C

’n Ballade vir Nkunzi deur Ben Viljoen: ’n Kroniek van smart, verraad en ’n goeie skeut galgehumor
 More about the book!

’n Ballade vir Nkunzi deur Ben Viljoen het pas op LAPA se rakke verskyn!

‘Weet jy wat is die heel beste van flat rock bottom wees? As jy eers dáár is, kan alles en enigiets jou droom wees.’

Daar is min verhale in Afrikaans wat armoede uitbeeld soos ’n Ballade vir Nkunzi.

Bennie Welman se pa is ’n trokdrywer, hy suip elke Vrydagaand sy geld uit. By die huis wag Bennie, die ses ander kinders en sy ma op die geweld wat sál kom wanneer Bernard Welman uiteindelik die huis in strompel.

Nes die gesin dink dit kan nie erger nie, bewys die noodlot hulle verkeerd.

Dan, een aand wanneer daar reeds weke lank nie kos in die huis is nie, vra Drien, Bennie se ma, aan hom: ‘Weet jy wat is die heel beste van flat rock bottom wees?’

Drien staan uiteindelik op en skep ’n mate van sekuriteit vir haar kinders.

Ben haat sy pa en meet uiteindelik ook sy kragte op teen die ou bul. Die enigste ding wat die kloof tussen pa en seun soms oorbrug is hul liefde vir musiek.

Viljoen se karakters is mense wat lééf; die leser kan met iedereen identifiseer. Die skrywer maak nooit die fout om aan sentiment toe te gee nie. Musiek is die enigste vorm van verhewenheid in hierdie afskuwelike omstandighede; dit is ook die enigste genaakbaarheid wat Bennie in sy pa gewaar.

’n Ballade vir Nkunzi beweeg van die een bisarre situasie na die volgende in ’n kroniek van smart, verraad en ’n goeie skeut galgehumor. Uiteindelik word dit ’n verhaal van triomf van die menslike gees oor verwoestende lewensomstandighede.

Oor die outeur

Ben Viljoen het grootgeword in Vereeniging, waar hy aan die Hoërskool Drie Riviere gematrikuleer het. Vir die grootste deel van sy werksloopbaan was hy betrokke aan die administratiewe kant van lewensversekering. Hy het diens gedoen in die Oos-Kaap, Wes-Kaap, Vrystaat en KwaZulu-Natal. Intussen het hy afgetree en woon deesdae in Bellville. Van sy kortverhale is gepubliseer in bloemlesings soos Van spoke gepraat (Tafelberg Uitgewers, 2006), In ’n neutedop (Bateleur Books, 2006) en Grensoorlogstories (Litera Uitgewers, 2012).

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags 'n Ballade vir Nkunzi Afrikaans Ben Viljoen LAPA LAPA Uitgewers New books New releases


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments