C

[Uittreksel] Hekel en word heel 2: Brenda hekel twee jaar se gebede aanmekaar in haar blokkieskombers
 More about the book!

Hekel en word heel 2 is ’n viering van 21 mense se oorwinnings! In hierdie uittreksel vertel Brenda hoe sy twee jaar se gebede aanmekaar gehekel het in haar blokkieskombers terwyl haar jong seun in die hospitaal was. Sy deel ook ’n maklike patroon vir ’n blokkieserp.

Lees die uittreksel:

~~~

’n Maandagmiddag

Brenda hekel twee jaar se gebede aanmekaar in haar blokkieskombers.

Dit is ’n doodnormale Maandagmiddag, net voor vyf. Brenda se tienjarige seuntjie, Biaan, die een met die sagte hart, hardloop by die huis uit om ’n Wiskundeklas reg oorkant hulle huis by te woon.

Toe gebeur die ondenkbare. Brenda hoor ’n vreeslike geskree. Sy weet instinktief dis Biaan. Sy hardloop na buite. ’n Bestuurder, wat op sy selfoon was, het met sy luukse wit motor haar seuntjie op die sypaadjie raakgery.

Dit is baie ernstig en al wat Brenda weet, is dat sy nie wil hê haar seuntjie moet sien wat sy sien nie. Sy tel Biaan se kop op haar skoot en vou haar hande om sy gesiggie. Sy lyfie het baie seergekry. Hy is eers teen die voorruit vas, toe bo-oor die dak en toe agter teen die kattebak af geslinger.

Dinge gebeur nou vinnig. Die ambulans is binne minute daar. Hulle neem die ongelukstoneel oor en laai Brenda en Biaan in die ambulans. Kleinboet, Biaan se beste maatjie, net elf maande jonger, moet vir eers by die huis bly. By die hospitaal wag die mediese personeel hulle in. Daar word dadelik toetse gedoen. Het sy brein seergekry?

Biaan word ’n uur later in die teater ingestoot vir die eerste van baie operasies. Brenda dank God dat hy geen ernstige kop- of nekbeserings opgedoen het nie, maar sy arm en been is baie lelik gebreek. In die wagkamer sê iemand dat hierdie ’n lang proses gaan wees. Om die een of ander rede dink Brenda dat ’n lang proses so ongeveer drie maande gaan duur. Sy was glad nie voorbereid op die pad wat voorgelê het nie. Dit het nie net weke, maande of selfs ’n jaar geduur nie. Ná twee jaar en 23 dae, talle operasies, lang nagte in die hospitaal, lesse om weer te loop, hope en hope fisioterapie en ’n kleinboetie wat heeltyd langs sy ouboet se bed gebly het, het Biaan se been vir die eerste keer aangegroei.

Die eerste week al het Brenda haar hekelsak saamgeneem, net om deur die week te kom. Blokkie vir blokkie hekel sy die ure om.

Sy het haar hekelsak later ‘die hospitaalsak’ gedoop, en hierin kon jy enigiets kry: handeroom, koffie, suiker, teelepels, storieboeke, lekkers, kragproppe, tydskrifte, nagklere en, natuurlik, hekelpenne en wol.

Met elke blokkie het sy sit en bid. ‘As ’n mens net sit, raak jy moeg en moedeloos,’ sê Brenda, ‘maar terwyl ek hekel, het ek gebid. Later het Oupa besef hoe nodig ek die hekel het en het hy kort-kort nog ’n sakkie vol pragtige wol aangedra. Dit het my hande besig gehou en my malende gedagtes beheer. Vlootblou, grys en salmkleur, blokkie vir blokkie.’

Dit was ’n tyd vol trane en vrae, ’n tyd wat deursettingsvermoë van hulle hele familie geverg het.

Ná twee jaar en 23 dae kon Brenda uiteindelik die blokkies van haar kombers aanmekaarwerk. ‘Dit het vir my gevoel asof ek twee jaar se gebede saambind. Ek is dankbaar wanneer ek besef dat alles ten goede meegewerk het. My kind se arm en been is gered. Hy loop weer, skryf weer en kan weer skool toe gaan en saam met sy boetie en maats pret hê.’

Biaan se ouma het ’n volle 15 wonderwerke wat in hierdie tyd gebeur het, aangeteken, en dank daarvoor geoffer. ‘Die blokkieskombers het ’n ereplek gekry,’ sê Brenda, ‘oor Ouma se bene, waar dit haar warm en knus hou.’

BLOKKIESERP

Hierdie is net die regte projek vir daardie resbietjies wat jy so graag wil wegwerk. Gebruik soveel kleur as wat jy wil!

Inligting

Die serp bestaan uit blokkies wat afsonderlik in twee kleure gehekel word en aan die einde met die ritssluitermetode geheg word. Die blokkiepatroon is baie eenvoudig; die mooi vertoning is danksy die kleurgebruik.

Mates

Die lengte van ’n serp is ’n baie persoonlike keuse. Liggaamslengte is ’n goeie aanduiding. Die aantal blokkies wat jy moet hekel, gaan dus ook afhang van hoe lank en hoe breed jy die serp wil hê. Jaarndikte en hekelpengrootte gaan ook ’n rol speel, tesame met persoonlike spanning. Om die aantal blokkies te bereken:

  • Hekel een blokkie en werk dit af.
  • Meet die blokkie se breedte.
  • Gebruik dié mate om te bereken hoeveel blokkies jy in die breedte benodig (jou keuse) en hoeveel jy in die lengte benodig (omtrent liggaamslengte).
  • Maal die aantal in die lengte met die aantal in die breedte om te bepaal hoeveel blokkies jy altesaam moet hekel.

Benodighede

Enige jaarn met enige veselinhoud is geskik vir hierdie patroon. Maak net seker die jaarn is nie krapperig nie. Gebruik ’n hekelpen geskik vir die jaarn wat jy kies. Moenie te styf werk nie; drapering is belangrik.

Ons het gebruik:

  • 5 x 100 g Miss La Motte Twist Sock in verskillende kleure
  • 3.5 mm-hekelpen

Patroon

Met kleur 1: begin met 6 ks, gs in 1ste st om ring te vorm, hekel rdte 1 in die ring.

Rdte 1: 1 glb, 1 lb, 2 ks, (3 lb, 2 ks) 3 keer, 1 lb, gs in glb om rdte te sluit.

Rdte 2: 1 glb, 1 lb, (1 lb, 3 ks, 1 lb) als in 2ks-sp, [3 lb, (1 lb, 3 ks, 1 lb) als in 2ks-sp] 3 keer, 1 lb, h/af en sluit rdte met gh.

Met kleur 2:

Rdte 3: begin met ’n staande langbeen op die middelste lb van die vorige ry, 1 slb, 2 lb, (2 lb, 3 ks, 2 lb) als in 3ks-sp, [5 lb, (2 lb, 3 ks, 2 lb) als in 3ks-sp] 3 keer, 2 lb, gs in slb om rdte te sluit.

Rdte 4: 1 glb, 4 lb, (2 lb, 3 ks, 2 lb) als in 3ks-sp, [9 lb, (2 lb, 3 ks, 2 lb) als in 3ks-sp] 3 keer, 4 lb, heg af en sluit rdte met gh.

Werk stertjies weg.

Lê jou blokkies uit soos jy dit aanmekaar wil heg. Gebruik die ritssluitermetode met ’n effens groter hekelpen om te voorkom dat die las intrek.

Rand

Begin enige plek met ’n staande kortbeen. Hekel een kortbeen in elke steek op ’n kant, met drie kortbene in die hoeksteke. Sluit die rondte met ’n glipsteek. Begin rondte 2 met ’n glipsteek en herhaal dan rondte 1. Sluit die laaste rondte met ’n geheime hegsteek en werk die stertjies weg.
Blok indien nodig.

~~~

Categories Afrikaans Lifestyle Non-fiction South Africa

Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts Crochet and Conquer Hekel en word heel Hekel en word heel 2 Hilda Steyn Jessica Haasbroek LAPA LAPA Uitgewers Nadia de Kock Uittreksel


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments