C

Hier is 4 nuwe Romanza’s om jou alleentyd op te kikker – ook beskikbaar in e-boekformaat
 More about the book!

Die nasionale inperking het aangebreek, maar jy hoef die alleen deur die volgende 21 dae te gaan nie. Is jy mal oor liefdesverhale? Dan is ons vier nuwe Romanza’s net die antwoord. Ook beskikbaar in e-boekformaat.

Omdat ons saam is deur Elsa Winkler

Tannie Peet se testament bepaal dat die drie susters elkeen afsonderlik vir ’n maand in haar huis op Greyton moet woon ten einde hul erfporsie te kan ontvang. Die hond Skim speel ’n noemenswaardige rol in die verhaal en slaag daarin om telkens die held en heldin by mekaar uit te bring.

Bella is die jongste van drie susters; Leen en Livie is onderskeidelik in die vorige twee boeke van dié reeks getroud.

Wian is die apteker op die dorp en worstel met sy eie probleme. Hy moes as jong man omsien na sy drie jonger broers ná sy ouers onverwags gesterf het in ’n motorongeluk. Hy sien nie kans om weer so ’n groot verantwoordelikheid na te kom nie, daarom wil hy nie trou en kinders hê nie.

Bella is in hart en siel ’n kunstenaar, maar is deur haar vorige vriend, Leo, erg onderdruk en kon later nie meer skilder nie.

Wian se jongste broer is Conrad Visser, die beeldhouer. Hy sien dadelik Bella se talent raak en help haar om weer haar skilderwerk op te neem. Intussen groei Wian en Bella se verhouding, maar dan verskyn Leo weer op die toneel en vernietig byna alles.

Ook beskikbaar in e-boekformaat

***

Onverwags liefde deur Elize Davies

As agtienjarige is Lizelle Lategan weggejaag uit haar ouerhuis en haar tuisdorp, Nelslaagte, omdat sy en Jacques, haar aangenome suster se kêrel, verlief geraak het op mekaar. Sy kry ’n interessante werk as navorser vir ’n misdaadskrywer, Hennie Schutte, maar dan keer sy seun, Steyn, terug van Amerika en krap alles deurmekaar.

Steyn wantrou Lizelle aanvanklik en beskuldig haar van allerhande valse motiewe, onder meer dat sy besig is om sy ouers se goeie harte uit te buit. Gaandeweg trek hy op ’n slim en selfs slinkse maniere die seer besonderhede van haar verlede uit haar uit en leer haar beter ken.

Toe Steyn en sy pa besluit om ’n mynramp, wat 50 jaar gelede op Nelslaagte plaasgevind het, as agtergrond vir ’n boek en ’n dokumentêre film te gebruik, word Lizelle só gedwing om terug te keer na Nelslaagte, die plek wat sy nooit weer wou sien nie en om die spoke van die verlede te konfronteer.

Steyn belowe weliswaar dat hy Lizelle sal bystaan, maar kan sy hom vertrou? Sy is baie bang vir seerkry en sukkel om hom te vertrou.

Ook beskikbaar in e-boekformaat

***

Feniks uit die vlamme deur Magda Fourie

Kan die geskende goue godin herstel?

Sonika Vermeulen, ʼn loopplankmodel, se lewe verander radikaal ná ʼn gaslekkasie tydens haar broer se verjaardagpartytjie haar geskend laat.

Sy probeer om die stukke van haar lewe weer bymekaar te pas met die hulp van haar beste vriendin wat haar aanmoedig om dit weer buite haar woonstel te waag.

Dit is by ʼn partytjie van een van haar vriende dat sy die wêreldbekende plastiese sjirurg, Jacques Aucamp, ontmoet. Sonika voel onmiddellik aangetrokke tot hom, maar haar geskende liggaam weerhou haar daarvan om na hom uit te reik. Hy is bekend daarvoor dat hy perfeksie in alle vlakke van sy lewe najaag; op professionele en persoonlike vlak. Dit maak hom in haar oë net meer onbereikbaar.

Sy ontdek ʼn nuwe wêreld agter die lens van ʼn kamera, en met die hulp van haar vriende beplan sy ʼn nuwe loopbaan. Toeval veroorsaak dat sy en Jacques as gaste na gemeenskaplike vriende se huis in die Kaap genooi word en ʼn verhouding tussen hulle ontstaan. Jacques bied vir haar sy plaashuis op Wellington aan om as ateljee te gebruik en sy stem in.

Ook beskikbaar in e-boekformaat

***

Oudit op haar hart deur Antoinette Venter

Luzaan en Jacques was jare gelede, tydens hulle matriekjaar, in ʼn verhouding. Pas nadat sy haar maagdelikheid aan hom geskenk het, los hy haar soos ʼn warm patat.

Luzaan word só die teiken van bespotting onder haar skoolvriende.

Wat Luzaan nie geweet het nie, is dat Jacques se ma destyds ʼn ultimatum aan hom gestel het: Hy laat staan vir Luzaan of sý sal sorg dat Luzaan se toekoms verwoes word.

Nou is dit sewe jaar later en Luzaan is aan die vooraand om vennootskap in ʼn ouditeursfirma te kry. Jacques kontak haar werkgewer en Luzaan moet teen wil en dank as deel van ʼn ouditspan na Jacques se vakansieoord gaan. Omdat sy bang is dat hy sal agterkom dat sy steeds nie van hom kon vergeet nie, oortuig sy haar ouditmaat, Marko, om haar te help om voor te gee dat hulle in ʼn verhouding betrokke is.

Dinge boemerang vinnig, want Luzaan se hart behoort nou maar eenmaal aan Jacques. Bo en behalwe die feit dat Jacques se ma steeds soos ʼn rots tussen hulle staan, is daar nog Brittany du Preez om mee rekening te hou en dan raak Marko óók nog verlief op Luzaan!

Ook beskikbaar in e-boekformaat

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Antoinette Venter Elize Davies Elsa Winkler Feniks uit die vlamme LAPA LAPA Uitgewers Magda Fourie New books New releases Omdat ons saam is Onverwags liefde Oudit op haar hart Romanza South African ebooks


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments