C

Kry elke pot sy maat in Maart? Vind uit in 4 nuwe Romanzas (Plus, staan ’n kans om te wen voor 17 Maart!)
 More about the book!

Nuut by LAPA: vier splinternuwe liefdesverhale deur Cecilia Nortjé, Elsa Winckler, Rina Cilliers en Ciska Olivier. Plus, staan ’n kans om al vier Romanzas te wen!

Skryf in voor 17 Maart op Facebook:

***

Nommerpasdeksel deur Cecilia Nortjé

Die man langsaan wil by haar intrek …

June verkoop droomhuise aan jong families, maar sy weet self geluk kan nie tussen vier mure vasgevang word nie. Sy sukkel sedert haar man se dood om vir haar en haar tienerdogter, Keira, ʼn tuiste te skep en het haar eie geluk opsy geskuif.

Totdat sy vir sexy Scott Hunter, die bekende televisieaanbieder, in ʼn kroeg ontmoet. Sy reisprogram is nie verniet so ʼn sukses nie. Daai hartlikheid en sjarme voor die kamera is nie aangeplak nie. Om nie van sy oorredingsvermoë te praat nie.

Voor sy kan keer, trek sy na die perfekte huis vir haar en Keira én die verleidelike Scott is haar buurman …

 

Oor die outeur

Cecilia Nortjé woon op ’n plaas met haar gesin. In die week is sy ’n lektor by die VOO Kollege en naweke versin sy romanses. Sy raak opgewonde oor reën in die Bosveld, goeie kos, ’n kwinkslag wat met perfekte tydsberekening kwytgeraak word, en is ’n onversadigbare boekevraat. Sy is ’n regterbreinmens wat haar uitleef in tuinmaak, skryf en teken.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Party dinge is vir altyd deur Elsa Winckler

Liefde is vir altyd.

Jeanie McMillan land op Kaapstad twee jaar nadat sy weggehardloop het op haar troudag. Op die lughawe loop sy in Gerard de Lange vas, die rede hoekom sy toe nie getroud is nie. Vir haar sal hy altyd dié een wees, maar hulle het hulle beurt gehad, sy het die leuens oor hom geglo en dis tyd om aan te beweeg.

Maar die rooi nommertjie wat Gerard uit sy tas haal, is nie syne nie. Dis Jeanie s’n. Hul tasse is omgeruil op die lughawe. Hy sal weet, hy was die een wat ewe opgewonde twee jaar gelede vir hulle identiese tasse gekoop het vir die wittebrood wat nooit gebeur het nie.

Hy is nie troumateriaal nie, kinders wil hy beslis nie hê nie. Maar hy wil, nee, hy moet by Jeanie wees en stel voor sy trek by hom in. Sy voorstel is veronderstel om net ’n tydelike reëling te wees, maar hy besef amper te laat dat liefde nie tydelik is nie. Liefde is vir altyd.

Oor die outeur

Elsa skryf sedert 2008 en sy is mal oor liefdesverhale, veral wanneer ’n soenery betrokke is – tot haar drie kinders se groot verleentheid. Manlief gee gelukkig glad nie om nie. Wanneer sy nie oor die liefde skryf nie, speel sy met haar kleinkinders of sy brei of sy verken een van die baie paadjies langs die see. En saans en naweke sal jy vir haar en haar man voor die televisie kry. Sy is dol oor haar kinders en versot op haar kleinkinders en niks verskaf vir haar groter vreugde as om kos te maak vir hulle vir wie sy lief is nie.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Tussen glas en vag deur Rina Cilliers

Toneelspel kan soms diep emosies ontketen.

Ansua Welthagen, ’n talentvolle glaskunstenaar, keer terug van Europa ná ʼn groot liefdesteleurstelling. Sy onderneem om die kapel op Sewefontein, die spogplaas van die formidabele Naudés, naby Greyton, met loodglasvensters te versier.

Om met ’n voertuig wat probleme gee voor Paasnaweek iewers gestrand te sit, is ʼn krisis. Maar Ansua ken krisisse. Sy ken wel nie sukkelende, geleende bakkies nie, en nóg minder alpakkas.

Sewefontein is nie meer die plaas van jare gelede nie. Dit is nou ʼn heenkome vir afvlerkhoendertjies, soos die aantreklike, bot alpakkaboer die mense daar noem. Wybrandt Naudé het ʼn sagte plek vir mense, maar hy sal dit nooit wys nie. Dis makliker om te maak of hy net omgee oor die bestuur van die plaas en sy adellike herkoms.

Hy is wel nie apaties teenoor die mooi Tanya wat sy bruid wil word nie. Hy wil met alles in hom van haar ontslae raak en besluit Ansua moet hom help: sy moet sy kammaverloofde wees. Ansua word gou betrokke by die komplot om van die lastige meisie ontslae te raak, maar sy ontdek in die proses dat toneelspel diep emosies by ’n akteur kan ontketen.

Oor die outeur

Rina Cilliers woon saam met haar eggenoot op Hartenbos, sogenaamd afgetree. Sy was bevoorreg om voltyds ma van vier kinders en tuisteskepper te wees, het al vele kere in haar lewe op verskeie plekke gebly, maar hulle kinders het hoofsaaklik skole en universiteit in Pretoria bygewoon, waar hulle vir 25 jaar gebly het. Daarna is die familie Kaap toe en toe Greyton toe wat die punt van haar hart was. Buiten ma en vrou wees, is haar lewe interessant, kreatief en bowenal, positief; dis in hierdie gees wat hulle ’n hegte familie gevorm het.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Liefdeslesse vir ’n grotman deur Ciska Olivier

Blus die vlammetjie voor dit in ʼn veldbrand ontaard …

Olga is die bestuurder van Boskloof gasteplaas en sy sal die veld vir niks agterlaat nie. Nie eens vir haar verloofde, Stefan, nie. Al wie haar liefde vir die dorre bos deel, is die een man wat sy nie kan verdra nie: Lukas, die wildbewaarder.

Die man wat haar haat. Die man met die mooi oë. Grotman. Rof en onbeskof, nes sy hond wat haar geliefde papegaai wil opvreet. Sy loop liefs wye draaie om hom om enige konfrontasie te vermy.

Tog is daar oomblikke wat iets anders as afsku deur haar are vloei. Veral wanneer sy glimpe van sensitiwiteit in sy goudbruin oë sien as hy met die diere werk. Maar vir só ʼn man sien sy nie kans. Stefan is nie noodwendig opwindend nie, maar hy is veilig.

Hy is ʼn enkele kers en nie, soos Lukas, ʼn vonk nie. En sy sal die vlammetjie van begeerte wat deur haar vloei wanneer Lukas na haar kyk gou moet blus voordat dit in ʼn veldbrand ontaard …

Oor die outeur

Ciska Olivier is ’n plaaskind van Namibië en haar wortels lê diep in die Kalahari begrawe, selfs al is dit nie waar sy woon nie. As veldgids en oordbestuurder het sy die land deurkruis en in haar eie wêreld van lees en skryf geleef totdat sy haar eie storieboekheld ontmoet het. Hy het haar hart soos ’n ware heer van ouds oorwin en ná ’n hofmaking wat enige liefdesverhaal werd is, haak hulle in 2014 af. Hulle is lief vir kampeer, visvang en om nuwe plekke te ontdek. Dis op hierdie omswerwinge waar Ciska gereeld die inspirasie kry vir nuwe verhale. Met haar man en familie as grootste ondersteuningsnetwerk, maak sy gereeld tyd om ook vir haar karakters ’n rosige toekoms te skep. Ciska skryf oor moderne vrou-wees konsepte en liefde wat alles oorwin, want niks kan tog ooit te sterk wees om ware liefde en geloof te kierang nie.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Cecilia Nortjé Ciska Olivier Elsa Winckler LAPA LAPA Uitgewers Liefdeslesse vir ’n grotman New books New releases Nommerpasdeksel Party dinge is vir altyd Rina Cilliers Romanza Tussen glas en vag


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments