C

Liefde, hartstog, intrige … LAPA se nuwe Romanzas is pure leesgenot!
 More about the book!

Nou beskikbaar by LAPA Uitgewers! Vier lekkerlees-liefdesverhale deur Cecilia Nortjé, CM Christians, Corné van Rooyen en Malene Breytenbach.

Tussen kêrels deur Cecilia Nortjé

Tussen kêrelsAnnie Kruger is werkloos, en kêrelloos. Wanneer sy die geleentheid kry om vir ses weke vir die beroemde skrywer, Richter Jans, te gaan huishou, gryp sy dit met albei hande aan. Maar die bebaarde, bot man wat haar op die lughawe ontmoet lyk geensins soos die aantreklike skrywer op sy boeke se agterblaaie nie.

Richter het nie verwag dat sy nuwe huishoudster soos Annie gaan lyk nie. Nog minder dat sy so vinnig emosies in hom gaan wakker maak wat hy verkies om onder slot en grendel te hou na sy vrou se dood. Annie probeer op haar beurt om nie vir Richter in haar hart toe te laat nie. Die enigste vlieg in die salf is die buurman wat ongevraagd Kupido begin speel om Richter van sy wewenaarskap te verlos.

Oor die outeur

Cecilia Nortjé woon op ’n plaas met haar gesin. In die week is sy ’n lektor by die VOO Kollege en naweke versin sy romanses. Sy raak opgewonde oor reën in die Bosveld, goeie kos, ’n kwinkslag wat met perfekte tydsberekening kwytgeraak word, en is ’n onversadigbare boekevraat. Sy is ’n regterbreinmens wat haar uitleef in tuinmaak, skryf en teken.

***

Reis na liefde deur CM Christians

Reis na liefdeKarli stel nie belang in ’n vaste verhouding nie. Nóg minder om deel te wees van ’n nuwe realiteitsprogram soortgelyk aan ‘The Bachelor’. Wanneer haar beste vriendin, Juliet, haar hulp nodig het om haar werk te red, dink Karli nie twee keer nie. Die plan is eenvoudig: daag op vir die eerste aand se verfilming sonder die risiko om gekies te word vir die program. Of só dink hulle.

Dokter Armandt Schutte se familie reken dit is tyd dat hy minder op sy loopbaan fokus en meer op sy liefdeslewe. Onbeplan beland hy as die eerste Bachelor in Reis na Liefde. Armandt is egter nie iemand wat hom laat voorsê nie. Binne ’n oogwink bevind Karli haarself op ’n luukse seiljag saam met nege ander dames wat meeding om Armandt se liefde te wen. Sal sy haar hart teen die aantreklike en sjarmante Armandt kan beskerm? Nog belangriker: gaan haar tyd op Reis na Liefde in ’n ramp eindig?

Oor die outeur

CM Christians is ’n boekwurm wat op ’n klein plattelandse dorpie in die Noord- Kaap grootgeword het. Op twaalfjarige ouderdom verhuis hulle na die Kaap en verloor haar hart in die Boland. Sy wou as kind ’n skrywer wees en het ná skool tale gaan studeer. Met die ondersteuning van haar man het sy uiteindelik die moed bymekaargeskraap om haar drome op papier vas te vang. Hierdie is haar eerste Romanza.

***

‘n Ultimatum vir liefde deur Corné van Rooyen

'n Ultimatum vir liefdeNa die tragiese dood van hulle seuntjie in ’n motorongeluk, moet Ruhan en Anika die stukkies van hulle lewe optel. Anika sukkel om hul kind se dood te verwerk en in die proses verstoot sy vir Ruhan en lei dit tot talle rusies tussen hulle. Anika betrap vir Ruhan en sy sekretaresse in ’n hartstogtelike omhelsing. Sy dagvaar hom vir ’n egskeiding, nét toe die president die lansdwye inperking aankondig.

Ruhan stel Anika voor ’n ultimatum: hy sal instem tot die egskeiding as sy na die inperkingstyd steeds dieselfde voel. Sy stem teësinning in, maar haar skuldgevoel, rou en onsekerhede bly egter tussen hulle kom en vergemaklik nie hulle verhouding nie. Gaan Ruhan dit regkry om Anika te oortuig hoe lief hy haar het, of is sy pogings tevergeefs?

Oor die outeur

Corné van Rooyen is gebore in Pretoria, maar verhuis later na Paulpietersburg, ’n klein dorpie in KwaZulu-Natal, waar sy steeds woon. Ná skool het sy deeltyds gewerk en studeer deur Unisa waar sy haar LLB-graad verwerf het. Sy was nog altyd baie lief vir lees en het van kleintyd al haar eie stories geskryf met die droom om in gewilde skrywers soos Ena Murray en Schalkie van Wyk se voetspore te volg.

***

Lieflik vloei die Nyl deur Malene Breytenbach

Lieflik vloei die NylMisdaadskrywer, Senta Burger, se jongste roman verkoop goed. Sy besluit om ’n blaaskans te neem en op ’n reis te gaan op die Nylrivier in Egipte. Saam met ’n klein eksklusiewe toergroep van tien mense ontmoet sy die Durand-broers, Paul en Robert. Van die staanspoor af is sy aangetrokke tot die onweerstaanbare, enigmatiese Robert, maar hul albei het egter gebroke huwelike en is versigtig vir nuwe verhoudings.

Gedurende die toer is daar talle drama en lewensgevaarlike situasies wat hul saam beleef. Deur alles bewys Robert dat hy ’n uitsonderlike man is en verloor Senta haar hart op hom. Stadig ontluik die liefde tussen hulle, maar kan ’n nuwe verhouding al die intriges van die Nyl oorleef?

Oor die outeur

Malene Breytenbach het tot ouderdom veertien in Gweru, Zimbabwe, gewoon. Hulle gesin het geëmigreer en in Pretoria het sy aan Afrikaanse Hoër Meisieskool gematrikuleer. Sy het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer, as vertaler gewerk en is ook as beëdigde vertaler ingesweer. In 1985 het sy en haar man Willie en dogter Karen na Stellenbosch verhuis waar sy aan die Universiteit Stellenbosch Joernalistiek, Ou Nabye Oosterse Studie en Antieke Studie gestudeer het. Sy het by die Universiteit gewerk, in Openbare Betrekkinge, Kommunikasie en Stellenbosch Stigting. Tans skryf sy voltyds.

Haar debuutromanse, Palmyra herleef, is in 2005 deur LAPA Uitgewers gepubliseer. Daarna het sy begeesterd voortgeskryf en trek verby vyftig romanses (kontemporêr, medies, histories, Romanza en Superromanza). Tussenin skryf sy romans en kortverhale. Haar roman Skadumagte het in 2020 by Lapa verskyn. Sy is ’n ywerige en gulsige leser. Skryf is vir haar terapie, ontvlugting en plesier.

***

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags 'n Ultimatum vir liefde Afrikaans Cecilia Nortjé CM Christians Corné van Rooyen LAPA LAPA Uitgewers Lieflik vloei die Nyl Malene Breytenbach Reis na liefde Romanza Tussen kêrels


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments