C

‘Petrusburg was Jimi se rugbyhemel’: Lees ’n uittreksel uit Maretha Maartens se bekroonde jeugroman, Bethel se berg
 More about the book!

Op soek na die perfekte geskenk vir jou tiener se Kerskous? Lees ’n uittreksel uit Bethel se berg deur Maretha Maartens – naaswenner in LAPA se jeugromankompetisie 2020.

Dis die onstuimige tagtigerjare.

Bethel Hendrix, haar broers en hulle ma reis deur die land in ʼn Kombi. Hulle leef ʼn nomadiese bestaan en bly net vir ʼn kort ruk in een dorp voor hulle na ʼn volgende beweeg.

Om die gesin aan die lewe te hou, verkoop Bethel se ma vetkoek. Maar oral waar hulle kom, is dit duidelik dat die gesin anders is. Dat hulle arm is. Dat hulle nie in ʼn regte huis bly nie. Dat hulle ma anders lyk en dink. Dat daar nie ʼn pa saam met hulle is nie.

Al wat Bethel graag wil hê is ʼn plek waar sy haarself kan wees …

 

Lees die uittreksel:

~~~

Hoofstuk 8

Jimi die Blits

Petrusburg was Jimi se sportparadys. Die middag van ons eerste dag in AJC Jooste Gekombineerde Laeren Hoërskool is hy saam met Elias rugbyoefening toe. Iemand het hom geduik terwyl hy met die bal doellyn toe nael. Hy het uit die duik gebreek en net doellyn toe bly hardloop soos wat ’n verspringer in die lug bly hardloop wanneer hy die hitch-kick-ding doen.

‘Toe gaan druk hy sy drie,’ het Elias vir my en Mamma vertel. ‘Meneer se mond het oopgehang. Jimi was soos weerlig, Tannie. Ná die oefening het Meneer vir Jimi eenkant toe geroep en … Jimi, jy moet sê.’

Jimi se kop het gehang. ‘Dit was bleddiewil nes Queenstown.’

Elias het groot krappe aan sy been gekrap. ‘Ek het hom so jammer gekry, Tannie.’

Max en Richie het aan die proes geraak en Richie het uitgeblaker: ‘Hulle jok, Mamma! Jimi speel volgende kwartaal in ’n wedstryd teen Jacobsdal Landbouskool!’

Jimi kon hom nie in Queenstown in ’n rugbyspan inpraat of inwurm nie. In Petrusburg was hy Jimi die Blits. Meneer Stoffie, die afrigter-onnie, het hom gereeld eenkant gekry en vir hom gepreek.

‘Jimi Hendrix,’ het meneer Stoffie glo eenkeer vir hom gesê, ‘weet jy van versterkwater?’

‘Nee, Meneer,’ het Jimi geantwoord.

‘Dis ’n ander naam vir formalien. Lui dit ’n klokkie?’

Jimi het aangehou met sy ‘Nee, Meneer’.

Toe kry Jimi ’n wetenskaples. ‘Versterkwater word gebruik om weefsel van mense en diere in te preserveer. Verstaan jy?’

‘Ja, Meneer,’ het Jimi geantwoord. Hy het gehoop hy sou daarmee gouer kon wegkom as met sy ‘Nee, Meneer’.

Ou Stoffie se volgende woorde was vir hom heeltemal onverwags. ‘Jy moet jou op versterkwater sit, Jimi. Op sterk versterkwater. Dan gaan jy ver kom in die lewe. Veral op die rugbyveld.’

‘Hoe doen ek dit, Meneer?’ het Jimi gevra.

Ou Stoffie wou die antwoord by hóm weet. ‘Sê jy vir my hoe jy dit gaan doen, Jimi Hendrix.’

Jimi het nie die vaagste benul gehad nie. Mamma het eenkeer gesê formalien stink. Dit was al wat my broer van versterkwater geweet het.

‘Wil Meneer weet wat ek gaan doen om lekker te stink?’ het hy ná ’n ruk gevra. ‘Ek moet ophou bad en vir my tekkies kry en hulle amper nooit uittrek nie, al sweet my voete, Meneer.’

Max en Richie het dié deel van die storie die meeste geniet. ‘Jimi sê meneer Stoffie lag so gie-gie-gie-ahhhgie-gie-gie, Bethel!’

‘En toe?’ wou Mamma weet. ‘Los nou die lag, Max, Richie, dat Jimi kan vertel.’

‘Toe sê meneer Stoffie as hy my met ’n sigaret vang, foeter hy my. Dis hoe ’n rugbyspeler homself in versterkwater sit. Hy rook nie één sigaret nie. Hy laat hom nie in een sigaret of één zol in dare nie. Hy ry nie motorfiets nie. Hy droom nie eens van motorfietsry nie, want as hy val, val die bike op sy bene en dan moet die dokters sy bene afsit. ’n Rugbyspeler vloek nie een vloek nie, want ’n rugbyspeler wat vloek, pot sy opponente op die veld, en dan kry die ander kant strafskoppe. En daardie skoppe is áltyd oor, dan sien jou span sy gat.’

Petrusburg was Jimi se rugbyhemel.

~~~

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Bethel se berg Book excerpts Book extracts Jeugroman LAPA LAPA se jeugromankompetisie 2020 LAPA Uitgewers Maretha Maartens Uittreksel


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments