C

Vergeet van reëls – hier is vier nuwe Romanzas om te verslind!
 More about the book!

Nuut by LAPA – Vergeet van reëls deur Dina Botha, Oorbegin deur Marilé Cloete, Liefde vir ‘n feniks deur Ciska Olivier en As jy my wil hê deur Annarie Linde.

Vergeet van reëls deur Dina Botha

Om aan te beweeg gaan sy eers die verlede moet oopkrap.

Antiekhandelaar Amelie Voster beplan om oor ses weke te trou, maar daar is net een onvoorsiene hindernis: Sy is weens een of ander misverstand nooit wettig van haar studenteliefde, Daniël Retief, geskei nie.

Sy spoor hom op, maar Daniël is allesbehalwe die student wat sy onthou. Hy is ’n welaf sakeman met ’n yskoue hart. ’n Slu manipuleerder en ’n afperser. As sy nie instem om hom op ’n sakereis te vergesel nie, kry sy nie ’n handtekening op haar skeikontrak nie.

Sy stem in, maar kort voor lank onthou sy al die intieme details van haar en Daniël se weeklange studentewittebrood. Alles wat sy naarstiglik probeer vergeet het, keer terug. Daniël wroeg self om te vergeet, maar party herinneringe weier om weggepak te word. Na hul tyd saam, stem Daniël tot die egskeiding in, maar is dit wat Amelie regtig nog wil hê?

Oor die outeur

Dina Botha glo liefde is soos om ’n klippie in ’n poel water te gooi. Die rimpeleffek kan nie anders as om ander mense se lewe te raak nie. Daarom skryf sy al vir 11 jaar liefdesverhale. Sy is in Pretoria gebore en woon in Centurion. Op skool het sy Ena Murray, Elmar Steyn en ander bekendes se boeke verslind.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Oorbegin deur Marilé Cloete

Hoe bou twee mense ’n toekoms saam wanneer beide hul fondasies verloor het?

Reinet Schreuder en haar twee identiese susters sit almal sonder werk wanneer die pandemie alles ontwrig. Om geld te spaar, trek Reinet en Maret in by suster Anet op hulle grootworddorp in die Swartland. Wanneer die paniek en die selfbejammering uiteindelik bedaar, begin dié drieling se toekomsbeplanning.

Reinet kom gelukkig reg wanneer sy die kans kry om ’n koffiestalletjie in ’n koringland langs die hoofpad te bestuur. Die geluk hou aan wanneer haar eerste kliënt Reinier is, ’n boer wat weens die droogte sy plaas in die Noordweste moes verlaat. Nes Reinet, is hy hier om by familie te bly terwyl hy weer op sy voete kom.

Dis net logies dat die drie susters hierdie nuweling in hulle sirkel innooi, en so word die Vier Musketiers gestig. Terwyl hulle werskaf om ’n diens aan die gemeenskap te lewer en weer finansieel selfstandig te word, besef Reinet en Reinier die aantrekkingskrag tussen hulle kan nie onbepaald geïgnoreer word nie.

Oor die outeur

Marilé Cloete is Alta Cloete se romanse-skrywersnaam. Marilé het laat in haar lewe begin skryf. Dit bring groot uitdagings, maar ook nuwe visie, energie, vriende en bevrediging.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Liefde vir ‘n feniks deur Ciska Olivier

Soos ’n feniks uit die as …

Anja verdien ’n blaaskans en die toer na Thailand is net wat sy nodig het. Wat sy nie verwag nie, is om Martin hier in Bangkok raak te loop. Die man is nie net voor op die wa nie, hy het haar ook ’n snob genoem. Dis onmoontlik om hom te vermy in ’n toergroep van tien mense.

In die tropiese poele van Erawan Park begin dinge vir haar uitmekaarval wanneer sy ontdek dat hy die lyf van ’n Men’s Health-model het en dat daar meer agter sy donker oë skuil as net terg en tart. Doodgewone veldgids? Toe nie.

Hy jaag haar bloeddruk op en laat haar weer hoop vir meer in haar lewe as net haar werk. Maar wat as hulle mekaar tot as verbrand? En is hy en Clarice werklik net vriende?

Oor die outeur

Ciska Olivier is ’n plaaskind van Namibië en haar wortels lê diep in die Kalahari begrawe, selfs al is dit nie waar sy woon nie. As veldgids en oordbestuurder het sy die land deurkruis en in haar eie wêreld van lees en skryf geleef totdat sy haar eie storieboekheld ontmoet het. Hy het haar hart soos ’n ware heer van ouds oorwin en ná ’n hofmaking wat enige liefdesverhaal werd is, haak hulle in 2014 af.

Hulle is lief vir kampeer, visvang en om nuwe plekke te ontdek. Dis op hierdie omswerwinge waar Ciska gereeld die inspirasie kry vir nuwe verhale. Met haar man en familie as grootste ondersteuningsnetwerk, maak sy gereeld tyd om ook vir haar karakters ’n rosige toekoms te skep. Ciska skryf oor moderne vrou-wees konsepte en liefde wat alles oorwin, want niks kan tog ooit te sterk wees om ware liefde en geloof te kierang nie.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

As jy my wil hê deur Annarie Linde

’n Nuwe muse …

Gabi gaan op vakansie na Hampshire. Sy is ’n kunstenaar wat ’n nuwe muse moet vind ná ’n liefdesteleurstelling en die dorpie lyk na die ideale plek om haar wonde te lek.

Kort na haar aankoms word sy byna vertrap op Robbers’ Common deur die enigmatiese Sam Macleod en sy perd. Haar enkel word ernstig beseer en haar planne deeglik in die wiele gery. Sam neem verantwoordelikheid vir Gabi se besering, maar sy vermoed hy is net besorg oor haar omdat hy na ʼn kunsonderwyser soek. Sy weier om by ’n man met bymotiewe betrokke te raak. Totdat die pragtige Cloisters en aantreklike Sam vir haar meer as net inspirasie word.

Oor die outeur

Annarie Linde het onlangs na die Laeveld verhuis vanuit die Suid-Kaap waar sy ’n hele paar jaar skoolgehou het. Haar grootste prestasie was om vier seuns groot te maak, en hulle bly tegelyk haar aansporing en ondersteuningsnetwerk. Sy is eindeloos geïnteresseerd in mense en in die wêreld rondom haar, en glo aan die mag van die liefde om sin te gee aan die lewe.

Ook beskikbaar as e-boek:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Annarie Linde As jy my wil hê Ciska Olivier Dina Botha Liefde vir 'n feniks Marilé Cloete New books New releases Oorbegin Romanza Vergeet van reëls


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments