C

Waar lê die lyn tussen inwoner en inkommer? Vind uit in Hans du Plessis se jongste roman, Inkommers!
 More about the book!

Waar lê die lyn tussen inwoner en inkommer?

‘Ek, Plakker Prinsloo, weet nie of ek nou al gereed is om vir die eerste keer saam met Bennie Afrikaner uit te ry Kom toe nie. Ek was nog nooit ‘n reisiger nie, dit is nou as jy nie my en Ma se ewige getrek voor Pa se misdaadrekord uit reis kan noem nie.’

Inkommers is ‘n eietydse verhaal, ‘n kroniek van die Afrikaners – die familie, nie die volk nie – wat al van die Groot Trek se dae af wydsbeen oor die vuil Vaal in die Vredefortkoepel boer. Is dit moontlik dat net gebore Kommers in die Kom hoort? Hoe gemaak met inkommers wat tot dusver nie juis welkom was nie? ‘n Mens moet versigtig wees vir vreemdelinge. Die Afrikaners is hoeka aan die min word en hulle wil hulle omgewing tot ‘n erfenisgebied verklaar kry. Dan is die liefde ook nog aan die uitsterf. Iemand moet daarop reageer, rebelleer selfs, maar rebelleer die ware rebel vir iets of teen iets?

In die titel lê ook dié vraag opgesluit: Is die Kom se bewoners die eienaars (hoort hulle in die Kom op grond van besit) of is hulle inkommers (van buite af en sonder enige regte)? Uiteindelik ‘kom’ al die verhaallyne ook ‘in’ omdat dit duidelik word hoe mense wat mekaar net skrams of glad nie geken het nie, van meet af aan deel van mekaar en die Kom was. ‘n Grootliks onbekende verlede word hiermee saam onthul.

Oor die outeur

Hans du Plessis is op 15 Januarie 1945 in Pretoria gebore. Hy matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria en behaal ’n BA aan die Universiteit van Pretoria. Terwyl hy onderwys gee, verwerf hy ook die UOD, Hons BA en MA, laasgenoemde twee met lof, aan Unisa. In 1975 verwerf hy ’n doktorsgraad in Afrikaanse Taalkunde ook aan Unisa. Daarna volg hy ’n postdoktorale kursus in die linguistiek aan die Universiteit van Harvard. Hy woon verder in 1991 skryfskole in Iowa en Oklahoma by. Hy het reeds 160 publikasies agter sy naam, maar debuteer in 1978 as skeppende skrywer met die digbundel Kleinwild. Sy akademiese publikasies sluit taalkundehandboeke en taal- en letterkunde-artikels in nasionale en internasionale tydskrifte in. Sy skeppende werk sluit ses digbundels, drie jeugromans en vier romans in. Verder publiseer hy ook vele gedigte, rubrieke en kortverhale. Ses dramas en musiekspele uit sy pen word by verskillende kunstefeeste opgevoer. Hy verwerf onder andere die CR Swart-prys vir tienertoneel, die ATKV-kinderboekprys, ’n erepenning van die SA Akademie en die CBSA-prys vir godsdienstige werk vir die digbundel Innie skylte vannie Jirre, waarvan daar nou reeds meer as 65 000 eksemplare verkoop is. Hans is getroud met Magdaleen Potgieter en hulle het vier seuns en sewe kleinkinders.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Hans du Plessis Inkommers LAPA LAPA Uitgewers New books New releases


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments