het wel een swak plek: Louis Smith, haar hoërskoolliefde en die eienaar van ’n kroeg in haar tuisdorp. Die nuwe jaar begin nie goed vir Emily nie. Haar halfbroer en beste vriendin raak verloof en sy moet help troue reël terwyl hulle aan hul nuwe album werk, daar is ’n pragtige vrou van New York aan Louis se sy en haar ma is op die punt om ’n smerige biegboek oor Emily se verlede te publiseer. Louis het sy eie probleme, maar die grootste een is dat hy steeds hopeloos verlief op Emily-die-ysprinses is.

Oor die outeur

Didi Potgieter woon haar lewe lank op Potchefstroom in Noordwes. Vandat sy kan onthou skryf sy liefdesverhale in haar kop, maar ʼn finalejaarsopdrag het haar gedwing om dit op papier te waag. So het haar eerste Romanza, Leer my liefhê, die lig gesien. Didi wen in 2018 die ROSA (Romance Writers of South Africa) Imbali-toekenning met Liefde vir ’n ridder, en was al twee keer ’n finalis vir die ATKV-Woordveertjiesprys.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Eintlik alles deur Ronelle Uys en Marilé Cloete

Wat in Vegas gebeur …

What happens in Vegas, stays in Vegas. Wanneer Miela Karoo toe trek om haar tante by te staan, kom sy gou agter dié ou gesegde geld nie noodwendig hier nie. Haar impulsiewe besluit spook by haar in die vorm van Johannes, haar tante se nuwe buurman en Miela se destydse bruidegom. Johannes beweer dat hulle
huwelik geldig is en dat hy nie wil skei nie.

As binnehuisversierder kry Miela die geleentheid om haar droom te bewaarheid en haar eie besigheid te begin, maar hoe kan sy permanent in die Karoo bly as sy daagliks herinner word dat sy net een woestyn vir die ander verruil het, en steeds vlinders in haar maag kry wanneer Johannes in die omtrek is?

Wat maak hierdie boek anders?

  • Eintlik alles is die eerste Romanza wat deur twee outeurs geskryf is: Marilé Cloete het die manuskrip voltooi nadat Ronelle Uys in 2019 oorlede is.
  • Dié Romanza is ’n huldeblyk aan Ronelle Uys, wat in 2015 met Sy liefdesplan gedebuteer het.
  • Eintlik alles is ’n tradisionele plaasromanse én ’n moderne liefdesverhaal.

Oor die outeur

Ronelle Uys het in Heidelberg saam met haar man gewoon. Sy het twee Romanzas geskryf voor sy in 2019 oorlede is. Eintlik alles was haar laaste manuskrip.

Alta Cloete is ’n skrywer van die Paarl, oorspronklik van Sutherland. Met nege romans asook 20 romanses onder die naam Marilé Cloete, het sy ’n lojale leserskorps gevestig. Ná jare as bibliotekaresse en Graad R-juffrou het sy op amper 50 eers voluit begin skryf. Sy bedryf twee boekgroepe op Facebook (Kom ons lees weer Afrikaans en Afrikaanse boeke vir die jongklomp) waar sy gereeld nuwe Afrikaanse boeke bekendstel.

Ook beskikbaar as e-boek:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Didi Potgieter Eintlik alles Elsa Winckler Hart van ys LAPA LAPA Uitgewers Marilé Cloete New books New releases Omdat jy die een Romanza Salma Swanepoel Tweede viool


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments