‘Prooi en jagter het nou plekke geruil’: Lees ’n uittreksel uit Jagter, Bettina Wyngaard se derde Nicci de Wee-riller (Plus: Video)
More about the book!
Prooi en jagter ruil plekke in Bettina Wyngaard se derde Nicci de Wee-riller, Jagter. Penguin Random House SA het ’n spanningsvolle uittreksel gedeel waarin ’n jong vrou haar tweelingsuster aan die dood afstaan wanneer hulle deur ’n groep mans aangeval word.
Haar suster sterf en sy word jagter.
Oor die boek
Klippe, messe en pyle uit ’n kruisboog: Die vreemste – en wreedste –misdaadtoneel in Kaptein Nicci de Wee se loopbaan.
Dan moet sy en haar nuwe taakspan boonop bontstaan om saam met die nimlike Blackie Swart ’n internasionale insident te voorkom. Ook op haar lessenaar: die dood van twee jong meisies. En die angswekkende vermoede dat al hierdie sake met mekaar verband hou. Met soveel kinkels in die kabel soos dooies in die staatslykhuis, moet Nicci-hulle alles tot hul beskikking inspan om ’n nuwe hel af te weer: van ’n rekenaarfundi, tot stiletto’s en selfs ’n paar petrolbomme.
Gou kom Nicci agter die monsters wat haar lewe en dié van haar kollegas bedreig, is gevaarliker as Ramoth, vlymskerp polisiefotograaf Stella Jansen se mak Komododraak.
In Jagter, haar derde Nicci de Wee-riller, draai Bettina Wyngaard al die krane oop.
Lees die uittreksel:
~~~
Proloog
Teheran, Islamitiese Republiek van Iran, 2003
Dis ’n soel someraand, die soort aand wat jong mense nie waardeer terwyl hulle dit beleef nie. Eers later, deur die waas van vergange jare en gekleur deur nostalgie, het sy besef hoe perfek die aand was. Geen sorge nie, net die vooruitsig van ’n langnaweek weg van die beklemming van die stad.
’n Ligte briesie waai, net genoeg om die hitte van die aand te verlig. Ver weg klink musiek op. Een of ander tradisionele stuk, met chang, zurna en tompak.
Die meeste geboue is donker, die gewoonlik bedrywige kampus verlate. Studente en personeel het so vinnig soos wat hulle kon, laat spaander om soveel moontlik uit die naweek te put. Die meeste mense gaan weg. Dis die vooraand van Norooz, ’n verskoning om weg te kom uit die stad en bietjie saam met familie te ontspan met Moslembier en -eetgoed.
Die praktiese klas het langer aangehou as wat hulle verwag het. Hajir moes Shilan kom haal het. Om laat vrou-alleen op kampus te wees sonder ’n mahram is moeilikheid soek. Maar die prakties het laat begin, en Hajir moes hulle ma nog winkel toe neem. Hulle pa werk laat, en as oudste seun moet Hajir dan inspring.
Sy het by Shilan gebly sodat haar tweelingsuster nie alleen hoef te stap nie. Hulle het afgespreek om hom op die hoofkampus by die kafeteria te kry. Nie een van die susters kan bestuur nie, al het sy hoeveel keer by haar pa geneul om haar te laat leer.
Sy staan stil om die soet, amper parfuumagtige reuk van die plataanbome in te adem. Dis die geur van somer, die geur van vakansie. Terwyl sy wag, verstel sy haar manteau en skuif die hijab versigtig reg oor haar hare.
Shilan kom agterna gedrentel, al geselsend terwyl sy op haar selfoon kyk.
Nie een van hulle merk die kar op wat hulle op ’n afstand volg nie, hoofligte afgeskakel, enjin sag luierend in die donker.
Hulle droom hardop oor hul naweek. Haar pa se jagkamp is ver weg van die beskawing. Die godsdienspolisie, die Gasht-e Ershad, kom nie daar nie, en hul naaste bure is kilometers ver. Vryheid! Niemand om die hijab-wette op hulle af te dwing nie. Daar kan hulle kort rompies dra. Hulle kan lipstiffie aansit. Hulle kan loop met arms en hoofde ontbloot. Die manteaus word gebêre tot hulle weer terug Teheran toe moet gaan. Hajir kan sy kortbroek aantrek.
Hulle besef die gevaar eers toe die enjin skielik dieper grom soos die kar versnel en dan met skreeuende remme voor hulle inswaai. Alles gebeur so vinnig dat daar nie kans is om te reageer nie. En wat kan hulle doen, twee agttienjarige studente op die verlate kampus? Twee vroue alleen sonder manlike toesig.
Hulle het geweet hulle loop ’n risiko, maar hulle kon dit ook nie gewaag het om op die afgeleë gedeelte van die suid-kampus te bly nie. Nie al die manlike studente hou van vroue in die klas nie. Sommige van hulle loop agter die meisies aan en jou hulle uit. Die Gasht-e Ershad soek enige verskoning om vroulike studente te teister.
