C

Beyers de Vos gekies vir die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020: ‘Al wat ek kan doen is om die boek te skryf wat ek wil skryf’
 More about the book!

Skrywer, redigeerder en joernalis Beyers de Vos is vandeesmaand aangewys as een van ses skrywers wat gekies is vir die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020.

Beyers se debuutroman Wrok het in Junie 2018 by Penguin Random House SA verskyn en is ook in Engels beskikbaar as Talion.

Beyers deel die residensie met medeskrywers Andre Trantraal (LAPA Uitgewers), Olivia M Coetzee, Sarie Nell, Valda Jansen en Veronique Jephtas. Met dié geleentheid sal die skrywers aan hul manuskripte kan skaaf vanaf 1 tot 27 Julie 2020 in die prentjie-mooi Paulet Huis in Somerset-Oos. Die Jakes Gerwel Foundation dek die skrywers se verblyf asook kostes verbonde aan internet, skoonmaakdienste, etes, ‘n retoervliegkaartjie na Port Elizabeth en vervoer.

Remona Voges het met Beyers gesels oor wat die prestasie vir hom beteken en hoe hy die geleentheid gaan benut:

Die residensieprogram fokus veral op skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie. Hoe beoog jy om ’n bydrae op dié vlak te lewer?

Die vrae ‘Het ek iets nuuts om te sê?’ of ‘Kan ek dit op ’n nuwe manier sê?’ is wat my die moed – of vermetelheid – gee om te skryf. Ek kan nooit seker wees dat die antwoord ja gaan wees nie, maar ek hoop dat my stem, verbeelding en perspektief sterk genoeg is om iets te skep wat daardie soort bydrae kan lewer. Ek is moeg vir dieselfde tipe storie – in die letterkunde en toneelkuns, maar veral op televisieskerms – wat ’n baie spesifieke, konserwatiewe, heteronormatiewe en gevaarlike wêreldsiening bevestig. As ek enige skade aan daardie tradisie van storievertel kan doen, sal ek gelukkig wees.

Wat het jy geleer uit die manier waarop Wrok destyds ontvang is? Is daar sekere dinge wat jy heeltemal anders in jou volgende roman sal aanpak?

Al wat ek kan doen is om die boek te skryf wat ek wil skryf. Die res is buite my beheer. Ek dink nie die skrywer en die gehoor gebruik noodwendig dieselfde maatstaf om die ‘sukses’ van ’n boek te meet nie. Ek is trots op Wrok en was baie dankbaar vir resensente en lesers wat ‘gevang’ het wat ek probeer doen. Maar die volgende boek is ’n ander tipe uitdaging wat ander tipe oplossings vereis. Al wat ek hoop is dat ek myself nie herhaal nie.

Meer oor die boek

Pretoria – Vyf mense, vyf dele van die stad. Die tweeling, Ben en Freya, is weeskinders en Freya glo dat hulle alles met mekaar deel. Ben word vermoor en Freya besef hy het geheime van sy eie gehad.

Mnr. Oktober is ’n wewenaar-pa, ’n rugby-afrigter by die hoërskool en ’n passievolle Christen. Hy het egter ’n donker verlede wat hom net nie met rus wil laat nie. Die selfsnydende dwelmhandelaar, Slick, het tydens sy gewelddadige mentorskap by Mama Africa geleer dat vergelding en mag hand-aan-hand gaan. En die hardwerkende Nolwazi, ’n inspekteur by die Brooklyn-polisiekantoor, se ondersoek word deur ’n oorwerkte sisteem en korrupte kollegas ondermyn. Hoekom is Ben dood? Wie het hom vermoor? Sal geregtigheid seëvier? En is vergelding die antwoord?

Wrok is beskikbaar as e-boek op:

Amazon

Kobo

Talion is ook beskikbaar as e-boek op:

Amazon

Kobo

 

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Beyers de Vos ebooks Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020 Penguin Random House SA Skrywersresidensie Talion Wrok


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments