’n Kombers van boosheid daal neer wanneer ’n vyfjarige kind verdwyn in Brandmerk deur Christelle van Rooyen-Wessels
More about the book!
Hy kan eerlik sê kleintjies hou van hom. Dit laat hom altyd dink dat hy ’n goeie pa sal maak. Die dogtertjie weeg byna niks en hy pluk haar met gemak tot binne-in sy voertuig. Hy trek dadelik weg, die spartelende kind oor sy skoot. Sy probeer onder sy greep uit kom, maar hy druk haar half onder die stuurwiel in. Hy kyk rond. Niemand storm uit ’n huis of roep agter hom aan nie. Hy neem aan hy het bespeuring ontglip. Hy gee ’n ingenome laggie. Practice makes perfect, nè.
’n Kombers van boosheid daal neer oor ’n plattelandse dorp wanneer Portia Serape se vyfjarige dogtertjie gegryp word, maar dit is net die begin. Haar familie probeer naarstiglik om die kind op te spoor.
Nuus van die vermiste meisiekind bereik Klara Dean – eens Francke – waar sy as maatskaplike werker by Veilige Hawe op die dorp in die Kalahari werk. Klara het die stukkies van haar lewe opgetel nadat sy en haar lieflingseun David die wreedheid van haar eksman oorleef het. Nou het Klara ’n nuwe, liefdevolle man en ’n oulike vierjarige. Maar die nuwe vlaag onheil bedreig hul veiligheid, en hou kaptein Coghran en die plaaslike polisie wakker tot diep in die nag.
Oor die outeur
Christelle van Rooyen-Wessels is op De Aar gebore en is tans die redakteur van een van die oudste gemeenskapskoerante in die land – die Stellalander. Sy woon in Vryburg in Noordwes. In 2004 ontvang sy die Sanlam Gemeenskapsperstoekenning vir Joernalis van die Jaar: Menslike Nuus. Adder is haar debuut.
Categories Afrikaans Fiction South Africa
Tags Afrikaans Brandmerk Christelle van Rooyen-Wessels New books New releases Penguin Random House SA