Hulle kom gewoonlik nie op kampus nie, maar hier is hulle nou. Twee mans, met die vol baard, die genadelose oë en die tuniek van die godsdienspolisie. Geen vroulike lede by hulle nie. Dis nie reg nie. Hulle oortree self sjariawette deur by vroue te kom wat nie familie is nie.
Hier is groot fout.
Sy is vinnig. In ander omstandighede sou sy ’n atleet kon gewees het, maar nie in die Islamitiese Republiek van Iran nie. Selfs nie in Teheran nie. Veral nie in Teheran nie. Nie nou terwyl sjaria al strenger toegepas word nie.
Sy is vinnig genoeg en kom weg van die twee mans.
Maar Shilan, vriendelike, sonnige, lompe Shilan kom nie weg nie. Hulle vang haar maklik en boender haar sonder meer agter in die kar in.
Sy kan Shilan nie net so los nie en draai om. Hoekom sy nie gedwee ingeklim het nie, weet sy self nie. Miskien is dit iets in die oë van die jonger man, iets wat haar onrustig gestem het. Iets omtrent die letsel aan sy wang, van net onder sy oog tot amper by sy mond.
Hy was in ’n mesgeveg.
Haar eerste skop tref die vetste een van die twee op die knie.
Hy val met ’n kreet neer. Die jongste een is by haar voordat sy kan omdraai. Sy eerste hou tref haar teen die kop. Dan swaai hy haar om en begin vloek terwyl hy haar slaan. In haar gesig. Op haar lyf. Toe sy val, skop hy haar. Ver weg kan sy Shilan se gille hoor.
Genadige donkerte.
Dae later word sy in die hospitaal wakker. Haar wangbeen is gekraak, haar arm op twee plekke gebreek. Een oog is heeltemal toegeswel. Daar is kaal kolle op haar kop waar haar hare uitgepluk is. Haar arms en bene is vol skaaf- en snymerke. Die twee diep meswonde in haar bors en maag het wonderbaarlik geen organe getref nie.
Sy het lig daarvan afgekom.
Shilan se naakte liggaam word ’n week later in die donker voor hulle deur neergegooi. Sy is gemartel. Haar vingernaels is uitgetrek. Haar ribbes en vier vingers is gebreek. Volgens die wonde aan haar lyf lyk dit asof iemand ’n brandende sigaret herhaalde kere op haar doodgedruk het.
Party van die kneusings aan haar arms, bene en lyf is dae oud. Ander is vars. Hulle begin net blou word. Sy is verkrag. Herhaaldelik.
Dít alles het haar suster reeds geweet.
Shilan sterf voordat sy by ’n hospitaal kan uitkom.
Die familie se klagtes val op dowe ore. Die polisie stel nie belang om die saak te ondersoek nie. Sy word gewaarsku om haar lasterlike bewerings teen die Gasht-e Ershad te laat vaar, of sy sal in hegtenis geneem word. Soms kyk sy by die venster uit en sien ’n polisievoertuig oorkant die pad geparkeer staan. Hulle kom nooit in nie. Hulle doen niks. Hulle sit net daar.
Weke gaan verby, maande. Voor haar oë word haar ma en pa ouer en gryser by die dag, krom, inmekaar gekrimp. In die huis van lag en musiek word dit stil.
Niemand kom kuier meer nie. Die polisievoertuig maak voornemende besoekers senuweeagtig.
Hulle maak die gordyne nooit meer oop nie. Shilan se foto’s pryk nie meer in die sitkamer nie. Soms, net soms, sit haar ma in die kombuis met die album. Sy steek dit gou weg wanneer iemand inkom.
Hajir blameer homself. Ses maande na die aanval immoleer hy homself in protes op die trappe van die polisiestasie.
Haar oë bly kurkdroog.
Sy huil nie oor Hajir nie. Sy stort nie ’n traan oor Shilan nie. Haat is al wat in haar oorgebly het. Haat. Wraak. Die belofte van geregtigheid. Geregtigheid vir Shilan. Geregtigheid vir haarself. As die polisie dit nie kan gee nie, sal sy dit self uitdeel.
Die dag toe sy dít besluit, ’n week na Hajir se begrafnis, is ’n kruispad in haar lewe.
1
Kaapstad, Suid-Afrika, 2018
As sy net die bome kan haal, sal sy veilig wees. Dus hardloop sy met als in haar. Sy swenk uit vir takke, spring oor jong struike en hou haar kop laag. Die bosse is haar vriend, die donkerte haar metgesel.
Haar langbroek, baadjie en t-hemp is swart. Dit laat haar perfek met die donker saamsmelt.
Dit help haar niks nie, want hulle dra nagsigbrille. En het knaldempers aan hul pistole. Die sagte pfft-geluid is al waarskuwing voordat sy die intense brandpyn teen haar kop voel. Die koeël slaan in die boom skuins voor haar vas. Sy val en rol om weg te kom van haar agtervolger. Nog net ’n paar treë en sy is in die beskutting van die bome.
Die bloed stroom oor haar voorkop. Kopwonde bloei altyd erger, probeer sy haarself kalmeer terwyl die bloed in haar oë vloei, oor haar gesig, in haar mond. Sy vee met die punt van die t-hemp oor haar gesig. Tevergeefs.
Meer bloed stroom net af.
Sy kyk die bome deur. Genoeg blare wat haar verberg, met dik takke waarteen sy kan rus terwyl sy haar agtervolgers inwag. ’n Eikeboom omring deur jong lote en kort bossies trek haar aandag. Sy moet spring om die laagste takke te bereik, en binne ’n japtrap is sy verskuild in die takke.
Weghardloop was nog nooit haar styl nie.
Hier is drie van hulle. Hulle is óf nie gewoond daaraan om in bosse te beweeg nie, óf hulle is so selfversekerd dat hulle nie omgee dat sy hulle kan hoor nie.
Arrogant, besluit sy nadat sy ’n rukkie lank na hulle lê en luister het. Arrogant en vol vertroue in hul spiere en hul wapens. Dit kan sy teen hulle gebruik.
Versigtig haal sy haar jagmes uit sy skede. Dabria, haar gunstelinglem. Die lem, soos al haar wapens, is vlymskerp, gitswart en van temperstaal wat in lae oor mekaar gevou is. Net die beste handgemaakte Japanse lemme is goed genoeg vir haar.
Al wat sy nodig het. Dít, en ’n titseltjie geluk.
Die ligte voetval onder haar laat haar verstyf. Hy het haar nie gesien nie, maar sy weet dit kan enige oomblik verander. Sy hou haar asem op toe hy gaan staan. Doodstil. Nie een van hulle beweeg nie.
Elke spier in haar liggaam span styf.
Die geluid van ’n ritssluiter wat oopgetrek word, en water wat in die bos voor haar val, laat haar haar asem verlig uitblaas.
Bietjie geluk is al wat sy nodig het.
Geruisloos soos ’n kat spring sy uit die boom, mes in die hand. Terwyl hy nog desperaat probeer om sy pistool uit die holster te pluk, dryf sy die vlymskerp lem deur sy nek. Met een gladde beweging sny sy sy lugpyp af. Sy kan nie toelaat dat hy sy makkers waarsku nie.
Die geroggel kan gelukkig nie ver gehoor word nie.
Versigtig voel-voel sy en kry sy nagsigbril in die hande. Die blote wete dat sy nou kan sien, kalmeer haar.
Jonk, skaars uit sy tienerjare. Sy baardjie is yl, en die vel onder haar hand nog sag. Sy hande en voete is buite proporsie groot asof sy lyf nog daarin moes gegroei het.
Moeg vee sy met die rugkant van haar hand oor haar oë. Nou is nie die tyd om sentimenteel te raak nie. Hy is jonger as wat sy verwag het, maar hy sou nie gehuiwer het om haar dood te maak as hy die kans gekry het nie. Anders sou hy nie saam met hierdie mans gewees het nie. Lojaliteit en die vermoë om bevele sonder aarseling te gehoorsaam is kenmerkend van dié groep. So ook die kapasiteit vir wreedheid.
Hul handewerk het sy al gesien, en die blote gedagte laat haar vinniger beweeg.
Sy deursoek hom gou. Geen vorm van identifikasie nie. Dit het sy verwag. Behalwe die pistool het hy ’n jagmes en ’n kruisboog. Die mes is nie van dieselfde gehalte as haar eie nie. Sy wil dit los, maar bedink haar en maak die skede aan haar enkel vas. Haar eie lem maak sy eers sorgvuldig aan sy baadjie skoon en bêre dit dan. Toe gebruik sy sy jagmes om twee breë stroke van sy hemp af te sny as verband vir haar kopwond. Met die bloeding onder beheer, sit sy op haar hurke terug om haar volgende stap te beplan.
Die kruisboog en pyle kan sy beslis gebruik. Hy dra ’n rugsak. Sy maak dit oop. Pakkies gedroogde kos. Ekstra ammunisie vir die pistool. ’n Satellietfoon. Ahaa! ’n Elektroniese gps. Dis veel nuttiger vir haar as enige van sy wapens.
Sy luister.
Die geroggel het stil geword. Geen polsslag in sy nek nie. Sy oë staar onsiende.
Sy makkers is iewers in die donker. Sy is nie veilig nie. Sy pas sy oorstuk versigtig in haar oor, die mikrofoon knus teen haar keel, bly sy het dit nie raak gesny toe sy hom doodgemaak het nie.
Nou praat hulle met mekaar.
Sy kan min of meer uitwerk waar hulle is. Nie lank voordat hulle agterkom dat hulle radiokontak met die man op die grond verloor het nie.
Sy kan wegkruip, of sy kan die geveg na hulle toe neem.
Nie veel van ’n keuse nie.
‘Klik!’ skakel sy die keelmikrofoon aan. Sy is gereed vir hulle.
Prooi en jagter het nou plekke geruil.
~~~
Categories Afrikaans Fiction South Africa
Tags Afrikaans Bettina Wyngaard Book excerpts Book extracts Jagter Penguin Random House SA Uittreksel Video