10 vrae aan Rosita Oberholster: ‘Skryf ’n boek! Ek het eers op 40 begin skryf en weet nie hoekom nie’
 More about the book!

LAPA het onlangs met Romanza-skrywer Rosita Oberholster gesels om haar beter te leer ken. In die onderhoud vertel Rosita meer oor haar jongste Romanza Wilde Jasmyn vir Steyn, hoe sy haar karakters skep, en waarmee sy besig is vir 2020.

10 vrae aan Rosita Oberholster

1. Jou jongste verhaal is Steyn se storie. Was jou idee altyd om Louisa, Steyn én Roselle se stories te skryf?

Dit sou aanvanklik net Roselle se storie wees, maar toe ontpop Louisa in hierdie oopkop, volwasse jong dame en kon ek nie anders as om vir haar ook haar eie stem te gee nie. Steyn het nie eens die ordentlikheid gehad om te vra of sy ook haar eie storie mag kry nie, dit het sommer net gebeur. Toe ek weer my oë uitvee, toe neem sy my hele lewe oor.

2. Wat is jou idee van ‘n lekker Kersfees?

Familie! My pa is lankal oorlede en my broer woon in Namibië, maar ek is versot op my skoonfamilie. My idee van die perfekte Kersfees is om dit saam met my gesin, ma en skoonfamilie deur te bring.

3. Baseer jy jou karakters op mense wat jy ken? Het jy ’n voorbeeld van só karakter?

Daar is altyd iets van iemand wat ek ken (of al beleef het) in my karakters. Seker in enige skrywer s’n, verbeelding is nie ’n ding wat sommer net gebeur nie. Dit ontstaan iewers, deur iets wat jy al ervaar, gelees, gesien of gedroom het. In Roselle, Louisa en Steyn se stories is daar een karakter wat my eindelose plesier verskaf het, Sophia. Reguit, ongeskik, en met ’n mond wat seep kort. Maar Sophia het ook ’n mooi, diep sagte kant wat sy nie vir almal uitstal om te sien nie. Net die mense heel naaste aan haar. Ek het so iemand geken, ja.

4. Werk jy aan ’n nuwe boek vir 2020?

Ek doen, ja. Romanse sal altyd my eerste liefde wees, maar ek voel dis nou tyd om my vlerke te sprei. Ek werk aan ’n enkeltitel en dis nie maklik nie, my kop beur nog gedurig na die romantiese kant van die lewe.

5. Wat lees jy nou?

Lira van Chanette Paul.

6. Watter advies het jy, uit die oogpunt van iemand wat romanses skryf, vir vroue wat nog nie hul sielsgenote gekry het nie?

Moenie dat storieboekhelde die maatstaf wees nie, hulle bestaan eintlik maar net in ons verbeelding en drome. Ons is almal net mense en niemand is perfek nie. Maar as hy sy minderes met respek behandel, ’n sagte hart vir diere en kinders het, jou soos die vrou wat jy is laat voel, is hy ’n keeper!

7. Sou jy sê jy is ’n feminis? Wat is jou opinie oor feminisme in liefdesverhale?

Ek is doodeenvoudig te lui om ’n feminis te wees. Dit moet baie harde werk wees om konstant te probeer bewys dat jy in alle opsigte ’n man se gelyke is. Ek bewonder sterk, onafhanklike vroue. Die baanbrekers en raakvatters, maar in my opinie hoort feminisme nie eintlik in liefdesverhale nie. Ek dink nie enige held wil graag die vrou van sy hart se bra in vlamme sien opgaan nie, veral nie as dit ’n verleidelike stukkie kant is nie. Die hele doel van die liefdesverhaal is tog dat McDreamy of McSteamy jou voete onder jou sal uitslaan en jou meerdere is, al is dit ook net in ’n baie geringe mate.

8. Watter drie mense (lewend of nie, beroemd of nie) sou jy na jou dinner party toe nooi, en hoekom?

  • Johannes Gutenberg (Uitvinder van die drukpers) – Ek wil hom bedank.
  • William Shakespeare – Hy is al langer dood as wat Suid-Afrika oud is en word nog steeds na verwys as die grootste skrywer van alle tye. Ek wil weet hoe hy vandag daaroor sou voel.
  • Dalene Matthee – Ek beskou haar as een van die grootste skrywers van ons tyd. Dit sou net ’n geweldige eer wees om te kan kennis maak.

9. Watter brokkie wysheid sou jy vir jonger Rosita wou gee?

Skryf ’n boek! Ek het eers op 40 begin skryf en weet nie hoekom nie. Ek het tog altyd geweet dit is wat ek graag wil doen.

10. As jy enigiets aan jouself kon verander, wat sou dit wees?

Ek sou graag reguit hare wou hê, en minder (baie minder) lief wou wees vir soetgoed.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Interviews LAPA LAPA Uitgewers Romanza Rosita Oberholster Skrywer van die week


1 Votes

You must log in to post a comment

0 Comments