Lees ’n uittreksel uit Die dooies praat nie, die sesde titel in Peet Venter se Thys Krige-reeks
More about the book!
In Die dooies praat nie, die sesde titel in Peet Venter se Thys Krige-reeks, bevind Thys homself met ’n belangrike dokument wat hy vir die ondersoekende joernalis Petro de Wet moet aflewer.
In die dokument word daar van opstand en gewapende mobilisasie gepraat, ’n tweede Marikana. Die vrou wat dit vir hom gee beweer dat sy wegjaag van drie mans, en Thys voel verplig om haar te beskerm, al wil hy nie betrokke raak nie.
Lees die uittreksel:
***
Een
Petro is ’n minuut of wat laat. Nie ’n goeie ding ná ’n week se afwesigheid nie. Veral nie in die lig van die rede daarvoor nie, wat seker ook die oorsaak is van die kyke wat sy kry. Die veelseggende soort wat jy kan verwag as skandelike foto’s van jou man en ’n klein flerrie wat sy dogter kon wees die sosiale media vol lê. Hulle het seker verwag om ’n gebroke wrak te sien wat binne ’n week twintig jaar ouer geword het. Wel, wat hulle sien, is dieselfde uiterlike Petro de Wet as ’n week gelede, maar hulle wil nie kennismaak met wat hier binne aangaan nie. Dis nie so mooi nie.
‘Ek is bly dat jy ’n tydjie kon inruim, Petro,’ sê Marius in sy hoendermisstemtoon.
Die man moet haar wragtig nie soek nie. Nie vandag nie, nie môre nie, nie in die afsienbare dêm toekoms nie.
‘Ek moes eers ’n belangrike oproep maak,’ sê sy in haar joumoerstemtoon.
Sy sit. Op die enigste onbesette stoel, outomaties vir laatkommers gereserveer. Wat haar van aangesig tot aangesig met Marius in sy redaksionele stoel plaas. Vierkantig in die oë. Dit kan interessant raak.
Hy kyk haar. Sy kyk hom terug.
‘Reg,’ sê hy. ‘Wat is nuus?’
Stilte.
‘Ek sien, afgesien van my en Petro, het elkeen ’n beker koffie saamgebring,’ sê Marius. ‘Dus kan ek redelikerwys aanvaar dat almal wakker is. Is dit dan nodig dat ek dit moet herhaal? Wat is nuus?’
Stilte.
Marius sug. ‘Wel, dis gerusstellend as niks meer in die wêreld daar buite gebeur nie. Dit beteken ons lewenstaak is afgehandel en ons kan maar die ligte afskakel, die deure sluit, by die huis op ons basse gaan sit en kyk hoe niks om ons gebeur nie. Die Sonop is ’n koerant, mense. ’n Koerant is ’n besigheid. As ons nie nuus publiseer wat die publiek se aandag trek nie, daal ons leserstalle. Wanneer ons leserstalle daal, onttrek adverteerders. Dis ’n eenvoudige sommetjie: Minder lesers plus minder adverteerders is gelyk aan minder inkomste.’
’n Paar basse word effens op stoele geskuif. ’n Snuif hier en ’n kug daar. ’n Koffiebeker of twee word op die tafel in die rondte gedraai en met gepas nadenkende uitdrukkings beskou, asof die draaiers wonder hoe die goed voor hulle op die tafel beland het. Maar meestal word daar in lêers geblaai en/of op skryfblokke gekrap. Waarskynlik om ’n meer produktiewe indruk te skep.
‘Dit was langnaweek,’ sê Margie Ekonomie. ‘Die Beurs was gesluit.’
Marius het ’n manier om iemand te ignoreer. Hy het so ’n fyn kuns daarvan gemaak dat jy die geïgnoreerde met net ’n tikkie verbeelding kan sien vervaag en verdwyn.
Petro sien ’n uitgerekte storie kom. As Marius eers aan die gang is, kry hy nie maklik end nie. Sy weet as sy blik só die rondte om die tafel doen, maak hy hom reg vir die volgende sarsie. Hy soek net een om by te begin.
‘Ek het moontlik iets,’ spring sy hom voor.
Marius se wenkbrou wip bo sy brilraam uit. ‘’n Stem in die woestyn, maar met ’n wanklank of twee. Moontlik? Iets? Ek herinner my dat ons die begrip “vaag” en alles wat naastenby daaraan verwant is, uit ons professionele tesourus verban het.’
‘Jy het gevra of daar nuus is. Ek het moontlik nuus en dit lyk of dit al is wat jy vanoggend gaan kry. Gebruik dit of los dit.’
Marius maak ’n sirkelbeweging met sy hand oor die tafel voor hom, asof hy iets onsigbaars met sy wysvinger roer. ‘Kan jy daarop uitbrei? Die moontlik en die iets. Duidelikheidshalwe.’
‘’n Vrou het my netnou gebel oor ’n dokument wat sy in die hande gekry het. Ek moes reël dat dit gehaal word. Dis die oproep wat ek gemaak het.’
‘’n Dokument? Ek aanvaar dit sê iets.’
‘Soos ek haar verstaan, het dit te doen met ’n oproep aan die jeug om te mobiliseer vir die final struggle.’
‘Die final struggle? Is dit ’n ANC-ding?’
‘Kan wees, maar die ANC het seker nie kopiereg op struggle nie. Die vrou was opvallend senuweeagtig en onsamehangend, maar sy het iets gesê van militêre opleiding.’
‘Militêre opleiding vind in militêre basisse oor die land heen plaas. Omdat ons as belastingbetalers van die militaristas verwag om ons vaderland te beskerm. En dis ook maar ’n gestruggle, verstaan ek.’
‘Daar was mos sprake dat die ANC-jeugliga op ’n militêre grondslag herbou gaan word,’ sê Herman Politiek.
Marius ignoreer hom. Op sý manier.
‘Hoekom moet dit gehaal word, Petro?’ vra Marius. ‘Die dokument. Ons leef in tye van gevorderde tegnologie. Goeters soos rekenaars, die internet en e-pos, jy weet?’
‘Dis ’n drukstuk en die vrou het nie ’n skandeerder nie. Sy sou haar werk s’n moes gebruik, wat sy nie wou doen nie omdat sy nie veronderstel is om die dokument te hê nie.’
‘Wie het dit gaan haal?’
‘Nandia Kemp.’
‘Op wie se onkoste?’
‘Werklik?’
‘Wanneer gaan jy dit kry?’
‘Ek behoort dit later vanmiddag te hê.’
‘Jy behoort? Later vanmiddag? Vaaghede. Wat van jy sal dit beslis vanmiddag om vier in jou hande hou? Byvoorbeeld.’
‘Ek sal dit hê, maar kan nie sê hoe laat nie. Byvoorbeeld.’
‘Kan jy sê waar Nandia Kemp dit gaan haal?’
‘Brits.’
‘Brits?’
‘Ja.’
‘Daardie plekkie in Noordwes?’
‘Ek weet nie van ’n ander een nie.’
‘Ek dog hulle het dit lankal toegemaak. Sonder geld. Sonder water. Sonder elektrisiteit. Sommer sonder alles wat ’n plek laat werk.’
‘Jy weet wat dog gedoen het.’
Marius maak sy papiere bymekaar. ‘Dié van julle wat volgende Maandag niks het om te sê nie, moenie bodder om in te kom nie. Gaan doen julle inkopies, spreek julle dokters, tandartse, terapeute, prokureurs of makelaars en neem julle voertuie in vir ’n diens, nuwe bande of batterye, alles wat julle gewoonlik in kantoortyd doen. Of bly sommer net by die huis, drink julle eie koffie en maak belangrike oproepe daar, rustig op julle tyd, op julle eie onkoste. Ons kan iets van waarde koop met die geld wat ons aan koffie, melk en suiker sal spaar. Om van toiletpapier nie te praat nie.’
Hy staan op, loop uit.
Petro bly sit tot almal uit is sodat hulle na haar kan kyk en klaarkry en sy hulle kan terugkyk.
Marius is in die teekamer toe sy verbyloop. Hy sien haar.
‘Petro.’
Sy steek vas. ‘Ja?’
‘Kom.’ Hy stap met sy koffiebeker in die hand, lêer onder die arm by haar verby.
Sy loop agterna.
‘Sit,’ sê hy toe hulle in sy kantoor is.
Sy sit.
‘Hoe hou jy uit?’ vra hy.
‘Ek sal regkom.’
‘Jy is kwaad.’
‘Ja, ek is.’
‘Verstaanbaar. Het jy blyplek gekry?’
‘Ja.’
‘Ons kan dit nie eintlik bekostig nie, maar as jy voel jy het ’n langer breek nodig … ?’
‘Dankie, Marius, maar dis beter dat ek aan die gang bly. Wou jy my persoonlike dinge met my bespreek of iets oor die werk?’
‘Ek wil net sê as jy voel jy wil praat, kom praat. Ek is deur twee van die goed. Egskeidings, nie eggenote nie. Wel, eggenote ook, maar ’n man kan darem seker nie na die ma’s van sy kinders as goed verwys nie, al is dit bloot uit ordentlikheid.’
‘Dankie vir die aanbod, maar ek dink vroue ervaar egskeidings ietwat anders as mans.’
‘Hoe vorder jou saak?’
Moenie lelik met die man wees nie, hy bedoel dit goed. Op sy manier. Wat nie altyd so goed is nie.
‘Dis net ’n formaliteit.’
‘E … is jy nou weer net Petro de Wet, of is dit nog Petro de Wet-Hofman? Vir ingeval jy aan iemand voorgestel moet word, daar met ’n derde party oor jou gepraat word, korrekte etiket, administratiewe doeleindes, sulke goed.’
‘Net Petro de Wet. Nog iets?’
‘Ja, die ander ding. Gaan jy nou weer daarna kyk?’ Hy frons. ‘Die ander ding. Ons weet nie eens wat om dit te noem nie.’
‘Omdat ons nog nie weet wat dit is nie. Ek sal vir Nandia vra om daarmee te help.’
‘Dit moet eksklusief Lens bly, Petro. Absoluut. Wie sê sy gaan nie na ’n ander koerant toe hardloop as sy iets kry nie? Vryskutters soek die hoogste bieër. Geen lojaliteit nie. Wat deesdae ook net ’n historiese begrip is.’
‘Sy sal nie.’
‘Hoe weet jy? Ons ken haar nog nie lank genoeg nie.’
‘Miskien is ek net nog nie sinies genoeg om die ganse mensdom te wantrou nie.’
‘Ek sal daaroor dink. Maar kyk intussen wat jy kan doen. Ons het iets nuuts dringend nodig.’
‘Goed.’ Sy staan op, loop na die deur.
‘Petro.’
Sy draai om.
‘Moenie sinies raak nie. Dis ’n donker gat waaruit jy nie weer kom nie.’
Sy stap uit, gaan kry koffie en sit by haar lessenaar.
Dit is net sy wat oor is van Lens, ’n onderafdeling van Sonop wat daarop gemik is om korrupsie uit te krap en onder die vergrootglas te plaas. Die ander twee wat saam met haar gewerk het, het geswig voor die druk, beledigings en dreigemente, en rustiger weivelde gaan soek. Met ander woorde, sy is Lens. Miskien is dit waarom Marius anders is met haar wanneer hulle alleen is. Mensliker. Lens is hulle gesamentlike skepping en hy is erg daaroor. Sy ook. ’n Ondersoekende joernalis is wat sy altyd wou wees. Daarom hou sy uit, omdat sy glo aan wat sy doen.
‘Die ander ding’ is eintlik haar idee. Sy het haar aandeel gehad aan die oopvlek van korrupsie en staatskaping, maar dis nou ou nuus. Die afgelope maande het sy net kommentaar geskryf oor die gevolge daarvan en getuienis wat voor kommissies van ondersoek gelewer word. Sy het aan Marius voorgestel dat dit tyd geword het om na ‘iets anders’ kyk. Toe word dit ‘die ander ding’.
Nou sit sy daarmee, maak nie vordering nie omdat sy met hierdie gemors sit. Hoe lank gaan dit nog aanhou voor iets anders gebeur wat die skindermedia se verbeelding aangryp? Dit sal nogal ironies wees as sy iets vir hulle gee wat hulle aandag van haar af weglei. Miskien moet sy daaraan begin dink om agter ’n skuilnaam weg te kruip.
Dis maklik vir Marius om te sê sy moenie sinies raak nie. Eintlik was haar opmerking as ’n sarkastiese verwysing na sy sinisme bedoel. Maar nou ja, sy kan seker nie verwag dat haar sarkasme ’n effek moet hê op iemand wat ’n spesialis in die vakgebied is nie.
’n Donker gat waaruit jy nie weer kom nie. Sy is reeds daarin en kan nog nie mooi verstaan hoe sy daarin beland het nie. Al wat sy regkry, is om die verloop van gebeure oor en oor in haar kop te herhaal en te wonder hoe sy toegelaat het dat dit gebeur. Hoekom sy dit vir bykans tien maande verduur het en nie ná die eerste maand of wat haar goed gepak en geloop het nie.
Reeds oor die dertig, het sy haar daarmee begin versoen dat sy enkellopend sal bly. ’n Oujongnooi wat met die beeld van ’n man en die eggo van sy stem in haar gedagtes leef: daar, lewend, maar onbereikbaar. Omdat sy hom onbereikbaar gemaak het. Sy kon weer na hom toe gegaan het onder die dekmantel van opvolgwerk. Selfs net uit belangstelling om te hoor hoe dit met hom gaan.
Maar sy het weggebly, omdat …
Sy weet nie.
Toe is Adriaan Hofman daar. Gesiene sakeman, sosiale don. Sy huis en tuin ’n onuitputlike bron van artikels oor argitektuur, binnenshuise ontwerp, tuinbou en leefstyl. ’n Hele paar jaar ouer as sy, maar nog sonder die bagasie van ’n vorige huwelik – daar was al skimpe dat hy gay is.
Alles het vinnig gebeur. Te vinnig. Almal het gepraat oor die glanspaartjie. Die huwelik was ’n sensasie. Skielik was sy fotograwe en sosiale tydskrifte se liefling, die skone Petro de Wet-Hofman.
Eintlik was dit nogal lekker, moet sy erken, tong in die kies. Iets anders. Tot sy agtergekom het hoe oppervlakkig en hol dit alles is. ’n Wêreld gebou op pretensie. Jy kan wees wat jy wil, net nie jouself nie.
Nou is sy om ’n ander rede as haar werk in die nuus. Sý is nuus. Skindernuus.
Die tekens was vroeg reeds daar, die stank van ’n doodgebore huwelik. Sy onvermoë in die bed. Nie dat dit vir haar belangrik was nie; hy is nie meer ’n jong hings nie. Maar toe kom die skimpe dat sy voor die troue lekker rondgeslaap het. Sy het hom selfs betrap dat hy haar selfoon nagaan. Die afbrekende opmerkings het geleidelik venyniger geword. Die pryswenner was toe hy haar die ‘hoernalis’ begin noem.
Nou, by nabetragting, kan sy nie verstaan hoekom sy dit stil verduur het nie. Die verskoning dat sy in ’n huis van liefde en vrede grootgeword het waar nooit ’n skewe woord geval het nie, voel nou so flou. Die vergewensgesindheid wat van kleins af vir haar geleer is, voel nou so ruggraatloos.
Dit het al hoe meer gebeur dat hy saans laat moes werk. Toe word dit sakenaweke, sy alleen by die huis. En wanneer hy tuiskom, die skimpe dat sy in sy afwesigheid ontrou was. Dis vernederend, selfs walglik, om nou daaraan te dink dat sy dalk ’n reukie of lipstifsmeerseltjie aan sy klere sou opmerk as daar nie ’n wasvrou was wat dit versorg het nie.
Die bom het oornag gebars. Dit het soos ’n veldbrand deur die media versprei. Foto’s van Adriaan Hofman en die sepiester, Lola Lorenz – in werklikheid Loretta Lourens − saam by ’n eksklusiewe ontspanningsoord net vir lede. By die swembad. Poedelnakend. Lola is negentien jaar oud. Nog ’n kind, maar reeds ’n mannejagter van formaat. Veral ouer mans. Haar verweer? Die arme Adriaan het by haar gesoek wat Petro hom nie kon bied nie. En sy het dit vir hom gegee, in oormaat.
Adriaan het nie eens probeer verduidelik nie, net opgepak en die pad gevat Engeland toe. En sy sit met die skindermedia. Lola Lorenz speel gewillig en lustig saam, borduur voort. ‘Daar moet iets verkeerd wees met Petro, maar dis nie wat ek sê nie. Kyk maar wat word in die sosiale media van die vrou gesê.’
Sinisme is een ding, maar as jy verbittering en woede daarmee meng, word dit iets heeltemal anders. Dis soos ’n gevaarlike dier met drie koppe wat kwylend heen en weer in sy traliehok loop en wag dat iemand die hek laat oopstaan.
En sy weet dat sy ’n punt nader waar dit nie meer vir ’n oop hek gaan wag nie.
~~~
Categories Afrikaans Fiction South Africa
Tags Book excerpts Book extracts Die dooies praat nie LAPA LAPA Uitgewers Peet Venter Thys Krige-reeks Uittreksel