‘Sy trek die kombers stywer om haar skouers.’ Lees ’n uittreksel uit Rosita Oberholster se superromanza, Wilde Jasmyn vir Steyn
More about the book!
Ons is nog lank nie klaar met Valentynsmaand nie. So sit terug, skink ’n glas wyn of ’n koppie koffie, en smul aan hierdie uittreksel uit Rosita Oberholster se superromanza, Wilde Jasmyn vir Steyn.
Lees die uittreksel:
Selfveragting is ’n vieslike ding. Haat ook. Maar om jouself te haat is amper erger as om dié gevoel teenoor jou medemens te koester. Voeg daarby die hel van depressie en jy sit met die perfekte resep vir ’n wrak. ’n Selfveragtende, haatdraende, depressiewe wrak wat amper niks van die lewe weet nie. Pateties, met ander woorde. Twee en veertig jaar oud en sy weet nie eintlik hoe die lewe inmekaarsteek nie. En dis sagkens gestel. As sy heeltemal eerlik met haarself wil wees, het sy nie ’n donnerse clue nie.
Dit alles in ag genome, het sy dus ook nog nie geleef nie. Vir al wat sy weet, is sy al oor die helfte van die jare aan haar toegeken en sy het geen benul van wat dit is om die lewe te geniet nie. Daardie gedeelte is sommer net plein hartseer. En tog was dit haar keuse. Sy het gekies om agter ’n pottebakkerswiel vir die wêreld en die verlede weg te kruip. Nou het die verlede haar ingehaal en eis die lewe haar bydrae tot die samelewing.
’n Yskoue windvlaag kom om die hoek van die huis en ’n paar verdroogde akkerblare tol op die stowwerige stoep in die rondte. Vind hul weg tot teen ’n diggeweefde spinnerak wat aan die stoepreling hang en bly net daar sit. Die ou windpomp maak ’n aardige steungeluid en raak weer stil. Sy trek die kombers stywer om haar skouers. Die dag gaan binnekort breek en sy het nog nie geslaap nie. Dis die probleem as mens nie ’n doel het nie. Tyd raak irrelevant. Sy sug en tel haar amper leë koffiebeker van die leiklipvloer af op. Skiet die laaste bietjie koue koffie oor die stoepreling en sien hoe die Franschhoekberge vorm begin aanneem in die eerste lig van die nuwe dag. Wat sal sy vandag doen? Seker maar presies dieselfde as wat sy al vir bykans ’n jaar lank doen.
Niks.
Categories Afrikaans Fiction South Africa
Tags Afrikaans Boekuittreksel Book excerpts Book extracts LAPA LAPA Uitgewers Romanza Rosita Oberholster superromanza Wilde Jasmyn vir Steyn