Die ooreenkoms deur Sophia Kapp: ’n wantrouige skoonfamilie, onmoontlike tieners en ’n giftige eks spel moeilikheid
More about the book!
‘Ek is bewus daarvan dat ek nie van jou klas is nie, Adam. Ek het nooit voorgegee om ’n lid van jou uitgelese sosiale kring te wees nie en ek weet dat ek nooit ’n lid daarvan sal word nie. Maar ek gaan nie verander om jou of jou ouers te pas nie. As my agtergrond jou nie geval nie, staan dit jou vry om kontak met my te verbreek en met iemand te trou wat na jou mening aanvaarbaar is!’
Hulle is pole uitmekaar: Adam Rossouw, suksesvolle sakeman, deel van Kaapstad se sosiale elite en Petronel Cilliers, ’n onopvallende sanger in ’n grot van ’n kroeg iewers op die Kaapse suidkus. Maar na ’n nag van passie is hulle onherroeplik aan mekaar verbind.
Daar is egter meer as net dié verskille wat oorbrug moet word – ’n wantrouige skoonfamilie, twee onmoontlike tieners, ’n giftige eksmeisie, en veral die bagasie van die verlede.
Gaan die houe wat die lewe uitgedeel het hulle in die jaar wat hulle saam is heeltemal uitmekaar dryf, of kan hulle juis in mekaar die maat vind wat hulle volledig mens sal maak?
Oor die outeur
Sophia Kapp skryf die soort stories wat sy self graag lees – liefdesromans. Sy glo onwrikbaar in die liefde en in die helende krag daarvan, maar glo ook dat haar hoofkarakters dieselfde sout as haar lesers moet opeet voordat hulle die vervulling daarvan mag smaak. Die erflating is in 2008 met die ATKV-Woordveertjieprys vir Liefdesromans bekroon en Huis van die wind in 2012. Sophia was ook twee agtereenvolgende jaar die wenner van die Rapport-prys vir die mees inspirerende dosent in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan die Potchefstroomkampus van die NWU. Sy het ’n MA in tale aan die destydse UOVS behaal en het aanvanklik ’n akademiese loopbaan gevolg, maar sy was intussen al alles, van ’n barrista tot ’n boekhouer in ’n bank. Tans is sy, benewens ’n skrywer, ook taalpraktisyn, vertaler, dosent en lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Categories Afrikaans Fiction South Africa
Tags Afrikaans Die ooreenkoms LAPA LAPA Uitgewers New books New releases Sophia Kapp