C

Waar vind jy altyd liefde? In LAPA Uitgewers se jongste Romanzas!
 More about the book!

Nou beskikbaar by LAPA Uitgewers … vier lekkerlees liefdesverhale deur Rina Cilliers, Wilreza Smit-Theron, Elize Davis en Lizelle von Wielligh.

Pienk tonic vir die liefde deur Rina Cilliers

Liefde kan soms ’n onverwagse wending neem …

Fea Furstenburg besluit impulsief om te bedank by die gewilde Wiehahn Dierekliniek. Ongelukkig lei dit daartoe dat haar verhouding met die skatryk Marius Wiehahn skipbreuk ly. Voordat sy die kliniek se stof finaal van haar voete afskud, ontmoet sy ’n vreemdeling met blou oë en ’n weerlose mond in ’n perdestal wat ’n vreemde emosie in haar wakker maak.

Fea begin ’n nuwe lewe as veearts in ’n rehabilitasiesentrum op ’n wildsplaas vol verrassings en uitdagende ervarings. Tot haar verbasing erken sy die aantreklike plaaseienaar, Steph, as die vreemdeling in die perdestal. Net toe hul verhouding begin ontwikkel, daag Marius skielik uit die bloute op en bied sy onvoorwaardelike liefde aan haar.

Na ’n vreesaanjaende nag tussen wilde diere en die bedrywighede van ’n sindikaat wat vir Fea aan smokkelhandel verbind, kry sy sekerheid oor die liefde en aan wie haar hart behoort.

Oor die outeur

Rina Cilliers woon saam met haar eggenoot op Hartenbos, sogenaamd afgetree. Sy was bevoorreg om voltyds ma (van vier kinders) en tuisteskepper te wees, het al vele kere in haar lewe op verskeie plekke gebly, maar hulle kinders het hoofsaaklik skole en universiteit in Pretoria bygewoon, waar hulle vir 25 jaar gebly het, en daarna Kaap toe en toe Greyton toe wat die punt van haar hart was. Buiten ma en vrou wees, is haar lewe interessant, kreatief en bowenal, positief; dis in hierdie gees wat hulle ’n hegte familie gevorm het.

***

Getyeman deur Wilreza Smit-Theron

Opregte liefde is onbreekbaar …

Lunaise vestig haar op Kosiebaai na ’n liefdesteleurstelling. Hier aan die ooskus van Afrika vind sy vrede en genesing in die tropiese waters van die warm Mosambiekstroom. Totdat Rolf Pfeiffer een aand onverwags by haar voordeur opdaag en deur al haar skanse breek sonder om ‘n vinger te verroer.

Lunaise se hart word ‘n oseaan waarvan die getye haar dwing om soms asemloos tussen hoog- en laagwater te oorleef.

Oor die outeur

Wilreza Smit-Theron is in 1964 in Pretoria gebore en het in die Kaap skoolgegaan. Na sewentien jaar het sy uit die onderwys bedank en is tans ’n vryskutvertaler/proefleser. Sy het nog altyd met stories in haar kop rondgeloop, maar nie geweet hoe om dit op papier neer te skryf nie. Daar het onlangs twee tienerboeke van haar by ’n ander uitgewersmaatskappy verskyn. Sy woon in Loevenstein naby Durbanville en in haar vrye tyd lees sy graag, fliek, draf, speel met haar vier Bassets en probeer drie meisiekinders grootkry. Die plek waarheen sy vlug as sy haar kop wil skoonkry, is enige plek naby water, riete en voëls.

***

Allermooiste meisie deur Elize Davis

Die pad na liefde is nie altyd maklik nie …

Irma Vermeulen gaan Groenboskloof toe om ’n nuwe lewe te begin nadat Henry Randall, aan wie sy ’n kort rukkie verloof was, haar lewe vergal het. Almal verwelkom haar met ope arms, behalwe Werner, die befoeterde, stroewe skrywer wat geen vrou vertrou nie. Werner verwar Irma met sy teenstrydige optrede. Hy is meestal vyandig, maar tog is hy soms begrypend. Boonop flankeer hy openlik en soen haar van haar voete af!

Oor die outeur

Elize Davies is op Potchefstroom gebore, het in Durban en Brakpan grootgeword en onderwys gaan swot op Potchefstroom. In Vanderbijlpark ontmoet sy haar droomman en trou met hom ná ’n blitsromanse. Vier kinders en baie vreugde, hartseer, liefde en lewenslesse later tree sy en haar man in Skotland af, waar sy tans lees en skryf – beide ’n waarborg om haar heeltemal te laat vergeet van die sleur van die daaglikse lewe.

***

’n Tyd om te lag deur Lizelle von Wielligh

Kan ’n gebroke huwelik betyds gered word?

ʼn Brief van ʼn geskeide vrou skud die fondasies van Noulien se huwelik. Ná agt jaar se getroude lewe is sy en Stephan verby die maanskyn en rose stadium en het hulle paadjies uitmekaar begin loop. Noulien besluit om Marriage Capsule se huwelikskursus te volg, want ʼn huwelik is soos ʼn motor: As dit eers breek, is die skade groot, soms onherstelbaar. Maar het sy betyds wakker geskrik?

Oor die outeur

Lizelle von Wielligh is op haar gelukkigste in die natuur waar sy naby aan haar Skepper is. Haar dag begin gewoonlik met ʼn wandeling deur die denneplantasies. Só voed sy haar siel en kry haar gedagtes vrye teuels om haar stories te beplan. Sy het ʼn BCompt-graad (rekeningkunde) aan die Universiteit van Suid-Afrika voltooi. Haar roeping om liefdesverhale te skryf, sal sy egter vir niks verruil nie. Deur karakters te skep, kry sy kans om in ander mense se skoene te staan. Dit het haar ʼn deernis en liefde vir haar medemens gegee en haar geloofslewe verryk.

***

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Elize Davis LAPA LAPA Uitgewers Liefdesverhale Lizelle von Wielligh New books New releases Rina Cilliers Romanza RomanzaKlub Wilreza Smit-Theron


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments