C

Na Covid-19 was daar? Cliffordene Norton gesels met Isa Konrad oor haar wetenskapfiksieroman, Toekomsmens
 More about the book!

Hoe lyk Pretoria in die jaar 2057? Dit is die kernvraag in Isa Konrad se jongste roman, Toekomsmens, wat afspeel 37 jaar nadat die Covid-19 pandemie Suid-Afrika se ekonomie in duie laat stort het.

Cliffordene Norton het met die skrywer gesels oor haar wetenskapfiksieroman:

Wat was vir jou die inspirasie vir hierdie storie, en kan jy onthou op watter dag jy besef het: Dit is die tema en hierdie is die karakters wat hierdie storie gaan vertel? Of ontwikkel ’n boek vir jou op ’n meer organiese wyse?

Die rede hoekom wetenskapfiksie my fassineer, is dat daar skrywers is wat met suiwer verbeelding storiewêrelde kan skep wat glad nie in die werklikheid bestaan nie. Die beste wetenskapfiksie daag die leser uit om jou realiteit opnuut in oënskou te neem deur jou ’n alternatiewe realiteit aan te bied. Mens kan dit seker as sinlose bespiegeling afmaak, maar goeie wetenskapfiksie – deur outeurs soos Ursula K Le Guin, George Orwell of Liu Cixin – laat my nadink oor my eie wêreld: waar ons vandaan kom, waarheen ons op pad is, en ons plek in die kosmos. Dit gee my ook ’n nuwe waardering vir my wêreld, vir die wonderlike planeet waarop ons leef. Ek wil amper sê dat ek wetenskapfiksie lees omdat dit my terugbring aarde toe.

Toekomsmens was aanvanklik net ’n baie vae idee in my kop dat ek ’n boek wou skryf wat temas soos emosie, siel en bewussyn in die konteks van kunsmatige intelligensie in die toekoms aanroer. Dis nie vreeslik oorspronklik nie, want dit is alles temas wat herhaaldelik in wetenskapfiksie voorkom, maar ek wou dit graag in die konteks van die verre toekoms sowel as die verre verlede skryf. Ek het gehoop dat ’n toekomswêreld meer toeganklik vir die leser sou wees as ek dit met geskiedenis waarmee die meeste mense vertroud is, kombineer. Dit is beslis ’n organiese proses, want as ek die boek regtig moes beplan het, sou ek moedeloos geraak het lank voordat die regte werk begin het.

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Covid-19 Interviews Isa Konrad LAPA LAPA Uitgewers Litnet Science Fiction


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments