C

Skade en skande op die strate van Parys: Lees ’n uittreksel uit Misverstand deur Marita van der Vyver
 More about the book!

Penguin Random House SA het onlangs ’n uittreksel gedeel uit Misverstand deur Marita van der Vyver – ’n boeiende roman oor die ontnugtering van die middeljare wat in 2017 op die rakke verskyn het.

Oor die boek

Willem Prins bewandel die strate van Parys. Eens was hy op koers om ’n gerekende skrywer in Suid-Afrika te word, maar na jare se probeer wink die koue water van die Seine – miskien sal sy verdrinking sy boekverkope bietjie opstoot, dink ’n swartgallige Willem.

Tot sy skaamte is dit die erotika wat hy onder ’n skuilnaam skryf wat hom na Frankryk gebring het. Terug na die stad waar een van sy drie eksvroue saam met sy oudste seun woon, ’n jong man wat sy pa skaars ken.

Vir Willem is Parys nie juis die stad van liefde nie, maar dit is hier waar hy vir Jackie ontmoet, ’n jong Suid-Afrikaner wat as au pair werk. Dit is ook sy wat saam met hom is dié Vrydagaand die dertiende toe terreur in Parys losbars.

Misverstand is klassieke Marita van der Vyver: ‘n boeiende verhaal met heerlike, eg-menslike karakters met wie mens jou kan vereenselwig!’ – Phyllis Green

Lees die uittreksel:

~~~

Daar is negentien mense in Femmes Violentes, ’n paar gedeeltelik weggesteek agter die boekrakke, wat hom laat wonder of daar dalk een of twee is wat hy nog nie raakgesien het nie. Hy tel hulle terwyl sy uitgewer ’n vleiende toesprakie oor hom maak. (Altans, hy hoop dis vleiend; sy Frans is heeltemal te swak om enigiets te verstaan.) Hy staan langs Martine Hulot met ’n verleë frons op sy voorkop en ’n glas druiwesap in sy hand, en oorweeg dit om sy uitgewer en die eienares van die boekwinkel ook by te tel, dan sou hy darem ’n totaal van een-en-twintig kry.

Dan hoef hy dalk nie ’n einde aan alles te maak nie, dink hy, ’n oomblik lank byna hoopvol.

Voordat hy besef dat hy sommige teenwoordig moontlik twee keer getel het, aangesien almal vir hom eenders lyk. Afgesien van die eienares, ’n vrou van Martine se ouderdom met ’n besonder flambojante voorkoms, haar hare vurig oranje gekleur, haar oë swaar en swart gegrimeer, en soveel stringe primitiewe krale om haar hals dat haar skraal skouers krom getrek word deur die gewig. Die res is meestal middeljarige dames in konserwatiewe uitrustings wat hom aan die tannies op die Suid-Afrikaanse platteland herinner, al woon hulle in Parys. Die hemel help hom as dít die profiel van sy Franse lesers is. Plus ’n paar manlike metgeselle wat seker onder dwang saamgesleep is en twee opvallend gay mans wat hand om die lyf staan en luister na sy uitgewer. Wat op aarde sou húlle besiel om ’n boekie oor vroulike plesier te wil lees? As hulle hoop dat Lolita Meyer se onoorspronklike beskrywings van die manlike seksorgaan hulle gaan prikkel, behoort hy hulle seker te waarsku dat hulle voor die verkeerde gat snuffel.

Une femme qui en veut, lees hy op die omslag van die boek wat Martine in haar spierwit goed versorgde hande vertroetel. Groot rooi letters teen die agtergrond van ’n smaakvolle swart-wit foto: ’n mat waarop ’n paar stukkies swart vroue-onderklere lê. Jy moet weliswaar twee keer kyk om te sien dis onderklere. Met die eerste oogopslag lyk dit bloot soos deel van die mat se geometriese patroon.

‘Ons wil nie ’n eksplisiete titel of ’n uitdagende omslag hê nie,’ het Martine hom ingelig. ‘Net so ’n soupçon van opwinding. Ons wil nie hê lesers moet skaam wees om die boek in die TGV of die metro of ’n dokter se wagkamer te lees nie.’

Óns? Willem het gewonder waarom sy soos ’n verpleegster klink wanneer sy met hom praat. Die enigste manier waarop hý ’n boek met só ’n titel en só ’n omslag in enige openbare plek sou lees, sou met ’n kardoes oor sy kop wees.

Net voordat Martine die eerste eksemplaar amptelik aan hom oorhandig, glip ’n elegante gryskopvrou by die winkel in, haar lang swart leerjas glinsterend van reëndruppels. Wat hom laat besef dat sommige van die ander mense moontlik ook net uit die reën wou ontsnap het, soos in Szymborska se spottende gedig oor ’n poësievoorlesing. (‘Die helfte het ingekom omdat dit reën, die res is familie. O Muse.’) Vat my weg, dink Willem, vat my nou. O Muse.

Dan swiep die nuweling haar breërandhoed af en skud die leerjas van haar skraal skouers af – en Willem kry so ’n skok dat die eerste eksemplaar byna uit sy hande val.

Dis Renée, die eerste groot hartstog in sy lewe, wat verstommend goed lyk vir ’n vrou van – wat? – séstig? Ja, sy is vyf jaar ouer as hy – op een-en-twintig en ses-en-twintig was dit ’n enórme verskil in ervaring, seksueel, intellektueel, wat ook al – maar nou lyk sy sowaar jonger as hy, ondanks die feit dat haar glansende swart hare intussen in ’n gesofistikeerde silwergrys kapsel verander het. Haar donker oë is agter ’n byderwetse bril weggesteek, haar lippe uitdagend bloedrooi geverf.

Sy knik vir hom en glimlag ’n onpeilbare Mona Lisa-glimlag – die bloedrooi mond bly toe – voordat sy uit sy gesigveld verdwyn. Maar nie voordat hy opmerk dat sy ’n noupassende swart rok dra en boonop haar vietse figuur behou het nie. Dus het sy nie net wonderbaarlik jonger as hy geword nie, maar ook fikser, gesonder, beter versorg, duurder aangetrek. Wat sekerlik nie sou gebeur het as sy met hóm eerder as haar welgestelde Franse sakeman getrou het nie.

Sy knieë voel ietwat lammerig en hy sak dankbaar neer by die tafeltjie waar hy boeke moet teken. Of waar hy soos ’n winkelpop in ’n winkelvenster moet sit en hoop dat iémand ’n boek sal koop en hom sal vra om sy naam voor in te teken. Watter naam? wonder hy nou vir die eerste keer. Hy kan tog seker nie sy gewone Willem Prins-handtekening in Lolita Meyer se boek skryf nie? En hoe sou Lolita se handskrif van Willem s’n verskil? Kleiner, krulleriger, ‘vrouliker’?

Te hel daarmee, besluit hy, toe een van die Paryse tannies hom kom vra om haar eksemplaar te teken, hy sal Lolita Meyer se naam in sy gewone slordige en skewe skrif skryf. Hy gaan nié sy laaste bietjie literêre eer kompromitteer deur Willem Prins se naam voor in ’n poesboekie te skryf nie.

Hy het klaarblyklik nie hierdie affêre deurdink toe hy so halsoorkop besluit het om Parys toe te vlug nie. Hy kan dit seker nou maar teenoor homself erken: Hy het dit hoofsaaklik gedoen omdat hy nie hierdie naweek in Suid-Afrika wou wees nie. Omdat hy te lafhartig is om nóg ’n literêre prysuitdeling by te woon waar Willem Prins se jongste roman weer eens nie die paal gaan haal nie. Nogmaals een van die finaliste, nogmaals nie die wenner nie. Altyd die vervloekte strooijonker, nooit die trotse bruidegom nie. Hy het eenvoudig nie kans gesien vir die ‘glansgeleentheid’ Saterdagaand in Johannesburg nie. Hy het net nie meer genoeg krag in sy moeë middeljarige lyf oor om weer ’n keer so vals soos ’n filmster vir die media se kameras te glimlag terwyl een van sy teëstanders as wenner aangekondig word nie. Medeskrywers se moer. Teen dié tyd het hulle almal teëstanders geword.

Hy’s gatvol geglimlag, het hy besluit, hy’t genoeg gebloei. Dís die rede waarom hy nou in ’n boekwinkel met die naam Femmes Violentes sit – nog méér as om sy ewig ontwykende seun te probeer sien – dís waarom hy nou sy bril op sy neus plak en ewe nederig Lolita Meyer se naam in ’n paar potensiële lesers se boeke teken. Dank die hemel nie een van hulle kan goed genoeg Engels praat om ’n geselsie aan te knoop nie. Hy het nog nooit van geselsies met potensiële lesers gehou nie – nie eens met sy ‘regte’ lesers wat sy ‘regte’ romans onder sy regte naam koop nie.

‘My ma is een van jou grootste bewonderaars!’

Hierdie asemloos opgewonde Afrikaanse woorde laat hom verstom opkyk. Voor hom staan ’n jong vrou met ’n karamelvel en ’n woeste Afro-haarstyl en bont hippieklere, so anders as al die deftige dames in die winkel dat hy nie kan glo hy het haar nie vroeër raakgesien nie. Óf sy het pas eers ingekom óf sy het agter ’n boekrak weggekruip. Hy kyk om hom rond asof hy skielik hoop dat ’n hele spul lesers wat soos dié ene lyk, ook nog iewers in die beknopte ruimte skuil.

‘Jou má?’ Eers toe hy oor sy verbasing kom, tref die angel in die kompliment hom. Hy is nou op die ouderdom wanneer mooi jong vroue hom vertel hulle ma’s is mal oor hom.

‘Wel, ek ook,’ sê die jong vrou met ’n verskonende laggie, ‘maar dis my ma se skuld. Vandat ek gebore is, was daar altyd van jou boeke in die huis. Sy’t altyd gesê as daar één Afrikaanse skrywer is wat ek moet lees, is dit jy.’

‘Lólita Méyer?’

‘Nee.’ Sy swaai haar hand asof sy Lolita Meyer soos ’n muggie wil wegklap. ‘Willem Prins.’

‘Maar hoe’t jy geweet? Dis nie algemeen bekend … h’m …’

‘Dat jy Lolita Meyer is nie? Natuurlik nie. Jy kon my met ’n pap snoek platslaan toe ek in die week hier by die winkel verbystap en jou foto in die venster herken. Ek het dadelik met my ma geskype en gevra of dit moontlik is dat Willem Prins “erotiese literatuur” onder ’n vroulike skuilnaam skryf en sy’t gesê: “Nee, vir wat sou hy dít nou wou doen?”’

‘Vra dit,’ prewel Willem, want hy hoor die sarkastiese aanhalingstekens waarmee sy daardie ‘erotiese literatuur’ behang.

Sy buig sameswerend nader aan hom, na genoeg dat hy patsjoelie of sandelhout of een van daardie hippiegeure van lank gelede aan haar kan ruik, haar uitdrukking iewers tussen besorg en geamuseer. ‘Wil jy nie hê die mense by die huis moet weet nie?’

‘Dis nie dat ek dit wil wégsteek nie,’ lieg Willem skaamteloos. ‘Dis net iets wat ek nie eintlik wou uitbasuin nie. Maar noudat hierdie boekie in Frans vertaal is, sal ek seker maar uit die kas moet klim, nè?’

‘Natuurlik sal jy moet. Iemand gaan jou out as jy dit nie self doen nie. So wat ek nou wil vra, is of ek asseblief die eer mag kry om dit te doen?’

‘Om wat te doen?’ vra Willem met ’n flou laggie.

‘Ek skryf vryskutstories vir Netwerk24 by die huis en ek dink dit kan ’n huge storie wees. Willem Prins se vroulike skuilnaam verower Frankryk.’

‘Hokaai. Het jy hierdie gemors …?’ Hy kan seker nie by die bekendstelling van die boek vir iemand vra of sy hierdie ‘gemors’ gelees het nie, besef Willem net betyds. Veral nie vir ’n verleidelike jong vryskutjoernalis nie. Maar hy sal haar op die een of ander manier moet neutraliseer, anders kan sy ernstige skade aanrig.

Aan die ander kant …

As hy nie Saterdagaand die Groot Prys wen nie, kan hy nie langer voorgee dat hy ooit eendag ’n groot skrywer gaan word nie. So hoe ernstig kan die skade en die skande nou eintlik wees? As Willem Prins skielik van die toneel verdwyn, sal sy boeke beter verkoop, daarvan het hy homself reeds oortuig. En as dit bekend word dat Willem Prins boonop onder ’n skuilnaam geskryf het, behoort Lolita Meyer se oorryp pennevruggies tog ook ’n groter aantal nuuskierige lesers te lok. Dan het hy minstens ’n erfporsie, in die vorm van tantieme, om vir sy kinders te los.

Want fokweet, hy het niks anders buiten slegte herinneringe om vir hulle te los nie.

‘Jou uitgewer sê sy sal vir my ’n boek gee as ek jou wil interview. Ek sal dit sommer vanaand nog gou lees – behoort mos nie te lank te vat nie?’

Spaar jouself die moeite, wil Willem sê, maar hy skud net sy kop. Hy kan hom voorstel hoe verlig Martine moet wees dat iémand van die media belangstelling toon. Al is dit nou ook die media doer onder in Afrika.

~~~

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts Marita van der Vyver Misverstand Penguin Random House SA Uittreksel You Lost Me


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments