C

Vier die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand, met vier splinternuwe Romanzas – nou beskikbaar!
 More about the book!

’n Broodjie vir die liefde deur Rina Cilliers

Miskien is daar tog ’n storieboek-einde vir die twee van hulle?

Comine Verbeuk is lelik in die steek gelaat deur ʼn man. Daarom aanvaar sy die werk om op ’n afgesonderde plaas naby George ʼn skrywer met sy manuskrip te help. Dit is die perfekte plek om die spoke van die verlede te begrawe, haar kop skoon te kry en mans finaal af te sweer.

Die mense op Seekamee herinner Comine egter aan ʼn tyd toe sy ook gelukkig was, voor haar ouers se dood en voor Len se verraad. Boonop lyk Sven soos ’n Noorman, noem haar Twiggy en veroorsaak ’n meteorietstorting in haar binneste wanneer hy ’n vertrek binnestap. Hy is stug, streng en allergies vir vroue. Miskien is daar tog ’n storieboek-einde vir die twee van hulle?

Oor die outeur

Rina Cilliers woon saam met haar eggenoot op Hartenbos, sogenaamd afgetree. Sy was bevoorreg om voltyds ma (van vier kinders) en tuisteskepper te wees, het al vele kere in haar lewe op verskeie plekke gebly, maar hulle kinders het hoofsaaklik skole en universiteit in Pretoria bygewoon, waar hulle vir 25 jaar gebly het, en daarna Kaap toe en toe Greyton toe wat die punt van haar hart was. Buiten ma en vrou wees, is haar lewe interessant, kreatief en bowenal, positief; dis in hierdie gees wat hulle ’n hegte familie gevorm het.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Liefde van haar lewe deur Dina Botha

Moet sy vir hom veg of moet sy vlug?

Esti de Beer se nuwe buurman is steeds onmoontlik aantreklik, maar Omar is nie meer die verliefde tienerseun wat in die vervalle huis langs hare woon nie. Hy is nou ’n kosmopolitaanse prokureur wat nie uit haar sake kan bly nie. Omar met sy ongevraagde besorgdheid herinner haar aan ʼn tyd toe sy werklik gelukkig was, maar ook aan ʼn aand wat sy eerder wil vergeet.

Omar de Vries onthou vir Esti goed … Inteendeel, hy kon nie die snobistiese buurmeisie wat hom om haar pinkie gedraai het uit sy gedagtes kry nie. Die noodlot het haar terug gebring na Jagersville, maar hoe gaan hy haar dié keer laat bly?

Oor die outeur

Dina Botha glo liefde is soos om ’n klippie in ’n poel water te gooi. Die rimpeleffek kan nie anders as om ander mense se lewe te raak nie. Daarom skryf sy al vir 11 jaar liefdesverhale. Sy is in Pretoria gebore en woon in Centurion. Op skool het sy Ena Murray, Elmar Steyn en ander bekendes se boeke verslind.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Soeter as kondensmelk deur Lizelle von Wielligh

Vergeet en vergewe

Leane kan haar dalk nog met twee jaar se geheueverlies versoen, maar nie om aan die mooie boer Rudolf met sy kakieklere verloof te wees nie! Hy is allesbehalwe haar droomman en boonop trou hulle oor ses dae. Toe hy haar uitkomkans gee, wys sy dit egter van die hand. Is dit haar gewete of sy donker oë wat haar weerstand afbreek en terselfdertyd noop om voort te gaan met die troue?

Om liggaam en siel aan hom te gee, is egter nie so eenvoudig nie. Daarby verskyn sy beste vriendin op die toneel – haar huwelik feitlik op die rotse en haar man galbitter omdat sy die grond aanbid waarop Rudolf loop.

Oor die outeur

Met ʼn B.Compt. graad agter haar naam, sou Lizelle von Wielligh nooit kon droom om die pen op te tel en te begin skryf nie, maar toe bring die Here ʼn onverwagse draai op haar pad wat haar meer vervuld laat as wat sy ooit kon droom. Deesdae vind sy dit baie meer stimulerend om haar gedagtes kreatief aan te wend eerder as om syfers op die rekenaar te laat klop.Haar gesin kom altyd eerste in haar lewe. Sy is voltyds betrokke by haar kinders en is bevoorreg om ʼn ‘gelukkige einde’ saam met haar man te leef. As sy nie skryf nie, moet haar hande besig bly met ʼn handwerkie. Sy is ook lief vir die natuur; veral die plaaslewe. Haar idees kry sy meestal op haar daaglikse wandeling deur die denneboomplantasies.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Sonroeper deur Wilreza Smit-Theron

Sy moet haar plekkie in die son kry

Zea, ʼn talentvolle pottebakker, moet na haar pa se dood vir haar ʼn nuwe lewe skep – en ʼn kunsuitstalling in mooie Milaan bied haar juis daardie geleentheid. In Italië het sy nie tyd om te wonder oor die geheimsinnige mense wat langs haar intrek of die sexy vreemdeling wat sy vlugtig ontmoet nie. Totdat sy dié man weer in ’n katedraal sien. Sy glo nie aan toeval nie, maar wat van die noodlot?

In Italië ontdek Zea ’n ander sy van haarself. ’n Sy wat onmoontlik aangetrokke tot Antonio Vinetti is. Met sy warm soene en die beeldskone Paola wat altyd by hom ingehaak is, het Zea egter genoeg rede om hom te wantrou.

Oor die outeur

Wilreza Smit-Theron is in 1964 in Pretoria gebore en het in die Kaap skoolgegaan. Na sewentien jaar het sy uit die onderwys bedank en is tans ’n vryskutvertaler/proefleser. Sy het nog altyd met stories in haar kop rondgeloop, maar nie geweet hoe om dit op papier neer te skryf nie. Daar het onlangs twee tienerboeke van haar by ’n ander uitgewersmaatskappy verskyn. Sy woon in
Loevenstein naby Durbanville en in haar vrye tyd lees sy graag, fliek, draf, speel met haar vier Bassets en probeer drie tieners grootkry.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags 'n Broodjie vir die liefde Afrikaans Dina Botha LAPA Liefde van haar lewe Lizelle von Wielligh New books New releases Rina Cilliers Romanza Soeter as kondensmelk Sonroeper Wilreza Smit-Theron


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments