Drie vroue kry die kans om oor te begin, die keer vir altyd, in Cecilia Nortjé se jongste roman, ’n Kans op vir altyd
More about the book!
Vyf jaar ná haar egskeiding is Milan ’n bedrywige sakevrou met ’n vol lewe. Estie, Milan se stiefdogter, het pas begin werk as junior rekenmeester met groot drome om die korporatiewe leer te klim. Jessica, Estie se ma, het sewentien jaar gelede haar rug op Vaalkrans gekeer en bestuur nou ’n gewilde trouplaas. Drie suksesvolle vroue met vervulde lewens, of só wil dit voorkom.
Vaalkrans en die gebeure van die verlede het egter steeds ’n houvas op elkeen. Milan kan nie vir Herk vergeet nie, en alhoewel sy die seuns gereeld sien, is Estie se verwerping pynlik. Estie is steeds verbitterd teenoor Milan en haar ma, en sukkel met ’n eetversteuring wat besig is om handuit te ruk. Jessica is in ’n rolstoel en aanvaar haar gestremdheid as straf vir die feit dat sy haar gesin versaak het. Die troues wat sy reël, is ’n poging om boete te doen.
Wanneer Milan se lewe onverwags ontwrig word, begin die domino’s een vir een kantel, en word hierdie drie vroue wie se lewens ineengeweef is, onkeerbaar geraak. Durf hulle ’n kans op geluk, ’n kans op vir altyd, waag?
’n Kans op vir altyd is die opvolg van ’n Huis vir altyd.
Oor die outeur
Cecilia Nortjé woon op ’n plaas met haar gesin. In die week is sy ’n lektor by die VOO Kollege en naweke versin sy romanses. Sy raak opgewonde oor reën in die Bosveld, goeie kos, ’n kwinkslag wat met perfekte tydsberekening kwytgeraak word, en is ’n onversadigbare boekevraat. Sy is ’n regterbreinmens wat haar uitleef in tuinmaak, skryf en teken.
Ook beskikbaar as e-boek:
Categories Afrikaans Fiction South Africa
Tags 'n Huis vir altyd 'n Kans op vir altyd Cecilia Nortjé LAPA LAPA Uitgewers New books New releases