Wat word verstaan onder verlies en rou? Lees ’n uittreksel uit Jou kind en verlies deur Solet Scheeres om uit te vind
More about the book!
’n Mens wil glo dat kinders nie verdriet ervaar nie, maar hulle beleef dit wel. Selfs as ’n mens dit regkry om kinders teen die ergste hartseer te beskerm, sal daar tog ’n keer kom wat hulle een of ander vorm van verlies ervaar en daaroor sal rou.
In Jou kind en verlies deel Solet Scheeres wenke, idees en ’n leesgids vir ouers, onderwysers, familie en vriende van kinders van alle ouderdomme. Die aktiwiteite in die boek help om spelenderwys ’n ruimte vir heling vir kinders te skep.
Lees die uittreksel:
~~~
Hoofstuk 1
Wat word verstaan onder verlies en rou?
Voor mens kan praat oor hoe ’n kind verlies ervaar en wat die verwerking van verlies, en rou self inhou, is dit nodig om eers na die definisies van die twee woorde te kyk. Die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT) beskryf verlies, onder meer, as ontvalling, afsterwe, verdwyning of kwytraking.
Mens kan die begrip verlies ook nog uitbrei en sê dit kan ook die teenstrydige emosies insluit wat jy ervaar wanneer ’n bekende patroon of bekende gedrag verander of beëindig word. Jy beleef byvoorbeeld teenstrydige emosies wanneer jy dankbaar is dat ’n geliefde ná ’n lang lyding verlos is van die pyn, maar terselfdertyd breek jou hart oor die verlies van die persoon. Of wanneer jy trek na ’n nuwe plek en bly is oor die nuwe huis, maar ook hartseer is oor wat jy alles agterlaat. Ons moet bedag wees daarop dat veral kinders swaar geaffekteer word indien roetines, plekke of mense wat bekend en gelief is, skielik verander of verdwyn.
Rou volgens die WAT is wanneer die mens met pyn blyke gee van emosionele trauma in sy diepste, mees ongeïnhibeerde vorm. Rou is dus mens se reaksie op ’n verlies. Daar is verskillende maniere hoe die reaksie kan manifesteer by volwassenes en ook by kinders:
Fisiek
Kinders kan fisiek daarop reageer deur byvoorbeeld slapeloosheid, ’n verlies van aptyt, maagpyn, hartkloppings, deur onophoudelik te huil, gespanne spiere, ’n gebrek aan konsentrasie en rusteloosheid, asook klouerigheid, of deur hulle juis van die res van die gesin af te sonder.
Gedagtes
Aan die een kant kan al die mooi herinneringe oor alles wat die kind verloor het deur sy gedagtes bly maal. Kinders kan ook onophoudelik spyt wees oor wat hulle dink hulle dalk kon gedoen het, maar nie gedoen het nie. Hulle kan hulle dalk verbeel dat die gebeurtenis hul skuld is. Die sterwens- of egskeidingsproses kan onophoudelik deur die kind se gedagtes speel. Verder kan ’n kind natuurlik ook heeltyd dink aan al die sorge wat bykom ná ’n verlies: Wie gaan vir my sorg? Wie gaan my maat wees? Met wie gaan ek so lekker kan praat soos met Oupa?
Emosies
’n Kind kan sterk emosies ervaar en toon soos hartseer, woede, skuldgevoel en verlorenheid. Dalk selfs verligting dat die persoon oorlede of weg is. Liefde, hoop en haat. Aan die ander kant kan ’n kind sy emosies ook so diep wegsteek dat dit op die oog af lyk asof hy glad nie hartseer oor die gebeure is nie.
Spirituele reaksies
’n Ouer kind kan op soek gaan na betekenis, sy ouers se geloof bevraagteken, soek na boaardse konneksies of juis self tot geloof kom. Rou is ’n proses wat losweg aan die hand van die volgende stappe omskryf kan word, hoewel dit nie altyd in dieselfde volgorde plaasvind nie en geen tydsduur daaraan geheg kan word nie.
- In die eerste plek moet die realiteit van die verlies aanvaar word. Kinders kan byvoorbeeld, ná ’n egskeiding, nog jare lank glo dat hulle ouers weer sal herenig.
- Vervolgens moet die pyn en emosies van ’n kind ná verlies, ervaar en geprosesseer word.
- Die kind moet leer om aan te pas in die nuwe situasie.
- En laastens moet die kind leer om op ’n manier konneksie te behou met wat hy verloor het, byvoorbeeld met ’n oorledene, sodat hy kan aangaan met sy veranderde lewe.
Om aan te gaan met jou lewe beteken nie noodwendig dat jy nie meer pyn en verdriet sal ervaar nie, dit beteken net dat jy geleer het om daarmee saam te leef. In die definisie beteken ‘verwerking’ beslis nie dat iets afgehandel word of dat daar ’n definitiewe einde aan kom nie. Verwerking beteken eerder dat jy leer om jou met die gebeure te versoen. As iemand sterf, is die persoon weg, maar die band wat ’n kind met die persoon gehad het, sal vir altyd bly. Om te lewe is om verlies te ervaar, om te oorleef is om te leer hoe om met die verlies om te gaan.
Dié formele definisies van verlies en rou kan maklik klink asof dit eerder na volwassenes as na kinders verwys. Mens begaan egter ’n denkfout as jy reken ’n kind se verlies is nie net so intens soos wat ’n volwassene dit ervaar nie. En dit is ook ’n vergissing om te dink dat kinders, anders as volwassenes, nie deur die een of ander proses van verwerking van pyn moet gaan nie om uiteindelik die verlies plek te gee in hulle lewens. Kinders se kognitiewe vaardighede ontwikkel na gelang hulle ouer word; ’n baba verstaan en onthou natuurlik minder van wat gebeur as ’n ouer kind. Later word breedvoeriger hierop ingegaan. Kortom, kinders kan in die verskillende ontwikkelingstadiums soos volg op verlies reageer:
Geboorte tot 6 maande: Tot op dié ouderdom is ’n kind se vermoë om te onthou onderontwikkeld en sal die baba nie regtig op ’n verlies reageer nie. Die baba kan ’n abstrakte konsep soos die dood nog glad nie verstaan nie.
6 maande tot ’n jaar: Die kind sal verlies ervaar as ’n vae afwesigheid of ’n ontheemde gevoel dat iets verander het.
1 jaar tot 2 jaar: Indien die hoofversorger van die kind sou sterf of weggaan, kan ’n kind op dié ouderdom diep ongelukkig en selfs depressief word. Dit is egter nog nie moontlik vir kinders om betekenis aan die gebeure te heg nie, hoewel hulle sterk beïnvloed kan word deur die emosies van die mense om hulle.
2 tot 6 jaar: Op dié ouderdom glo kinders dat die dood tydelik en omkeerbaar is. Hulle het nog geen bewustheid van hulle eie sterflikheid nie. Kinders stel wel belang in die dood en wil graag iets sien wat dood is en daaraan vat.
6 tot 9 jaar: Kinders begin nou ’n duideliker begrip van die dood ontwikkel. Hulle stel veral belang in die biologiese aspekte van die dood. Teen nege jaar is ’n kind se begrip van wat die dood inhou, ongeveer dieselfde as dié van ’n volwassene, behalwe dat die kind nog steeds nie ’n begrip van sy eie sterflikheid het nie.
9 tot 12 jaar: Kinders begin nou ook wonder wat ná die dood met ’n mens gebeur. Hulle personifieer die dood – byvoorbeeld as ’n spook of reken dat hulle iemand se dood kan veroorsaak deur net daaraan te dink.
12 jaar en ouer: Kinders kyk nou abstrak en subjektief na die betekenis van ’n verlies en die dood. Hulle glo nog steeds dat die dood met ander mense gebeur en dat dit hulle nie maklik sal oorkom nie.
Wanneer ’n kind verlies ervaar, wat dalk vir jou as volwassene onbenullig lyk, en die versoeking groot is om die kind se emosies te ignoreer of te verkleineer, moet jy onthou dat jou reaksie op die verlies grotendeels bepalend sal wees in hoe die kind sy emosies en gedrag verder gaan navigeer deur die see van ellende. Verdriet is ’n normale en natuurlike reaksie op verlies. As ’n kind verdrietig is oor ’n verlies, moet mens dit altyd in dié perspektief sien; die kind het nie ewe skielik ’n afwyking of patologiese streep ontwikkel nie. Dit is maar net ’n kind wat rou oor ’n verlies. Die meeste ma’s en pa’s op aarde wil graag sien dat hul kind net vreugde, avontuur en geluk ervaar. Dit breek ouers se harte wanneer ’n kind ongelukkig of bang is. As ouers kon kies, sou dit waarskynlik wees dat hulle kinders heeltemal geen pyn ervaar nie of dat ’n kind nooit gekonfronteer hoef te word deur die dood of ’n egskeiding nie. Helaas is die realiteit eintlik in teenstelling daarmee. Al is jy as volwassene bang vir die dood en al kan jy maklik jou angste en vrese op jou kinders projekteer, is dit belangrik om te onthou dat klein kindertjies nog geen vrees vir die dood het nie. Dit is daarom goed om kinders van kleins af te leer dat die dood deel is van die lewe en dat ’n mens nie bang hoef te wees vir die dood nie. Dit is iets wat met ons almal gebeur, maar voor dit gebeur, is daar ’n wonderlike lewe wat gevier kan word. Kinders behoort ook van kleins af te leer dat alle emosies ewe belangrik is en dat ’n mens jou nie vir sommige hoef te skaam nie. Hoewel die gemeenskap leer dat babas toegelaat mag word om normaal te reageer wanneer hulle ’n verlies ervaar, word daar baie gou gefrons indien ouer kinders uiting gee aan dieselfde natuurlike emosies wanneer hulle ongelukkig is. In die volksmond word ons geleer dat sommige emosies soos verdriet, woede en terneergedruktheid negatiewe gevoelens is wat mens liewer nie in die openbaar moet vertoon nie. Daarom probeer ons onsself en ons kinders teen die emosies beskerm. Sêgoed soos ‘sluk maar jou trane’; ‘ ’n man huil nie’ en ‘ek is nie nou lus vir jou gesanik nie’, leer kinders van kleins af dat dit verkeerd is om hartseer te wees en om angs te wys. Ouers wat self openlik oor emosies soos verdriet, angs en woede praat, stel ’n goeie voorbeeld vir hulle kinders. So leer ’n kind om ook eerlik te wees omtrent sy emosies. As jy nie jou trane van verdriet kan stort nie, gaan dit waarskynlik net so moeilik vir jou kind wees om dit te doen. Al wil ons ons kinders beskerm teen die gedagte dat ons sterflik is, kom jou kind vroeër of later tog in aanraking met die dood. Of dit nou ’n liewe ouma of oupa is, of dalk ’n huisdier, miskien ’n dooie voëltjie langs die pad, dit maak nie saak nie. Jy moet weet hoe om met jou kind oor die dood te praat. En jy moet hom help met die rouproses.
Die dood is natuurlik nie die enigste manier waarop ’n kind ’n verlies kan ervaar nie. Ook as ouers skei, verander ’n kind se lewe dramaties en kan hy nét sulke heftige emosies beleef soos wanneer iemand sterf. Ook in dié geval is dit natuurlik vir ouers swaar om die nuus met hulle kinders te deel. Die meeste ouers wil hul kinders graag buite die tegniese aspekte van die egskeiding hou, met die veronderstelling dat hulle hul kinders verdriet spaar. Soms dink ouers dat dit beter is om niks te verduidelik nie en om nie al te diep in te gaan op die kinders se emosies nie omdat dit hulle eie skuldgevoel aanwakker. Selfs al vermoed ’n kind oor ’n langer tydperk dat sy ouers nie klaarkom nie, bly die finale stap ’n enorme skok. As daar nie openlik en eerlik met die kind gepraat word nie, sal sy fantasie moeiteloos die prentjie self invul en kan dit gebeur dat die kind homself die skuld gee vir die skeiding. So ’n prentjie is dikwels baie erger as die realiteit. Daar word gesê dat dit tot sewe jaar kan duur voor ’n kind aanvaar dat sy ouers nooit weer sal herenig nie. As mens dit in gedagte hou, besef jy hoe belangrik dit is om ’n kind so goed moontlik te begelei om weer met sy lewe te kan aangaan. Kinders is veerkragtig en kan met hulp weer hulle lewens voortsit. Natuurlik is dit ’n nuwe lewe, want die oue, met beide ouers, kry ’n kind nooit weer terug nie. Daarom is die verdriet en rou wat ’n kind by ’n egskeiding ervaar, vergelykbaar met die verdriet en rou van ’n kind by die dood van ’n geliefde.
FOUTIEWE AANNAMES OOR DIE VERWERKING VAN VERLIES
Alle mense, kinders ingesluit, rou op presies dieselfde manier
Soos wat elke mens ’n unieke vingerafdruk het, so het ons ook elkeen ’n unieke manier om verdriet en verlies te verwerk. Daar is geen vaste patroon of generiese oplossing vir rou nie. Kinders se geaardheid en karakter sal ook grotendeels bepaal hoe hulle met verlies omgaan. Om te rou is beslis nie ’n liniêre proses wat uit vyf of ses stappe bestaan nie. Ook al beskryf ek die verskillende stadiums van verwerking, is daar geen verpligting vir ’n kind om een of meer van dié stadiums te beleef nie. Rou is nie iets wat ’n mens in ’n bepaalde tydsduur of boks kan verpak nie. Buitendien kan één mens ook verskillend rou oor verskillende tipes verlies. Dit kan byvoorbeeld gebeur dat ’n kind ná die dood van ’n geliefde geen emosie toon nie, maar wanneer haar teddiebeer soek raak, dae aaneen huil. Kortom, daar bestaan nie ’n vaste resep om kinders wat rou te help nie, maar met ’n paar riglyne, ’n luisterende oor en ’n bietjie begrip, kan ’n mens ver kom om so ’n kind by te staan.
Moenie hartseer wees nie
Mense is geneig om kinders te probeer troos deur iets te beklemtoon wat in hulle oë positief is. Byvoorbeeld, wanneer ’n grootouer sterf dalk iets soos: ‘Moenie hartseer wees nie, sy het ’n lang lewe gehad’; of ‘Gelukkig het sy nie baie gely nie’; of ‘Moenie hartseer wees nie, sy is nou op ’n baie beter plek’. Wanneer mens vir ’n kind vertel dat hy nie mag voel wat hy voel nie, suggereer jy indirek dat sy nie die waarheid moet aanvaar nie en dat haar natuurlike emosies verkeerd is. Kinders voel dan dat hulle glad nie gehoor word nie. Dit kan tot gevolg hê dat hulle hul ware emosies onderdruk. As jy dan boonop sê: ‘Kyk net hoe dapper is ons kind’; of ‘Kyk net hoe sterk is hy’, vererger jy die internalisering van die kind se verdriet. Mens moet jou verdriet deurleef om blydskap en vreugde te kan ervaar. As jy jou verdriet altyd onderdruk, kan dit op die lang termyn baie slegte gevolge hê.
‘Vervanging’ is geen oplossing nie
Dit is belangrik dat kinders hartseer ervaar wanneer hulle harte gebreek word. Moenie hulle pyn met ’n nuwe speelding probeer wegtoor nie. Dit gebeur veral by die dood van ’n troeteldier dat die dier dadelik vervang word. Onthou dat elke mens ’n unieke verhouding het met ’n spesifieke troeteldier en dat ’n nuwe troeteldier nie dié verhouding kan vervang nie. Dit is belangrik dat die kind kans kry om sy verlies behoorlik te verwerk.
Een van die mees bekende maniere van manipulasie na ’n egskeiding kom ter sprake wanneer die een ouer ’n nog duurder en groter geskenk vir die kind wil koop as die ander ouer. Hoewel kinders gou leer om ouers teen mekaar af te speel en sodoende goed te kry wat hulle graag wil hê, gaan al die geskenke in die wêreld nie hul gevoel van verlies salf nie.
Dit is beter om alleen te rou
Natuurlik wil mens soms alleen in ’n hoekie sit en hartseer wees, dit is nie verkeerd nie. Ook kinders kan verkies om alleen te rou. Niks is egter vir ’n kind so erg soos die gevoel dat daar van haar verwag word om alleen verdrietig te wees nie. Sêgoed soos: ‘Gaan huil maar lekker in jou kamer’; ‘As jy aanhou huil, sal ek jou ’n rede gee om te huil’; of ‘Huil en jy huil alleen, lag en die wêreld lag saam met jou’, kan ’n kind laat voel asof sy in die steek gelaat word. Die eensaamheid wat sy só ervaar, kan weer tot ander probleme lei. Voorts leer die kind dan ook nie hoe om bepaalde emosies in haarself te herken nie. As enige kind van kleins af onder die indruk gebring word dat dit nie veilig is om verdrietig te wees nie en veral nie voor ander mense nie, kan dit tot gevolg hê dat sy alle emosies demp uit vrees dat sy veroordeel of gekritiseer sal word. Dit is goed om jou kind te wys en te vertel dat emosies soos hartseer en vrees voor ander mense getoon kan word.
Sterk wees ter wille van …
Dit kom algemeen voor dat kinders eers wag tot hulle ouers klaar gerou het voor hulle self begin rou in die veronderstelling dat hulle eers sterk moet wees vir hulle ouers. Deur onnadenkend vir ’n kind te sê: ‘Jy is nou die man in die huis’; of ‘Jou ma het jou nou nodig – jy moet sterk wees vir haar’; of ‘As oudste kind in die huis moet jy nou sterk wees’, beroof jy die kind van sy kinderdae en maak jy van hom ’n klein volwassene. Die dood van ’n geliefde, of haar ouers se egskeiding, belas ’n kind reeds swaar; nog so ’n ekstra las op haar skouers sal die kanse om net gewoon kind te wees soos mis voor die môreson laat verdwyn. Volwassenes wat regtig sterk is, laat hulle kinders sien wanneer hulle huil of onseker is. Hulle leer hulle kinders om oor emosies te praat en om hulle nie weg te steek nie.
Besig bly
‘Ledigheid is die duiwel se oorkussing,’ lui die ou gesegde. En baie mense glo daarin dat as jy maar net die heeltyd besig bly, jou verdriet vanself sal verdwyn. Helaas is besig bly nie ’n manier om verlies te verwerk nie, maar wel ’n manier om jou aandag af te lei van die pyn en verdriet wat jy behoort te ervaar.
Dit is wel goed om te onthou dat roetines, besoeke en daaglikse sleurwerk mens help om dag na dag staande te bly te midde van ’n verlies. Dit word egter ’n probleem as jy so besig is dat jy geen tyd het om die verlies te verwerk nie.
Kinders, soos volwassenes, kan ook nie hulle verlies verwerk deur heeltyd besig gehou te word nie. Luister na jou kind wanneer sy sê dat haar hart seer is, praat oor die verlies. Moet dit nie probeer wegtoor deur heeltyd besig te probeer bly nie. Dit is belangrik om ook vir kinders genoeg tyd te gun om oor die verlammende effek te kom van so ’n groot verlies. Dit is nie regtig ’n oplossing om die kind die volgende dag al weer skool toe te stuur nie.
Ook wanneer ’n kind wel terug op skool is, is dit belangrik om te onthou dat mense op verskillende maniere rou en dat dit langer kan vat as wat jy dalk gedink het. Wanneer ’n kind kort na ’n verlies nie oplet in die klas nie, het dit stellig niks met ongehoorsaamheid te doen nie.
Tyd genees alle wonde
Tyd op sigself kan niks gesond maak nie, maar ’n mens het dikwels tyd nodig om te herstel. As jy ’n kind se verdriet nie hanteer nie in die hoop dat dit mettertyd vanself gaan verdwyn, maak jy ’n fout. ’n Kind kan op die kort termyn beter lyk, en selfs vrolik voorkom, maar dan onverwags op ’n dag fisieke of emosionele probleme toon. Niemand kom ‘vanself ‘ oor ’n groot verlies nie, jy leer om dit op ’n manier te verwerk en met die gemis saam te leef. Daarom is dit ook belangrik om na jou kind te luister en, waar moontlik, te help om die verlies te verwerk.
Niks positiefs aan verlies
Natuurlik is dit pynlik om iets of iemand dierbaar te verloor, maar deur so ’n gebeurtenis kan mens ook emosioneel groei. ’n Verlies kan mens wakker skud en laat besef wat werklik belangrik is in die lewe. Dit kan jou help om jou lewe goed onder die loep te neem en jou gedrag te verander om sodoende die beste van jou lewe te maak. Maar dit is ook nie vanselfsprekend dat dit met alle mense so sal gebeur nie. Daar is mense wat vir die res van hulle lewens lamgeslaan bly deur ’n enorme verlies wat hulle meegemaak het. Dié mense mag nie veroordeel word omdat hulle nie die veerkrag en insig van ’n Elie Wiesel verower het nie. Immers het hy juis in Auschwitz diep onder die indruk daarvan gekom dat onverskilligheid die mens se grootste vyand is.
DIE VOORDELE VAN SPEL IN ROU
As volwassenes wil ons dikwels ‘praat’ en gesprekke voer oor belangrike sake, maar kinders gee steeds hoofsaaklik uiting aan hoe hulle voel deur spel. Mens moet dus altyd daaraan dink dat ’n moeilike gesprek vervang kan word deur eenvoudig met jou kind te speel of ruimte vir haar te skep om te kan speel. In die tweede deel van die boek is daar aktiwiteite wat ’n mens kan gebruik om jou kind ‘spelenderwys’ met die uiting van haar emosies te help.
Kinders leer om die wêreld om hulle te verstaan deur middel van spel. Vrye spel gee aan die kind die ruimte om verlies en sukses te verwerk, vriendskappe te sluit en om hulle nuuskierigheid te bevredig. So kan ’n kind byvoorbeeld ’n verlies naspeel deur karre wat teen mekaar bots, of ’n pop wat in ’n boks ‘begrawe’ word. Sulke ‘vreemde’ speletjies hoef mens glad nie angstig te maak nie, dit is doodnormaal.
Wanneer kinders speel, vind daar ’n hele paar positiewe dinge in hulle algemene ontwikkeling plaas. Spel stimuleer onder meer ’n kind se motoriese en taalontwikkeling, asook die vermoë om probleemoplossend te dink. Verder help spel kinders om die wêreld om hulle beter te begryp. Hulle kry só insig in die verband tussen oorsaak en gevolg – veral wanneer hulle met maatjies speel. En deur spel ontwikkel kinders ook emosioneel en sosiaal.
Wat word onder spel verstaan? Spel is jolig en plesierig. Daar is geen spesifieke doelwitte wat bereik moet word nie, geen opgelegde reëls deur ’n buitestander nie en die kind se deelname is spontaan. Spel is verbeeldingryk met ’n eie realiteit en moenie letterlik opgeneem word nie. Om te speel moet ’n kind aktief betrokke wees. Spel kan ook doelbewus gebruik word om kinders te help om moeilike gebeure te verwerk. Kinders se behoeftes aan spelaktiwiteite verskil van ouderdom tot ouderdom. Peuters is graag besig met speletjies wat hulle motoriese vaardighede uitdaag en hulle leer ook om deur taal kontak met ander kinders te maak.
Hoe ouer kinders word, hoe meer verander hul spel in rollespel waarin hulle die werklikheid naspeel. Nou maak hulle mense en situasies na, verbreed hul taalkennis en begin hulle verbande smee, in verhoudings, tussen ander kinders en voorwerpe. Uiteindelik bly spel een van die beste maniere om te leer en op ’n ontspanne manier alles te verwerk wat jou pla. Dus kan ook ouer kinders en volwassenes by die speel van speletjies baat vind.
Indien jy jou kind graag wil help om deur middel van spel ’n probleem te verwerk, kan jy dit veral doen deur ’n tyd en ’n plek te skep met die nodige voorwerpe om te speel: blokkies, poppe, klei en verf. Behalwe om lekker saam te speel, hoef jy nie veel te doen nie. Die analise van ’n kind se probleme deur spelterapie kan ’n mens liefs aan professionele sielkundiges en terapeute oorlaat.
~~~
Categories Afrikaans Non-fiction South Africa
Tags Book excerpts Book extracts Jou kind en verlies LAPA LAPA Uitgewers Solet Scheeres Uittreksel