C

Video: Louise Viljoen wen die Orde van die Beiteltjie in Augustus 2022!
 More about the book!

Aandag! Cordis Trust se Afrikaanse Woordkunsakademie het sopas die Orde van die Beiteltjie in Augustus 2022 toegeken aan Louise Viljoen!

Die gesogte toekenning word toegeken aan skrywers vir volgehoue werk aan ‘n spesifieke area van Afrikaanse woordkuns. Louise – wie se jongste boek, Gesinstyd met God, onlangs by LUCA verskyn het – ontvang die Orde vir haar volgehoue geesdrif, betrokkenheid, deelname en eiesoortige sigbare resultate met verskeie aspekte van die Afrikaanse woordkuns in gemeenskapsverband.

Veels geluk, Louise!

Kyk na die video:

Lees die persverklaring:

Cordis Trust se Afrikaanse Woordkunsakademie is trots om die Orde van die Beiteltjie in Augustus 2022 toe te ken aan Louise Viljoen.

Louise ontvang die Orde vir die volgehoue geesdrif, betrokkenheid, deelname en eiesoortige sigbare resultate met verskeie aspekte van die Afrikaanse woordkuns in gemeenskapsverband.

Sy is ’n skrywer en boekresensent van Jeffreysbaai, werk al vir etlike jare vryskut as taalpraktisyn, manuskripontwikkelaar- en keurder.

Sy werk heeldag met stories – haar eie en ook dié van ander. Honderde van haar boekresensies en -indrukke verskyn gereeld op verskeie platforms. Sy lewer byvoorbeeld as medewerker weekliks resensies aan Maroela Media en stel ook nuwe boeke op Radio Kaapse Kansel bekend.

Haar Facebook-groep, Boeke- en Skryfnuus, groei sterk. Sy geniet dit om aan skrywers blootstelling te gee en lesers op hoogte te hou van nuwe publikasies. Dan hou sy ook graag ander resensente se resensies en indrukke aan haar gehoor voor. Haar jarelange volgehoue geesdrif, betrokkenheid en deelname aan die proses van boekemaak, haar ondersteuning van skrywers deurdat sy bewustheid oor hulle boeke kweek, en die passievolle wyse waarop sy ’n liefde vir lees en skryf aanmoedig, verdien vermelding.

LUCA het onlangs Louise se geestelike niefiksieboek getiteld Gesinstyd met God gepubliseer, en dit word baie goed deur resensente ontvang. Hierdie onontbeerlike gids rus gesinne toe om God binne gesinsverband te dien. Dit bring hoop op heling en herstel vir duisende gesinne. Daar het ook al twee kinderboeke, ’n geestelike roman en ’n wetenskapsfiksieboek uit haar pen verskyn. Haar kortverhale is al in verskeie tydskrifte, waaronder Huisgenoot en Rooi Rose, gepubliseer. Honderde van haar artikels oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe het al die lig gesien.

Dit is Louise se droom om geestelike boeke te skryf en ook ’n aanlyn bediening te begin. Vir hierdie doeleinde studeer sy nagraads verder in teologie. Haar liefde vir lees en skryf hou haar besig, en sy hoop dat sy altyd saam met skrywers, uitgewers en lesers opgewonde sal raak oor boeke.

Einde

Categories Afrikaans Non-fiction South Africa

Tags Afrikaans Afrikaanse Woordkunsakademie Cordis Trust Gesinstyd met God LAPA Uitgewers Louise Viljoen LUCA News Orde van die Beiteltjie


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments