C

‘Sy val onomkeerbaar langs die trein in’: Lees en luister na ’n uittreksel uit Bloedsteen deur Irna van Zyl
 More about the book!

Is jy opsoek na goeie lees- en luisterstof? Irna van Zyl se jongste misdaadroman Bloedsteen het vanjaar by Penguin Random House SA verskyn, in Engels, Afrikaans én as luisterboek.

Dinge ontrafel vinnig wanneer iemand speuradjudant Storm van der Merwe se ma voor ’n trein op Paddington-stasie instamp. Storm moet Londen toe, al is sy tot oor haar ore met ’n moordsaak: Beebee Bukelwa Babu, befaamde Suid-Afrikaanse modeontwerper, lê leweloos in ’n luukse hotel op Hermanus.

Die onlangse virtuele boekbekendstelling van Bloedsteen was ’n reuse sukses, en hier deel ons nou nie een nie maar twee uittreksels uit Bloedsteen. 

Laat jou ore proe aan ’n stukkie uit die heerlike nuwe Bloedsteen-luisterboek, voorgelees deur Chris van Niekerk:

 

Lees die uittreksel:

~~~

Vooraf

Londen

Speuradjudant Storm van der Merwe se ma val nie per ongeluk onder ’n trein op Londen se Paddington-stasie nie. Sy word gestamp.

Deur ’n kleinerige maer man met ’n donkergrys pet laag oor sy oë, ’n kakiegroen somerbaadjie, swart jeans, bruin skerppuntleerskoene en ’n ligbruin gelaatskleur. ’n Man wat so rats in die middag se gedrang van pendelaars verdwyn dat slegs enkele van die omstanders ’n flerts groen, ’n glimp van sy pet of ’n skraapsel ink teen sy keel onthou.

Net een ou kon agterna sy rugsak as ’n middelmatige, kleinerige een beskryf. ’n Swart sak argeloos oor sy een skouer, tipies van so baie manlike pendelaars in Londen. ’n Skootrekenaarsak met miskien wit strepe aan die kante en platterig asof daar nie eintlik veel boeke, klere, dokumente of selfs ’n klein rekenaar in is nie.

‘Dalk darem ’n pen of twee,’ maak ’n ou op tipiese Engelse manier ’n siniese grappie.

Storm se ma, Rowena, val sonder gil of geluid netjies in die gaping tussen die laaste wa en die tiende perron. Die perron waar die bogrondse trein van Twyford af gewoonlik inkom. Reg langs die brons standbeeldjie van Paddington-beer skuins op sy tas, groot hoed en al.

Rowena val met ’n slag reguit langs die spoor, parallel onder die trein in. Haar arms, verstommend genoeg, styf langs haar lyf. Haar bene goddank ook lankuit gestrek. In haar sjiekste someruitrusting. Gegroom vir ’n uitgelese Engelse gehoor van kundige modemense. Rooibont rok van ligte somerstof, kitten heels, sonbruin bene en met ’n stylvolle trench coat oor haar arm. Daarby ’n bypassende beige handsak en aktetas van sagte leer oor haar skouer.

In haar val verbeel sy haar sy onthou ’n jong man skuins agter haar, sy hand amper om haar lyf, asof ook hy steun soek in die drukte voor die oop deur van die trein. Háár hand op die lang blink handvatsel om haar op en in te hys. Die toeter wat die laaste waarskuwing blaas.

Dis toe dat hy haar stewiger om die lyf beetkry. En met sy skouer ferm kant toe stamp. Snel en flink. Soos ’n geoefende pendelaar wat tussen die malendes van Londen se oorvolste spitsverkeertrein nie anders kan as om iemand onbedagsaam uit die pad te loop nie.

Verniet probeer sy weer na die handvatsel gryp, want sy’s van balans af. Sy val. Haar knie kap teen die perron, haar hande raap na die sementrand.

Sy val onomkeerbaar langs die trein in.

Die dun somerrok bied geen beskerming teen die meter of wat ondertoe nie, die gruis hier pynlik hard onder haar kaal arms. Haar handsak tussen die spore oopgesper. Die inhoud van lipstiek, sleutels, tissues, spieëltjie en beursie saam met een rooi kitten heel tot niet op die klippers.

Haar vroulike aktetas en die somerjas verlate op die perron.

Weens skok bly sy eers net so lê. En toe, verdwaas oor wat met haar gebeur, gretig om weg te kom van die spoor af, probeer sy op haar elmboë orent kom. Net om die volgende oomblik met volle geweld deur die takelwerk van die vertrekkende trein teen die kop getref te word.

~~~

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Audiobook Bloedsteen Blood Stone Book excerpts Book extracts Chris van Niekerk Irna van Zyl Penguin Random House SA Uittreksel


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments