C

‘Haar arms is om sy nek voor sy kan sê shiraz’: Lees ’n stomende uittreksel uit Didi Potgieter se e-rotiese roman, Perke
 More about the book!

Didi Potgieter se jongste e-rotiese roman, Perke, het vanjaar by Wenkbrou verskyn.

Tydens ’n wêreldwye pandemie beland ’n onwaarskynlike paartjie saam onder een dak. Landi is ’n internasionale model wat haar rockstêr man en haar pa aan die dood afgestaan het. Gerbrandt boer in die Noord-Kaap. Wanneer die inperking begin, spat die vonke tussen dié twee.

Lees die uittreksel:

***

Landi kyk na die afgedopte rooi naellak op haar toonnaels. Sy wou dit graag afgehaal het en ander opgesit het voor vandag, maar toe het sy nie. Wonderlik, nog iets om vandag oor skuldig te voel.

Sy vat ’n groot sluk wyn uit die glas op die bad se rand en kyk op haar horlosie. ‘Demmit,’ vloek sy gedemp teen die rand van die glas. Oor minder as ’n halfuur gaan die mense begin opdaag. Dalk moet sy die badkamerdeur sluit en dit eers weer oopsluit wanneer die laaste persoon weg is.

Sy wil net orent kom, toe iemand aan die deur klop. Shaun staan in die deur. ‘Rooiwyn dié tyd van die dag?’

‘Ag, gaan weg,’ sê sy en waai met haar hand na hom.

’Jou klere gaan kreukel as jy so daarmee in die bad bly lê.’ Shaun loop nader. ‘Jy lyk miserabel.’

‘Dankie. Jy vergeet, ek is ’n weduwee. Mense gaan vandag van my verwag om miserabel te lyk.’

Hy vat die glas by haar en gooi die laaste sluk in sy keel af. ‘Hmm, dit proe soos jy, al is whisky mos maar eintlik jou ding.’

Landi wil vir hom sê dat sy vandag enigiets sal drink om haar gevoelens te verdoof, maar bly maar liewer stil. Sy neem sy uitgestrekte hand en laat hom toe om haar uit die bad te help. Sy val amper om, maar hy vang haar betyds. Dadelik is sy mond op hare.

Die honger wat die afgelope ses maande so bekend geword het, neem dadelik weer oor en haar arms is om sy nek voor sy kan sê shiraz. Sy sterk hande verstaan hoe om vure in haar aan te steek, hulle gly onder haar rok in en volg die bekende pad na waar sy warm vir hom wag.

In haar agterkop smeek ’n sagte, veraf stemmetjie sy moet stop, dat sy nie hierdie sonde op hierdie dag kan voortsit nie, maar die wyn het klaar weer haar gewete se volume sagter gestel. Toe hy haar op die wasbak tel, gaan haar bene gewillig om sy lyf. Sy ken sy smaak, die vat van sy hande, die ritme van sy passie. Sy ken ook die ellendige skuldgevoel as hulle albei ingegee het en die einste passie uitgewoed is. Sy dink eerder nie daaraan nie, sy dink eerder aan wat sy hande reeds aan haar te doen. As Ian homself kon oorgee aan heroïne, kan sy haarself oorgee aan hierdie dwelm.

Landi sukkel nog met die gespe van sy belt, toe die voordeurklokkie deur die klipgebou weergalm. Sy wil dit ignoreer. Sy wil nie nou dink aan die mense wat gaan opdaag vir haar man se gedenkdiens nie. Sy wil verdrink in hierdie ding met Shaun. Maar die klokkie lui weer en Shaun staan terug.

‘Flip Landi, jy maak my mal,’ sê hy, sy Skotse aksent swaarder van begeerte.

Sy lag, maar haar stem klink leeg. Die woorde sou op ʼn ander dag, uit ’n ander man se mond ’n kompliment gewees het. Nou bevestig dit bloot wat ’n absolute sedelose vrou sy geword het.

Shaun vryf oor sy hare. ‘Ek sal gaan oopmaak, trek solank vir jou skoene aan.’

Sy bly ʼn paar oomblikke roerloos staan, toe draai sy om en staar na die vrou in die spieël. Daar is bitter min oor van die jong meisie wat tien jaar gelede in Suid-Afrika op die vliegtuig geklim het. In die spieël is die vrou wat die wêreld leer ken het. Die aktrise, die model en die vrou van die hoofsanger van die bekroonde rockgroep, Younger. Nee, die weduwee van die hoofsanger …

Die weduwee wat nou voor ’n klomp mense, insluitend ’n paar joernaliste wat sy nie kon wegwys nie, sal moet maak asof sy stukkend is oor die dood van ’n man wat in die laaste twee jaar van hulle huwelik nie sy verdomde broek kon aanhou nie.

Landi draai weg van die spieël. Sy is self nie onskuldig nie en sy het geen rede om ’n dooie man te verwens nie. Sy is seker waar hy nou is, het hy genoeg om mee te deal.

*

Gerbrandt sit die radio effens harder. Die nuus oor Ian Young se afsterwe het die vermaaklikheidsnuus hierdie week oorheers en vandag vind Young se gedenkdiens by sy kasteel in Skotland plaas. Daar is die hele week lank bespiegel oor hoe sy vrou die hele situasie hanteer, maar niemand kon haar in die hande kry om kommentaar te lewer nie. Seker maar beter so, want wat sê jy nou ná jou man se dood aan ’n oordosis dwelms in ’n hotel in die geselskap van twee prostitute?

Nie dat hy haar jammer kry nie, glad nie. Dit is seker maar die prys wat jy betaal vir ’n lewe in die kollig. Hy sluit sy bakkie af toe die nuusinsetsel verby is. Hy is hier om by sy pa te kuier. Dit is beter om nie nou aan haar te dink nie.

‘Môre Pa, hoe gaan dit hier?’

‘Ou dominee Smith is gisteraand oorlede. So in sy slaap.’

’n Koue gevoel kom sit op die krop van sy maag. Hy dink aan hoe hy gevoel het toe sy ma vier jaar terug oorlede is. ‘Het iemand al die familie laat weet?’ vra hy vaagweg, sodat hy nie haar naam hoef te sê nie.

‘Matrone het Yolande probeer bel, maar kon haar nog nie in die hande kry nie. Seker weer besig om iewers te rinkink.’

Hy dink aan die omroeper se kommentaar vroeër. Met die wêreldwye pandemie, kan net gaste met uitnodigings die diens bywoon. Dit klink dalk soos ’n partytjie, maar hy glo darem nie heeltemal dis lekker vir haar nie. Tog, Sarel Smith was haar pa, al het sy hom nooit weer kom sien nie.

Sy pa sien seker waarheen sy gedagtes mik, want hy verander vinnig die onderwerp: ‘Hoe lyk dinge op die plaas?’

‘Ons kan doen met nog reën, maar dinge lyk darem beter as verlede jaar.’

Hulle gesels verder oor die plaas, maar Gerbrandt hou sy horlosie dop en toe hulle gebruiklike uur verby is, staan hy op en groet sy pa.

Op pad terug plaas toe dwaal sy gedagtes weer onwillekeurig na Landi Smith. Flip, ná tien jaar kan hy haar steeds in die fynste detail onthou. Die heesheid in haar stem as passie haar oorval, haar sagte vel, die ronding van haar borste …

Vies oor die feit dat sy liggaam dadelik op die herinnering reageer, stel hy die lugversorger kouer. Gelukkig weet hy hierdie reaksie het niks te make met die gevoelens wat hy vir haar gehad het nie, maar met die feit dat die media haar steeds in hulle almal se keelgate afdwing. Met haar perfekte lyf en uitklopglimlag op al wat ’n voorblad is, is dit nogal moeilik om die vrou met wie jy flippen goeie seks gehad het, te vergeet. As sy nie alewig in haar volle glorie op al wat ’n tydskrif se voorblad is gepronk het nie, was hy en Marina dalk nog getroud. Alhoewel hy twyfel. Die liefde tussen hulle het nooit werklik so diep geloop nie.

*

Landi is dankbaar toe die laaste persoon se motor in die verte tussen die klippilare verdwyn. Haar kop is seer en sy het iets nodig om te drink. Iets sterkers as appelsap.

‘Kan ek vir jou ’n whisky skink?’ vra Shaun.

‘Ek sal self.’

‘Landi.’ Hy kom staan voor haar, sy oë diep blou poele. Sy wag vir die vlaag begeerte om oor haar te spoel, maar dit gebeur nie. Daar is wel jammerte vir hom. Hy moes immers vandag sy broer finaal groet, terwyl hy in sy agterkop weet wat hy die afgelope ses maande met haar aangevang het …

‘Shaun, ek dink jy moet gaan.’

‘Landi, ek kan bly.’

‘Ek weet jy kan. Ek weet jy kan vir ons elkeen ’n stewige whisky op ys skink en ek weet ons kan daarna wonderlike seks hê. Ongelukkig gaan ek en jy albei môreoggend net nog slegter oor onsself voel.’

Hy knik en steek sy hande in sy broeksakke. ‘As dinge anders was, was ek nou jou man.’

‘En dan was jy dalk die een wat nou in jou graf was. Nag, Shaun. Ek sien jou môre.’

Sy tel die bottel whisky op en stap teen die kliptrappe op na die tweede verdieping. Goeie bliksem, sy kan nie wag om hierdie koue kasarm in die mark te sit nie. Wat haar en Ian ooit besiel het om ’n klipkasteel in Skotland te koop, sal sy nie weet nie. Landi sit die bottel whisky langs haar selfoon neer en trek haar skoene uit. Sy is lus om weer met klere en al in die bad te klim en die emosies wat binne haar opgehoop het vrye teuels te gee. Kaalvoet gaan staan sy in die deur en kyk na die diep bad in die hoek. Sy wonder of hierdie behoefte te doen het met die feit dat haar pa haar van kleins af in die badkamer toegesluit het as sy haarself nie kon gedra nie. Is dit haar manier om haarself te straf vir die feit dat sy nie ’n goeie vrou vir Ian was nie? Of vir die feit dat sy in sy broer se arms passie gaan soek het toe dinge werklik tussen hulle begin skeefloop?

Sy draai weg van die bad, sy gaan in elk geval nie daarin klim sonder ’n stewige dop nie. Sy tel haar selfoon op om te kyk hoe laat dit is. Daar was vier oproepe van die versorgingseenheid waarin haar pa is. ’n Oomblik lank oorweeg sy om dit te ignoreer. Sy wil tog nie nou weet wat hy vandag weer aangevang het nie. Sy betaal ’n helse bedrag om hom daar te laat bly … wat kan sy in elk geval vir die mal man doen? As hulle hom uitskop, sit sy ongelukkig met ’n groter probleem. Daarom gaan sit sy maar op die bed en skakel die nommer.

‘Goue dae-versorgingsoord, suster Mart wat praat, hoe kan ek help?’ antwoord ’n vrou.

‘Suster Mart, dit is Yolande Smith wat praat, dominee Smith se dogter. Ek sien julle het my gesoek?’

Daar is ’n lang stilte. Landi begin net wonder of die konneksie verbreek is, toe hoor sy hoe die vrou haar asem intrek. ‘Mevrou Smith, ek het slegte nuus. Jou pa is gisteraand oorlede.’

 

***

Hierdie stomende, sissende e-rotika is tans net as e-boek te koop:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Book excerpts Book extracts Didi Potgieter e-rotika ebooks LAPA LAPA Uitgewers Perke Uittreksel Wênkbrou


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments