C

Bederf jouself met vier nuwe Romanzas – nou beskikbaar by LAPA! Want liefde kan jou siel genees …
 More about the book!

Nuut by LAPA! Vier nuwe liefdesverhale deur Madelie Human, Alma Carstens, Rika Cloete en Ernalize du Toit.

JaargetyJaargety deur Madelie Human

Liefde kan jou siel genees …

Zadelle, die nuwe dokter op Groeneweide, dra ’n donker geheim en stel geensins belang in enige verhouding nie. Totdat sy vir Jacques Greyling, ’n aantreklike beesboer ontmoet.

Jacques verloor sy hart op Zadelle en is vasberade om haar vir homself te wen, maar vind gou uit dis nie so maklik nie. Jacques is egter ’n Greyling en deins nie terug vir enige uitdaging nie. Zadelle oorweeg ’n verhouding met Jacques, maar eers moet sy vir berading by die plaaslike dominee gaan om haar te help om haar verlede te verwerk.

Sal Jacques haar verwerp as hy die waarheid oor haar verlede uitvind? Kan sy haar probleem oorkom? Jacques vind wel die waarheid uit, maar dit maak ’n sterker beskermingsdrang binne hom wakker. Hy werp alles in die stryd om haar te help en saam moet talle struikelblokke oorkom voordat hulle geluk kan vind.

Oor die outeur

Skryf was nog altyd ’n deel van Madelie Human se lewe, maar sy het eers op vyftig ernstig begin skryf. ’n Vriendin het haar uitgedaag om fiksie te skryf, en romanse was die logiese keuse omdat dit haar gunstelinggenre is om te lees. In 2008 publiseer LAPA haar eerste Romanza en dit wen ’n Woordveertjie. Madelie is nou ’n gevestigde skrywer met meer as dertig Romanzas op haar kerfstok.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

 

Vry om lief te hêVry om lief te hê deur Alma Carstens

Is liefde genoeg om werklik te kan vergewe?

Lara bevind haar in ’n penarie toe Thailand se grense skielik sluit weens die pandemie. Nie net sit sy gestrand in ’n vreemde land na haar vakansie nie, haar finansies is ook in ’n beroerde toestand en sy moet dringend ’n uitkoms vind om te oorleef.

Teagan ontmoet vir Lara wanneer sy as vrywilliger in die oerwoud noord van Chiang Mai gaan werk. Hy ontferm hom oor haar, maar alles is nie soos dit op die oog af lyk nie.

Toe Lara die waarheid oor Teagen uitvind, stort haar wêreld in duie. Sy het dan juis so gesukkel om hom te vertrou. Is liefde genoeg of is die prys vir vergiffenis te hoog?

Oor die outeur

Na vier jaar in Kenia en meer as ses jaar in Malawi, het Alma en haar man die Afrika-stof tydelik van hul voete afgeskud om ‘n nuwe avontuur aan te pak. Sedert Januarie 2015 woon hulle in Bangkok, Thailand, waar Jacques as regsadviseur vir ‘n Britse maatskappy werk. Stories skryf en lees was nog altyd vir haar meer as net ‘n stokperdjie, maar deesdae is dit ook ‘n noodsaaklikheid wat help met die verlange na hul kinders in die Kaap. Wanneer sy nie skryf of lees nie, kuier sy graag saam met vriende, kyk flieks en speel gholf. Sy is ook dol oor reis, goeie wyn, ’n kaggelvuur en die see.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

 

Liefde is genoegLiefde is genoeg deur Rika Cloete

Soms het liefde ‘n tikkie towerkuns nodig …

Tharina Enslin word op haar troudag voor die kansel laat staan. Om die vernedering en hartseer te oorkom, reis sy na Positano, ’n romantiese dorpie aan die Amalfi-kus in Italië.

Hier, van dag een af, is sy ongenooid by die intriges van die Malans betrokke: Hugo, ’n beeldhouer en die eienaar van die gastehuis waar sy tuisgaan; sy losbolbroer, Gideon; en Hugo se verloofde, die beeldskone Isabella Rossi.

Die onderstorminge en geheime tussen hulle lei nie net tot lewensgevaar vir Tharina nie, maar bring haar ook nader aan haar lotsbestemming soos wat die ou sigeunerin op die piazza vir haar voorspel het. En uiteindelik ook nader aan aan die liefde.

Oor die outeur

Rika Cloete is gebore in Johannesburg en woon tans in Roodepoort. In 1992 matrikuleer sy aan die Hoërskool Vorentoe en ontvang haar tersiêre opleiding aan die eertydse RAU, nou UJ, waar sy vir ’n klompie jare Duitse letterkunde doseer. Sy is die skrywer van die historiese moordraaiselroman Doodsroeper (2017) en die huishoudelike noir spanningsroman Skadukant (2020). In 2002 word haar digbundel eensaamigheid gepubliseer, waarvan een van die gedigte in die bloemlesing Vers en Vrou (2020) opgeneem word. Sy het ook twee liefdesromanses en verskeie tydskrifverhale op haar kerfstok.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

 

Bagasie van die hartBagasie van die hart deur Ernalize du Toit

Liefde kan die onmoontlike oorkom …

Toe Teda die aantreklike Engelsman Will Thaning met sy sexy aksent ontmoet, laat hy haar hart dadelik vinniger klop. Ongelukkig is dinge heelwat meer gekompliseerd as wat dit lyk en kom albei van hulle met bagasie.

Net soos Teda, het Will ’n hartseer verlede wat altyd onlosmaaklik deel van hulle gaan wees. Daar is ook ’n tienerseun wie se gevoelens en leefwêreld hulle in ag moet neem. Saam met Will ontdek Teda nuwe plekke en droom sy oor nuwe moontlikhede.

Maar het Will ná al hierdie jare enigsins ’n vrou in sy lewe nodig? Is hulle dalk op twee heeltemal verskillende plekke in hulle lewens met doelwitte wat nié versoenbaar is nie?

Oor die outeur

Ernalize du Toit het in Carnarvon in die Noord-Kaap grootgeword en gematrikuleer. Sy het ’n honneursgraad in joernalistiek, sowel as ’n honneursgraad in Afrikaans en Nederlands. Sy het vir drie jaar by ’n uitgewer gewerk as teksredakteur en bemarkingsredakteur. Ernalize is getroud met Chris en bly tans in Kathu waar sy kommunikasiebeampte, vryskutjoernalis en -teksversorger is. Sy lees graag vir werk én ontspanning en het grootgeword in ’n huis waar almal lief is vir boeke, woorde en Afrikaans. In haar vrye tyd is sy aan die stuur van ’n amateurtoneelgroep.

Ook beskikbaar as e-boek:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Alma Carstens Bagasie van die hart Ernalize du Toit Jaargety LAPA LAPA Uitgewers Liefde is genoeg Madelie Human New books New releases Rika Cloete Romanza Vry om lief te hê


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments