C

LAPA vier die liefde in 2021 met vier vurige nuwe Romanzas, nou beskikbaar!
 More about the book!

Anna se man deur Ciska Olivier

Sy gaan alles doen om sy hart te wen …

Anna se eerste dag by haar nuwe werk is ’n ramp. Sy beland in die swembad en haar redder is niemand anders as die man wat haar verwerp het nie. Die man wat sy mislei en verneder het. Haar tweelingsuster se eks, Derick.

Twee jaar gelede het sy en Hannah plekke geruil. Goed, dit was nie die slimste plan nie, maar sy het nie beplan om hopeloos verlief te raak nie. Sy het ook nie beplan om sy hart te breek nie. Die pad na vergifnis en versoening is moeilik, maar sy is vasbeslote om hom te oortuig dat sy hom liefhet en dat hy die man vir haar is.

Oor die outeur

Ciska Olivier bestuur saam met haar man ’n oord in Omaruru, Namibië. Met haar man se aanmoediging en haar alewige verbeelding het sy gereeld tyd gekry om te skryf en ná sy ’n elektroniese skryfkursus deur Madelie Human – toe reeds een van haar gunsteling skrywers – voltooi het, is haar skrywersdroom uiteindelik in 2018 bewaarheid.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

In sy hart deur Felicia Snyman

Vir ewig in sy hart …

Rouxlé is ’n onafhanklike vrou wat nie ’n man nodig het nie. Sy wil wel een hê. Meer spesifiek, sy wil vir Francois hê. Sy sluk haar trots en stel haarself aan hom voor, maar hy maak dit duidelik dat haar bravade hom nie beïndruk nie. Haar brein skreeu vir haar dat sy wye draaie om hom moet loop, liefs van hom moet vergeet, maar haar hart het ander planne.

Francois besef gou dat hy ’n fout gemaak het. Rouxlé het dadelik ’n indruk op hom gemaak en hy sal enigiets doen vir ’n tweede kans. Al is dit om sy eie trots in die sak te steek en aan homself te erken dat die vurige rooikop met die eksentrieke hare reeds in sy hart leef.

Oor die outeur

Ná skool het Felicia Snyman haar LLB by die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy is tans ’n prokureur en voltydse dosent in regsgeleerdheid. Haar persoonlike prestasies in modelwerk, dans, Latyn en musiek maak haar ’n vrou van vele talente. Sy woon tans in Centurion saam met haar man en jong dogter.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Opaal vir die liefde deur Rina Cilliers

Ongelukke kom in drie …

Johlene Basson verkoop haar geërfde kunswinkel en het skielik genoeg geld om op ’n Sabbatsjaar te gaan. Sy wil haar ma se biologiese ouers gaan opspoor. Haar amper-verloofde ondersteun nie hierdie halsoorkop besluit nie, maar hy gee vir haar drie maande grasie. Dan wil hy trou.

Op Koffiefontein is daar tydens die Tweede Wêreldoorlog ’n aantal Italiaanse soldate as krygsgevangenes aangehou. Johlene het ’n gevoel dat sy die antwoorde op haar vrae hier gaan kry, min wetend dat Koffiefontein haar hele lewe gaan verander. Gelukkig is sy nie alleen nie – daar is die eksentrieke Tant Hartjie, die mooie boer Leo met sy lelike Land Rover en die kerkhof se spook, Elisabet.

Oor die outeur

Rina Cilliers woon saam met haar eggenoot op Hartenbos, sogenaamd afgetree. Sy is bevoorreg om voltyds ma en tuisteskepper te wees en het op verskeie plekke gewoon. Hulle het vir 25 jaar in Pretoria gewoon, Kaap toe getrek en daarna Greyton toe. Haar lewe is interessant, kreatief en bowenal positief.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Somerson deur Madelie Human

Die son sal weer skyn …

Sabrina loop die man raak wat sy nooit weer wou sien nie. Nie net een keer nie, sommer baie! Boonop lyk dit vir haar of Ruan die ontmoetings beplan. Sy weet egter dat hulle normaalweg nie in dieselfde sirkels beweeg nie – haar lewe is in die stad en syne is op die plaas. Hy kan sy bes probeer, maar haar tyd op Groeneweide is beperk.

Totdat grendeltyd aangekondig word. Sabrina moet vinnig besluit of sy gaan vlug, of teen haar gevoelens vir die bruinoog cowboy veg. ’n Hoër hand maak die keuse vir haar makliker en Groeneweide word haar tydelike tuiste. Wanneer die pandemie Sabrina se besigheid bedreig, word albei se geloof beproef, maar liefde oorwin selfs die moeilikste van omstandighede.

Oor die outeur

Skryf was nog altyd ’n deel van Madelie Human se lewe, maar sy het eers op vyftig ernstig begin skryf. ’n Vriendin het haar uitgedaag om fiksie te skryf, en romanse was die logiese keuse omdat dit haar gunstelinggenre is om te lees. In 2008 publiseer LAPA haar eerste Romanza en dit wen ’n Woordveertjie. Madelie is nou ’n gevestigde skrywer met meer as dertig Romanzas op haar kerfstok.

Ook beskikbaar as e-boek:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Anna se man Ciska Olivier Felicia Snyman In sy hart LAPA LAPA Uitgewers Madelie Human New books New releases Opaal vir die liefde Rina Cilliers Romanza Somerson


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments