C

Poppie is uit die kerk, maar die kerk is nie uit haar nie: Die opstand van Poppie Nel deur Hans du Plessis, nuut by LAPA
 More about the book!

Daar onder raas die see toe Poppie Nel dié dag voor dominee Lukas op sy stoep staan in haar kuise lang romp. Sy moet glo met iemand praat sodat sy kan opstaan. Poppie is uit die kerk, maar die kerk is nie uit haar nie.

Dit lyk of sy nie wil nie – nie wil praat of opstaan nie.

Lukas het ook nie regtig trek vir ’n pratery nie, sy eie pyn is nog vir hom te kosbaar, maar hy het nou hierdie herderlike plig, so dan moet dit maar.

Só ontvou Poppie se verhaal. Sy vertel vir Lukas van ’n pastoor wat openbarings kry, hoe die pastoor haar misbruik en hoe haar gesin, veral haar ma, medepligtig is.

Die boek slaan die hart hard, maar Lukas berei teen die einde ’n preek oor die liefde voor, want om te praat bring albei nader aan mekaar.

Kry die e-boek hier:

Oor die outeur

Hans du Plessis is op 15 Januarie 1945 in Pretoria gebore. Hy matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria en behaal ’n BA aan die Universiteit van Pretoria. Terwyl hy onderwys gee, verwerf hy ook die UOD, Hons BA en MA, laasgenoemde twee met lof, aan Unisa. In 1975 verwerf hy ’n doktorsgraad in Afrikaanse Taalkunde ook aan Unisa. Daarna volg hy ’n postdoktorale kursus in die linguistiek aan die Universiteit van Harvard. Hy woon verder in 1991 skryfskole in Iowa en Oklahoma by. Hy het reeds 160 publikasies agter sy naam, maar debuteer in 1978 as skeppende skrywer met die digbundel Kleinwild. Sy akademiese publikasies sluit taalkundehandboeke en taal- en letterkunde-artikels in nasionale en internasionale tydskrifte in. Sy skeppende werk sluit ses digbundels, drie jeugromans en vier romans in. Verder publiseer hy ook vele gedigte, rubrieke en kortverhale. Ses dramas en musiekspele uit sy pen word by verskillende kunstefeeste opgevoer. Hy verwerf onder andere die CR Swart-prys vir tienertoneel, die ATKV-kinderboekprys, ’n erepenning van die SA Akademie en die CBSA-prys vir godsdienstige werk vir die digbundel Innie skylte vannie Jirre, waarvan daar nou reeds meer as 65 000 eksemplare verkoop is. Hans is getroud met Magdaleen Potgieter en hulle het vier seuns en sewe kleinkinders.

***

LAPA vra dat al ons lesers hulle plaaslike boekwinkels sal ondersteun. Boekwinkels het jou nodig. Talle van hulle is vir beperkte ure oop, maar die meeste sal per telefoon of e-pos groot moeite doen om boeke op te spoor, baie sal selfs aflewer.

Ons hou ook aan om e-boeke in die mark te stoot, so ondersteun asseblief die skrywers as jy nie kan wag nie, maar onthou jy kan hierdie boeke nou al bestel en jou winkel sal hulle kry wanneer die drukkers weer boeke lewer.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Die opstand van Poppie Nel Hans du Plessis LAPA LAPA Uitgewers New books New releases


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments