C

LAPA vier Romanza se 15de bestaansjaar met vier spesiale heruitgawes van Romanzas wat in 2005 verskyn het
 More about the book!

Romanza verjaar in Junie en word 15 jaar oud. Om die geleentheid te vier, het LAPA dit goed gedink om die heel eerste vier Romanzas wat ooit verskyn het, weer uit te gee.

Op soek na ’n held deur Chanette Paul, ’n Perfekte paartjie deur Kristel Loots, Die Ier se ultimatum deur Nelia Engelbrecht, en ’n Man vir Mia deur Vita du Preez het al vier in 2005 verskyn en word nou weer met spesiale omslae gepubliseer.

Weens Covid-19 is sal die papierboeke eers later in Juniemaand aan die winkels gelewer kan word.

Op soek na ’n held deur Chanette Paul

Sy aanbod is aantreklik, maar kan sy bekostig om haar hart ook te verloor?

Kiara, ’n suksesvolle skrywer van liefdesromans, se bankbalans lyk beroerd, haar ryding is onbetroubaar, haar persiese kat, Skat, stel haar gedurig in die verleentheid en sy kry nie ’n held vir haar vurige heldin geskryf nie.

Haar geheimsinnige buurman lyk dalk soos ’n held, het die naam van ’n engel, maar vir Kiara is hy eerder ’n kruising tussen Attila die Hun en die duiwel self. Sy vermoed ook dat hy haar hipnotiseer. Hoekom anders sou sy sy werksaanbod aanvaar? Veral ’n aanbod wat heeltemal teen haar beginsels is …

***

’n Perfekte paartjie deur Kristel Loots

Philip Marais is suksesvol en besig, besig, besig. Tyd is geld en geld is belangrik as hy, anders as sy pa, na sy gesin wil omsien. Maar Nandi vra meer van hom – sy wil ’n pa vir Buks hê en ’n man se lyf langs hare in die dubbelbed. Tog sou sy nooit kon raai dat dit op ’n egskeiding sou uitloop nie.

Soms moet ’n ma doen wat ’n ma moet doen, maak nie saak hoe impulsief dit is nie. Maar Philip het blykbaar aanbeweeg, want daar is ’n melktert in die yskas en ’n paar pers pantoffels met tossels onder sy bed.

Nandi wil nie hê Buks moet sonder sy pa grootword nie, en sy wil ook nie hê ’n ander vrou moet aan haar kant van die bed slaap nie. Sy sal ’n plan moet beraam om vir Phillip te wys dat hulle ’n perfekte paartjie is …

***

Die Ier se ultimatum deur Nelia Engelbrecht

Hy lyk soos ’n Keltiese kryger en aanvaar nie ‘nee’ vir ’n antwoord nie

Brian O’Connor is ’n man wat weet wat hy wil hê én hoe om dit te kry. Hy draai elke vrou om sy pinkie, maar het niemand nog toegelaat om sy hart in te palm nie – totdat hy die beeldskone Misha Malan ontmoet. Misha staal haar teen die betowerende uitwerking wat hierdie charismatiese Ier op haar het. Maar dis moeilik, want hulle moet in ʼn huis op Mauritius saam met ses ander deelnemers aan ʼn realiteitsprogram deel. Die prysgeld is ’n halfmiljoen dollar en agt weke is lank …

***

’n Man vir Mia deur Vita du Preez

Hy is arrogant, onkonvensioneel, dodelik aantreklik en ’n rokjagter …

Rob Kellerman trek vroue soos ’n magneet na hom toe aan. Almal sê dit gaan nog sy ondergang beteken. Boonop is hy suksesvol en skatryk. Hy maak sy eie reëls en toe hy besluit dat Mia Retief vir hom moet kom werk, is dit ’n gedane saak. Mia is vasbeslote om nie vir hom te val nie. Maar dit is makliker gesê as gedaan aangesien sy daagliks in sy geselskap is. Haar uithouvermoë word elke minuut beproef, want Rob is ’n meester in die kuns om werk en plesier te meng.

***

 

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans LAPA LAPA Uitgewers New releases Romanza Romanza verjaar Special edition


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments