C

Verlore skatte, muisneste en storieboekliefde: Nou beskikbaar in vier nuwe Romanzas!
 More about the book!

Nuut by LAPA – vier splinternuwe liefdesverhale deur Dina Botha, Elsa Winckler, Malene Breytenbach en Louise van der Merwe om jou winter op te kikker.

Soos in stories deur Dina Botha

Wie weet in watter gewaad storieboekliefde sy verskyning gaan maak? 

Om bibliotekaresse te wees op ’n dorpie soos Trompieshoogte is vir Marijke die maklikste manier om te verseker dat haar lewe teen ’n slakkepas nêrens heen sal gaan nie. Wat nog gepraat van haar liefdeslewe. Maar dan gewaar sy ’n nuwe gesig op die dorp, al is daai gesig nou wel ongeskeer, die hare te lank, en die klere taamlik verslons. Maar wat maak die skatryk entrepreneur Jean-Pierre Immelman in hierdie verlate uithoek, en hoekom lyk hy so afgerem? Dalk meer belangrik, wat is hierdie hartkloppings wat Marijke naby hom ervaar, en wat is die ooreenkoms wat hy met haar wil tref voor hy terugkeer na sy eie glansryke wêreld toe?

Oor die outeur

Dina Botha is ’n bekroonde liefdesverhaalskrywer gebore en getoë in Pretoria. Reeds as tiener het sy ’n voorliefde vir lees ontwikkel, maar nooit die moontlikheid om formeel te skryf beproef nie. In 2006 word haar eerste Romanza, In ruil vir ’n hart, gepubliseer en vervul sy op 42 een van haar groot hartsbegeertes naamlik om te skryf. In 2013 is sy met ’n ATKV Woordveertjie vir haar Romanza, Boks vol soentjies, en in 2018 vir haar Romanza, Alles is perfek vereer. Met 58 Romanzas en 8 SuperRomanzas agter haar naam is sy een van die topverkopers in die mark. Sy woon tans in Centurion saam met haar man, Louwrens, haar seun Louwrens junior en drie dogters Anri, Ziske en Karlin, skoonseun Johan en suster Zanie.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Omdat jy my gesoen het deur Elsa Winckler

Hoe gee jy jou hart vir ’n man wat nie syne kan volg nie?

Debbie bring haar dae om deur koeke te bak vir ander mense se spesiale geleenthede, meestal vir die troues wat haar familie besigheid reël. Maar vir hierdie kekkelbek lyk daai spesiale dag nog ver weg, veral na die pandemie enige kans op romanse vernietig het. Maar wanneer Debbie op ’n dag in die hysbak saam met haar nuwe swaer se aantreklike broer vassit, verander haar vooruitsigte. Syne ook. Want Alec was nog altyd die stil een, die ongekompliseerde een, die een sonder planne vir langtermyn liefde. Nou sit hy egter met muisneste wat net nie wil padgee nie. Maar hierdie kwetterende koekbakster het nie tyd vir ’n man wat nie sy hart kan volg nie. Hierdie is die voorlaaste boek in Elsa Winckler se Omdat jy-reeks.

Oor die outeur

Vir solank as wat Elsa Winckler kan onthou, lees sy liefdesverhale en toe sy die klassieke skrywers soos Jane Austen, Elizabeth Gaskell, Henry James, die Brontë susters, ensovoorts tydens haar honneursstudies ‘ontmoet’ het, was dit soos om huis toe te kom.

Om self ’n liefdesverhaal te probeer skryf, was ’n logiese volgende stap. Op die manier kon sy uiteindelik al die gesprekke wat naamlose gesigte gereeld in haar kop voer, neerskryf. Sy is met haar studenteliefde getroud en ná 39 jaar, drie interessante kinders en drie pragtige kleinseuns, maak hy, soos dit ’n held betaam, nog altyd haar knieë lam. Hulle is van die gelukkige mense wat op Bettysbaai bly waar die see voor hulle lê en ’n berg hoog agter hulle uittroon.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Beloofde land, beloofde liefde deur Malene Breytenbach

Op soek na die skatte van die verlede vind sy iets meer kosbaar in die hede. 

Wanneer joernalis Ingrid Thesen besluit om ’n gap-jaar te vat, besef sy nie waarvoor sy haarself inlaat nie. Sy vertrek saam met haar Joodse vriendin Sharon na Israel, waar sy ’n span argeoloë wil vergesel op ’n grawe in Galilea. Daar aangekom ontmoet sy die res van die span kenners, insluitende Leif Andersson, die Noorweegse historikus op die spoor wat sy Kruisvaarder voorvaders destyds na die beloofde land aangedurf het. Teen die agtergrond van hierdie antieke landskap probeer die twee bymekaar kom, maar Ingrid besef dat sy nie alleen is in haar aangetrokkenheid tot Leif nie. Op soek na skatte uit die verlede sal hulle ook die politieke onluste in die area moet trotseer as hulle ’n kans op liefde wil hê.

Oor die outeur

Malene Breytenbach woon in Stellenbosch met haar man, Willie. Sy het by die Universiteit Stellenbosch gewerk toe haar eerste romanse, Palmyra herleef, in 2005 deur LAPA Uitgewers gepubliseer is. Sedertdien is byna vyftig van haar romanses (kontemporêr, medies en histories) deur LAPA en Tafelberg Uitgewers gepubliseer. Sy geniet dit terdeë om romanses te skryf. Tans skryf sy voltyds. Sy skryf ook romans, kortverhale en koerantartikels en lewer gereeld resensies vir tydskrifte en koerante.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Mode en motors deur Louise van der Merwe

Nes sy op haar eie voete leer staan, kom ’n man en swiep hulle onder haar uit. 

Nicola Steyn droom van Londen waar sy glo haar ouers se goeie naam en sakke geld vir haar die deure na die modeindustrie sal oopmaak. Haar ouers het egter ander planne. Die kraantjie is toe. Nicola kan haar droom volg, maar sy sal dit op haar eie stoom moet deursien. Vasberade stel sy ’n begroting op sodat sy aan die werk kan spring. Darem net genoeg vir ’n woonstel huur. En dít by die aantreklike werktuigkundige wat die gebou besit. Hoekom laat Stephan hierdie bedorwe brokkie net die beste weergawe van haarself wil wees? En hoe gemaak as jou hart jou een kant toe trek, terwyl jou lewenspad anderkant toe deins? Hierdie is die opvolg op Kiekies en koffie.

Oor die outeur

Louise van der Merwe het van haar tienerdae af haar neus in ’n boek. Om eendag haar eie boek vas te hou het ’n ontwykende droom geword waaraan sy hardkoppig vasgeklou het. Sy’s met haar eie held getroud en is steeds dolgelukkig ná drie woelige kinders. Sy’s ook mal oor liefdesverhale want liefde is mooi, lekker en raak nooit oud nie!

Ook beskikbaar as e-boek:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Beloofde land beloofde liefde Dina Botha Elsa Winckler LAPA LAPA Uitgewers Louise van der Merwe Malene Breytenbach Mode en motors New books New releases Omdat jy my gesoen het Romanza Soos in stories


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments