Lees ’n uittreksel uit Wilken Calitz se betowerende debuutroman, Swart swaan
More about the book!
Penguin Random House SA het ’n uittreksel gedeel uit Wilken Calitz se debuutroman, Swart swaan, ’n betowerende roman oor die lewe van ’n man wie se verbeelding op ’n dag vlerke kry.
’n Monsteragtige wese het hom in Fabian se tuin tuisgemaak – ’n ondier met ’n dodelike aptyt.
In die skadu van die dobbelhuis waar Fabian ’n veiligheidswag is, werskaf hy en Mossie, pas uit die tronk, om vir die gedierte ’n blyplek te bou en hom te versorg.
Lees die uittreksel:
***
Dit val hom altyd op hoe Veronica – of Bessie of Samantha … hel, hy weet deesdae nie eens wie in die beheerkamer werk nie – se stem kalm bly wanneer die details aan hom deurgegee word. Selfs al is die krisisgeval se oë klaar omgedop van ’n cocaine overdose.
‘Fabian, kom in. Fabian. Vloer sewe, VIP section. Gaan loer gou bietjie in daarso. Klink of hy jonk is. Oor en uit.’
As die persoon reeds dood en vol kots is, is dit bloot ’n oproep om te gaan help skoonmaak, of om die slap lyf iewers heen te sleep. Hoe ryker en hoe meer geld die aand by die slots of die roulette-tafel verloor is, hoe morsiger die dood. Dít glo hy vas. Armes wat ’n slegte aand gehad het, lê op die bank met skuim om die lippe. Pille is goedkoper as bullets. Rykes trek ’n sneller met ’n wit muur as agtergrond en laat dit lyk soos daai moderne kunsding wat in die hotel se lobby hang.
Vroue is gewoonlik mooi aangetrek. Hulle probeer maar altyd om nie te oop bene te lê nie, sodat daar nog bietjie waardigheid oorbly. Dit geld vir ryk, arm, wit én swart. Gelowiges se breërandhoede lê soms dáái kant toe as hulle geskiet het. Gereformeerdes skiet ook, meestal op Sondae.
Die oproep kom terwyl hy sy stewels blink vryf. Vanoggend sal hy weer te vroeg by die werk wees, soos gewoonlik as hy nie nagskof doen nie.
Sy koeëlvaste baadjie, das, gestrykte hemp en die belt wat hy op Maandae dra, hang reeds oor ’n hanger in die waskamer. Hy het al sy pa se buckles geërf, een vir bykans elke tipe geleentheid en gevoel. Sy pa se enigste voorskrif was dat die kerkbelde nie in die week gedra mag word nie.
Fabian het onlangs dié aspek weer bedink, net om sy opsies oop te hou. Die casino is maar die nuwe kerk, het hy besluit, dit laat mense goed én sleg voel oor hulleself. Iemand moet dit net neerskryf en soort van meer official maak. Mense kort nog steeds ’n idol, iets of iemand wat suiwer is.
Deesdae moet hy maar die koedoevelbelt dra. Dis bietjie breër gesny as die ander, en dit help om sy maag se ergste swaai te beheer as hy móét hardloop. Vir vandag kies hy ’n blink buckle om hom te herinner dat die jaar amper verby is. Nog net ’n paar maande van vroeg opstaan en laat werk, dan kan hy braai in sy lapa so lank en so lekker as wat hy wil.
Merinda lê nog doodstil in die bed. Haar neus is al wat tussen die twee slaapkussings uitsteek. Die onderste kussing is vir slaap en die ander een om die geluide van buite af te demp. Saans sluimer sy in met ’n laken oor haar dye, maar wanneer sy wekker soggens afgaan en hy kyk of sy daarvan wakker geword het, het sy haar reeds toegespin in die beddegoed.
Haar koffie bedien hy halfses langs haar bed, met ’n madeliefie op die rand van die beskuitbordjie vir ’n bietjie kleur. Vir die laaste twee jaar, terwyl sy toe-oë haar drome klaarmaak, hou hy sy handpalm oopgestrek oor haar wang. Altyd so naby as wat hy kan, om te voel of die littekens van die kanker warmer lug uitstraal as ander plekke op haar lyf – haar lyf wat hom nog elke keer onkant betrap as hy die swaai van haar heupe dophou wanneer sy loop, of haar kuite wat bol trek wanneer sy iets bo in die spenskas probeer bykom.
Afgesien van die tyd wat Merinda in die hospitaal was, is Fabian se vroegoggende die afgelope vyf-en-twintig jaar presies dieselfde. Opstaan. Blom pluk. Koffie. Stewels. Belt en buckle. ’n Soen in haar nek, waarna sy ’n arm uitstrek en ’n genuine lekkerkry wys met hoe haar lyf onder die lakens kriewel. Twee minute. Dis hoe lank die vrede tussen haar en die kokon hou, want sodra sy met haar hand oor die snye aan haar gesig vee, is die lekkerkry weg en kan hy sweer daar blaas koue lug by haar keelgat uit.
Die oproep uit die beheerkamer. ‘Waar’s jy, Fabian?’
‘Jis-jis, nog by die huis. Dis nou eers kwart voor vyf. Hoe oud?’
‘Sorry, man. Moeilik om te sê, seker so mid-forties. Ek reken hy’s ’n springer en hy loer al vir die mense by die blinds uit. Brian sê die ou sal not de fok daai deur oopmaak nie. So, ek dink dis ’n moeilike ou. Vloer twaalf.’
‘Kamer?’
‘Royal Suite.’
‘Altyd die Royal Suite.’
‘You know it. As jy op die ander plek is, kan hulle nie vir jou ’n bill stuur nie.’
Hy het al ’n keer of wat met springers gewerk. Hulle is nooit ryk nie. Average nice guys, middle of the road, met iets wat nie lekker lyk op die gesig nie. Soms is dit die snor met ’n stukkie geel nikotiengevlekte hare onder die neus en moerse krulle aan weerskante. Ander kere is dit die lui oë wat nie pas by die kuif nie. As ’n springer die teerblad tref, is dit altyd gesig eerste. Dan maak dit anyway nie meer saak hoe hy lyk nie. ’n Mens sien dit wat jy klaar weet aan die truitjie. Meestal ’n vuil woltruitjie.
Vroue spring nie eintlik nie.
Hy sluk die laaste van sy koffie en gryp ’n paar vrugte. Dis al kos vir vandag. Hy móét nou begin gewig verloor. Die beste vakansie van sy lewe lê voor en hy wil goed lyk in ’n swembroek as hy en Rindatjie tussen die visse duik.
Daar is nog een deel van sy oggendroetine oor, iets wat hy nie kan oorslaan nie. Hy wil net seker maak alles is nog reg. Dat niemand in die nag kom neuk het met dit wat vir hom gegee is nie. Deur die Hoër Hand, daarvan is hy seker. En nogals toe hy dit die minste verwag het.
Hy sal betyds by die werk wees. ’n Springer soos vanoggend s’n neem gewoonlik ure om te besluit. Die helfte van hulle spring nooit eens nie.
In die hoek van die tuin sluit hy die hok oop wat hy self gebou het. ’n Paar wilgertakke sleep oor die sinkdak soos die wind van die mynvelde af deur die dorp stoot. In die wintermaande bly die wind weg. Al wat dan oor die dorp kom lê, is die verlangse gedreun van Johannesburg se snelweë en ’n kil ryp wat die gras verskrompel.
Die boerbokke weet al hulle moet padgee as daai slot klik, want hy kom grawe weer reg onder hulle lêplek. Dis altyd die rammetjie wat hom eerste sien aankom en opstaan. Dan volg die twee ooitjies, blêrende agter hom aan. Deesdae roer hulle al as die eerste huislig aangaan.
Hy trek ’n blou overall oor sy werksklere aan. Die moue word met rekkies by die polse vasgemaak en die handskoene kom tot in die middel van sy voorarms. Hy trek ’n mus oor sy kop om seker te maak die bokmis gaan sit nie in sy gejelde hare nie.
Tot dusver weet Merinda niks van sy geheim nie. Dit moet so bly. As dit kom by anniversaries, is verrassings net soveel beter.
Met sy uniform bestand teen reuke en merke, kniel hy en druk sy hand onder die saagsels in tot net sy skouer uitsteek. Met die opkom trek hy die staalboks uit en hou dit voor sy oë.
Hy is dankbaar. Dis al wat hy kan dink en al wat hy kan sê. Dankbaar tot in ’n plek in sy lyf wat hy nie geweet het bestaan nie. As daar nog net een gelukkie soos dié na sy kant toe kan kom, is die knoop deurgehak.
‘Een van die dae,’ fluister hy voor hy die slot laat oopklik, ‘een van die dae is ek en Rindatjie ver oor die waters.’
Dis alles syne. Hy kan dit steeds nie glo nie. Dis vir hom gegee. ’n Geskenk. En dít gee jy nie terug nie.
Dis ook nie asof hy daarvoor gevra het nie. Daardie dag twee maande terug toe hy alleen in die suigwind van die casino se deliveries-ingang gestaan het, het ’n mooi ding deur hom gewaai: die besef dat hy vir die eerste keer in ’n lang tyd die Hoër Hand ervaar het. Sonder oordeel het dit daar op die rubbermat voor sy voete iets vir hom kom neersit. Net vir hom.
En agter hom het die frisgeboude ou van Goldcoin Security weggery sonder om sy optelfout agter te kom. Net twaalf van die dertien geldbokse het dit tot in die trok gemaak.
***
Swart swaan is as e-boek beskikbaar:
Categories Afrikaans Fiction South Africa
Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts Penguin Random House SA Swart swaan Uittreksel Wilken Calitz