Lees ’n uittreksel uit Grensgeval deur Marita van der Vyver: ‘Daar is soveel wat sy nooit gehoor het nie … nie wou hoor nie’
More about the book!
Marita van der Vyver se roman, Grensgeval, bekyk die Suid-Afrikaanse Grensoorlog (1966 tot 1989) van die kant van vriend én sogenoemde vyand.
Die verhaal begin wanneer Theresa ’n brief ontdek tussen haar oorlede eks-man se besittings. Sy besef gou die brief is deur ’n Kubaanse soldaat aan sy kind geskryf – iemand wat, indien hy of sy nog leef, nou minstens veertig jaar oud sal wees.
Wie sou ooit kon dink dié stukkie papier sal haar eie lewe dekades later só verander?
Lees die uittreksel:
~~~
Sy dog dis alles verby. Sy was te besig, sy kon nie die pyn bekostig nie – hoe gaan daardie liedjie van Carly Simon nou weer? – sy het geweier om toe te laat dat die hartseer weer vatplek kry. Sy wieg liggies vorentoe en agtertoe, vorentoe en agtertoe.
Nou waar kom hierdie stortvloed van trane dan vandaan?
Een van haar trane drup op die boonste vergeelde foto in die oop skoenboks. Goeie genade, as sy só aanhou, gaan die kiekies almal waterskade ly, dan sal hulle nog dowwer word as wat hulle klaar is, nog moeiliker om te vertolk. Terselfdertyd wens sy sy kon so oorvloedig huil dat die kiekies heeltemal wegspoel, dat haar trane ’n rivier word waarin die ou boks en alles binne-in soos ’n boot wegdryf, die ongewenste foto’s, briewe, herinneringe, weg, weg, weg.
Dis ’n lelike ligbruin boks vir ’n paar manskoene, nommer elf; sy kan nie die skoene onthou nie, goddank nie, nie dít ook nog nie. Daar is heeltemal te veel wat sy vanaand onthou. Die boonste kiekie lyk dof. Sy weet nie of die wasigheid te wyte is aan haar trane, of omdat die foto effens uit fokus is, of omdat haar leesbril nie op haar neus is nie. Waarskynlik ’n kombinasie van al hierdie faktore.
’n Groep dienspligtiges in vodderige groenerige klere iewers in ’n geilgroen boslandskap. Sommige se bolywe is kaal, sommige se langbroeke is afgeknip om kortbroeke te word, ander se hempsmoue is afgeskeur sodat seningrige arms ontbloot is. Die meeste van die bolywe en arms behoort nie aan mans nie; dis die haarlose borskaste en dun arms van seuns wat nie genoeg kry om te eet nie. Party van die gesigte lyk te jonk vir die snorre op die bolippe. Die té lang kuiwe en té kort kortbroeke maak dit met die eerste oogopslag duidelik dat die foto uit die jare sewentig kom. Die onversorgde baarde van daardie dae lyk so anders as die pynlik getemde baarde wat jong mans deesdae weer kweek. Die hipster in die huis langs hare, die popsangers en rugbyspelers, die getatoeëerde en bebaarde rolmodelle van die byderwetse jeug.
As sy kinders gehad het, sou hulle seker ook só gelyk het.
As.
Theresa vee oor haar oë, vat haar bril raak op die koffietafel langs haar, bekyk die foto weer om Theo te probeer herken. Dit was ’n hele paar jaar voordat sy hom as nagraadse student op Stellenbosch ontmoet het. Watter een van hierdie grynslaggende tienerseuns sou verander het in die gefolterde man wat sy liefgekry het? Dalk die maerste ou in die middel, die wilde bos swart hare, die skewe glimlag – tóé al? Ja, sy herken die kuite onder die toiingrige afgeknipte langbroek. Sy onthou hoe mooi sy bene altyd vir haar was, die lang lenige dye, die skerp knieë en gespierde kuite en dun enkels en smal Griekse voete.
Troep Theo van Velden in die somer van 1975/1976 ‘iewers aan die grens’.
Net, hy was toe eintlik al ver oor die grens. In Angola mag hulle nie die bruin weermaguniforms gedra het nie, het sy eers baie later gehoor. Hulle het sulke groen ‘tronkklere’ gedra wat aan hulle lywe gevrot het. Bata-tekkies, pleks van weermagstewels. Dog tags aan die ketting om die nek afgehaal, handelsmerke verwyder van tandepastabuisies en seep, geen persoonlike besittings wat aandui dat hulle Suid-Afrikaners is nie. Ingeval hulle gedood of gewond of gevange geneem word. Want dit was mos veronderstel om ’n geheime inval te wees. Sommige van hierdie besonderhede het sy stuk-stuk deur die jare gehoor, altyd onverwags en gewoonlik ongevraag, wanneer hy saans te veel gedrink het of snags hygend uit ’n nagmerrie wakker geskrik het.
Maar daar is soveel wat sy nooit gehoor het nie.
Wat sy waarskynlik nie wóú hoor nie.
Aan die einde van 1975 was sy vyftien jaar oud, in standerd sewe op ’n Bolandse dorp so ’n uur se ry van Kaapstad af. ‘Sorgvry’ is nie die woord wat sy destyds sou gebruik het om haar lewe te beskryf nie, want haar tienerjare was die ene sorge en kwellinge. Sy was nie so maer soos sy graag wou gewees het, nie naastenby so gewild onder die ander skoolkinders soos sy gedroom het om te wees nie, en haar ouers kon nie verstaan het waarom sy ure lank in haar bedompige slaapkamer na Pink Floyd se The dark side of the moon lê en luister het nie. Oor en oor. Sy het nie geweet wat sy eendag wou word nie, sy het skaars geweet wat sy wás, behalwe verward, verveeld, vervreemd.
Categories Afrikaans Fiction South Africa
Tags Afrikaans Book excerpts Book extracts Grensgeval Marita van der Vyver Penguin Random House SA Uittrekse