C

Penguin Random House publiseer rolprent-vrystelling uitgawe van Die Griekwastad Moorde deur Jacques Steenkamp
 More about the book!

Die boek Die Griekwastad Moorde deur Jacques Steenkamp is nou ’n rolprent met Arnold Vosloo, en Penguin Random House SA het ook pas die rolprent-vrystelling uitgawe van die boek gepubliseer.

Die e-boek is reeds beskikbaar by e-boekhandelaars en die gedrukte weergawe sal eersdaags op die rakke wees.

Die fliek, nou beskikbaar op DStv BoxOffice, vertel die verhaal van polisiespeurder Dick de Waal wat sy geloof in die onskuld van die jeug moet laat vaar om ’n trippelmoord op die Steenkamp-plaas buite Griekwastad op te los.

Die vrede en stilte in die klein Noord-Kaapse dorpie Griekwastad is kort ná skemer op Goeie Vrydag, 6 April 2012, versteur toe ’n jong tienerseun in sy pa se Isuzu-bakkie die dorp binnejaag en met skreeuende remme voor die byna verlate polisiestasie stilhou. Dit was net voor 19:00 toe die bebloede Don Steenkamp uit die voertuig spring en die aanklagkantoor binnestorm met die nuus dat sy ouers en suster op die familieplaas Naauwhoek wreedaardig doodgeskiet is. Alhoewel daar aanvanklik gedink is dat die moorde net nóg ’n plaasaanval was, is Don maande later weens die moorde gearresteer. Dit het ’n proses aan die gang gesit wat Suid-Afrika sou meesleur en die mense van Griekwastad onderling sou verdeel.

Hierdie boeiende verhaal van wat werklik op daardie noodlottige dag op die plaas Naauwhoek gebeur het, word vertel deur die verslaggewer wat die saak van die eerste dag af gevolg het. Dit is gebaseer op onderhoude met al die betrokkenes, insluitende die ondersoekbeamptes, die forensiese en ballistiese deskundiges asook familie en vriende van die oorledenes, en eindig met die uitspraak en vonnisoplegging…

Jacques Steenkamp het vir meer as ses jaar lank stories regoor Suid-Afrika gedek soos die nuus ontvou het. In daardie tyd het hy verslag gedoen oor honderde moorde en etlike hofsake. Hy is beskou as een van die land se beste verslaggewers oor harde nuus en het oor die jare heen verskeie pryse vir joernalistiek ontvang. Hy het die Griekwastad-moorde van die begin af gedek en het met behulp van sy kontakte en bronne die waarheid agter hierdie grusame saak ondersoek en blootgelê. Hy woon tans saam met sy gesin in Auckland, Nieu-Seeland, waar hy ‘n kommuniekasie-adviseur is.

Die Griekwastad Moorde is beskikbaar as e-boek:

The Griekwastad Murders ebook:

Categories Afrikaans Non-fiction South Africa

Tags Afrikaans Arnold Vosloo Die Griekwastad Moorde Jacques Steenkamp Penguin Random House SA Rolprent-vrystelling uitgawe The Griekwastad Murders


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments