Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen wen die 2022 Scheepersprys vir Jeuglektuur! (Plus: Lees ’n uittreksel)
More about the book!
Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het pas die Akademiebekronings vir 2022 bekendgemaak! Fanie Viljoen wen die gesogte Scheepersprys vir Jeuglektuur vir sy roman, Offers vir die vlieë.
Die toekenning van hierdie prys word driejaarliks oorweeg vir ’n jeugboek in Afrikaans in enige genre. Offers vir die vlieë verskyn in 2020 en wen die eersteprys in LAPA se Jeugromankompetisie vir 2019.
Baster deur Jan Vermeulen, die naaswenner in LAPA se Jeugromankompetisie, verskyn ook op die kortlys vir die Scheepersprys.
Veels geluk!
Lees ’n uittreksel uit Offers vir die vlieë:
1
DIE EEN DING WAT AAN JOU
ALLEEN BEHOORTOp aande soos hierdie kom die slaap nie maklik nie. Oop oë lê ek op my smal enkelbed met die dun spons matras. Doodstil in die donker. Nie eens die metaalpote van die bed kraak nie. Af en toe flits ’n hommeltuig se rooi lig van buite af oor die plafon. Veraf klink geweerskote en die gerammel van weermagvoertuie op. Nader hoor ek hoe een van die ander ouens in die barak liggies snork. Ek wens ek kan ook wegraak in ’n salige droom, maar my brein bly paraat.
Paraat.
Daar is nou vir jou ’n woord.
‘Wees paraat, troep!’ Hoeveel keer het Torsten tydens die opleiding so op ons geskree? Sersánt Torsten, moet ek sê. Ons seksieleier. ‘Los jou slap gat geit!’
‘Maar ’Sant.’
‘Lyk dit vir jou of ek lus het om ’n diep en betekenisvolle gesprek met jou te voer, troep?’
‘Nee, ’Sant. Maar ’Sant, ek kan nie meer nie, ’Sant,’ het ek een só ’n keer uitgeroep, worstelend deur ’n modderveld met ’n teerpaal wat my met elke tree nader aan my knieë dwing. Totdat die gewig van die paal my uiteindelik neervel en my op pad ondertoe nog ’n laaste vernederende hou teen die rug gee sodat ek in die swart modder neersyg.
‘Staan op, Eliam!’ skree Torsten bo my.
Spoeg maak drade in my mond. ‘Ek kan nie, ’Sant.’
‘Jy laat jou makkers in die steek. Is dit wat jy wil doen?’
‘Nee, ’Sant.’
‘Hoekom lê jy dan daar en hyg soos ’n inkontinente os? Is jy ’n swakkeling?’
‘Nee, ’Sant.’
‘Ek verbrysel ’n vrotterd. Op jou pote. Nou!’
‘Ek kan nie.’
‘Jy kan as ek sê jy kan.’
‘Ek kan nie.’
‘Moet ek jou uit die Program gooi?’
‘Nee, ’Sant.’
‘Dit sal my die grootste plesier verskaf.’
‘Asseblief nie, ’Sant.’
‘Wat? Gun jy my nie ’n bietjie genot nie, Eliam?’
‘Ek … uhm … Natuurlik, ’Sant, maar …’ Ek stotter soos ek die regte antwoord probeer kry.
‘Idioot!’ Torsten spoeg op my. ‘Lig jou skelet, vat daai donnerse paal en hardloop.’
‘Ek kan nie, ’Sant.’
‘Ou beesblaas, jou gat gaan ek vandag op meer as twee maniere skop. Dit is maar net die begin.’ Sy stewel land op die paal op my rug. My gesig druk dieper die modder in. Van die koue natheid stu in my neus op. My mond val oop soos ek na asem hyg. Dit is ’n fout, want nog modder beland in my mond. Dit peul verby my tande in my keel af. Meteens stik ek. Desperaat lig ek my kop. My bors ruk. Ek probeer die modder uitspoeg. ’n Boog braaksel skiet geel saam met die modder en slym uit. Van die surigheid spat oor my gesig. Dit brand oor my vel.
Torsten se spotlag dreun oor die veld.
‘Help tog hierdie poephol,’ sê hy vir die ander ouens wat heeltyd nog stil staan en toekyk.
Een ou tree vorentoe. Diesel. Met sy eie paal steeds op die skouer gebalanseer, kom buk hy langs my. Sy los hand skuif tussen my blaaie en die swaar teerpaal in. Vat dit stewig vas. Hup, maak hy ’n keelgeluid, lig die paal dan manalleen van my af en smyt dit eenkant toe. Voordat ek vir hom kan dankie sê, stap hy weg.
Stadig sukkel ek regop. Al die ouens se oë is op my. Verag hulle my, of kry hulle my jammer? Ek kan nie seker wees nie. Op sewentien lê die onsekerheid by tye nog vlak onder jou vel. Dalk weet hulle dit kon met enigeen van hulle ook gebeur het. Maar dit het nie. Dit het met my gebeur.
Torsten kom meteens nader, gryp my aan die nek. ‘Ek en jy gaan praat as ons hier klaar is,’ sis hy in my oor.
Ek knik. Ek het myself hier in die steek gelaat. Ek het die Mag in die steek gelaat. Teleurgesteld laat sak ek my oë en kyk na die poel braaksel by my stewels.
Later daardie middag het Torsten my teruggeneem veld toe. Dit was net ek en hy. Die braaksel het steeds daar gelê. Nou al donkerder, soos dit met die modder gemeng het.
‘Drink dit!’ het Torsten beveel.
‘’Sant?’
Die woord was nog nie koud nie, toe skop hy my voete onder my uit. Trap my kop in die moddergeel vloeistof in.
‘Drink!’
Dit was maar een insident, een dag aan die begin van ons opleiding. Dit was die dag toe ’n fyn stemmetjie in my agterkop gevra het: Is dit wat hier gebeur, reg?
Ek het daardie stemmetjie onderdruk. Wie is jy, Eliam, om so iets te durf vra? Skaam jou!
Sedert daardie dag sloeg ek nie meer in die modder as ons met die teerpale, klippe of swaargelaaide rugsakke hardloop nie. Nou is dit omtrent ’n jaar later. My lyf het verander. Dit het gespierd geraak, die houe gevat wat Torsten uitdeel, want hy – Torsten – het nie verander nie.
Foto met dank aan Fanie Viljoen.
Categories Afrikaans Fiction South Africa
Tags Afrikaans Awards Fanie Viljoen LAPA LAPA Uitgewers News Offers vir die vlieë Scheepersprys vir Jeuglektuur Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Toekennings