C

Video: André Trantraal wen ’n SALA vir sy kinderboek Keegan en Samier: Die sokkerfiasko
 More about the book!

André Trantraal is onlangs bekroon met ’n Suid-Afrikaanse Literêre Toekenning (SALA) vir sy kinderboek, Keegan & Samier: Die sokkerfiasko.

Keegan & Samier is ’n reeks van vier boekies vir beginnerlesers van sewe jaar en ouer en is deur die skrywer self geïllustreer. Die sokkerfiasko is ook in Augustus met ’n ATKV-kinderboektoekenning in die Onafhanklike Leeskategorie: Graad 2 en Graad 3 bekroon.

Keegan en Samier is beste vriende. Samier se tweelingsussie, Samia, kuier graag saam. Dan is daar ook Jenni-Lee, Keegan se klein sussie, en Keegan se slim en streng ouma. Saam het hierdie vriende hope heerlike avonture! Ongelukkig is Brent Petersen, die klasboelie, altyd daar om dinge bietjie te versuur.

Trantraal is ’n skrywer, illustreerder en vertaler. Hy is veral bekend vir die strokiesprentboeke Stormkaap en Coloureds en het ook die afgelope paar jaar tot die kinder- en jeugboekmark toegetree. Benewens Keegan & Samier is hy ook verantwoordelik vir die illustrasies van Anzil Kulsen se Clint Fryer-reeks wat onlangs verskyn het.

Sy strokiesprentwerk, geskryf in beide Kaaps en Engels, het in BeeldDie Burger, Rapport, Cape Argus en die Cape Times verskyn en was in Hamburg, Amsterdam en Kaapstad uitgestal. Sy Engelse vertalings van die Kaapse gedigte van sy broer, Nathan Trantraal, het in ’n uitgawe van die New England Journal verskyn. Hy en sy broer werk gereeld saam en is baanbrekers in die bevordering van Kaapse Afrikaans.

Kyk na die toekenningseremonie (André ontvang sy toekenning vanaf 32:00):

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Andre Trantraal Awards Kaapse Afrikaans Keegan en Samier: Die sokkerfiasko LAPA LAPA Uitgewers News SALA South African Literary Award 2021


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments