C

’n Nuwe seisoen, ’n nuwe begin vir die liefde in vier bekoorlike Romanzas!
 More about the book!

Nuut by LAPA! Vier nuwe liefdesverhale deur Magdaleen Walters, Marilé Cloete, Santi Neven en Alicia Hanekom.

Beste Bianca deur Magdaleen Walters

Haar kop sê nee, maar haar hart weier om te luister …

Doktor Bianca Dempsey is ’n vrou wat antwoorde soek. Sy ontdek dat iets in die water die mense in haar gemeenskap siek maak en is vasbeslote om agter die kap van die byl te kom. Sy ontmoet ’n aantreklike vreemdeling tydens ’n verkenningsekspedisie wat aanbied om haar te help. Haar kop sê nee, maar haar hart weier om te luister. Dié man lyk darem nie of hy geheime het nie.

Ryno is nie wie hy sê hy is nie, maar sy beskermingsdrang neem oor wanneer hy die beeldskone Bianca ontmoet. Dié soektog van haar is gevaarlik en sy gaan iemand nodig hê om haar by te staan as sy die waarheid van die watersiekte wil ontbloot.

Oor die outeur

Magdaleen Walters is in ’n kasarm van ’n plaashuis in die goeie ou Vrystaat naby Senekal op mieliepap en stories grootgemaak. Sy het haar studentejare op die kampus van die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat deurgebring en later deur Unisa verder studeer. Sy woon saam met haar man in ’n huis langs ’n rivier naby Bronkhorstspruit waar sy haar dae vul met stories, naaldwerk, kosmaak en haar tuin.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Nuut begin deur Marilé Cloete

Het hulle die moed om nuut te begin?

Met haar suster Reinet se troue raak Maret Schreuder en die strooijonker Erik Bosman halsoorkop verlief, maar dinge loop net so vinnig weer skeef. Erik gaan werk in Europa en Maret gaan voort met haar lewe op haar Swartlandse grootworddorp. Drikus skuif gou-gou in Erik se plek in, maar dit word mettertyd vir haar duidelik dat hy nie met haar wil trou nie en dat hy haar nie werklik aanvaar soos sy is nie.

Erik se terugkoms krap dinge deurmekaar en Maret besef dat sy hom nie werklik vergeet het nie. Wanneer hy op haar dorp kom aflos, is dit eintlik logies dat sy hom losies sal aanbied. Albei besef dat ’n gebrek aan werklike kommunikasie hulle verhouding destyds gekelder het, maar albei is ook ewe bang om weer so seer te kry. Nou moet hulle besluit of hulle die moed het om nuut te begin.

Oor die outeur

Marilé Cloete is die skrywersnaam wat Alta Cloete gebruik wanneer sy haar hand aan ’n romanse waag. Dit word bloot gedoen om genres te skei, sodat die leser weet van Marilé kry sy romanses en van Alta kry sy (liefdes)romans. Alta woon in die Paarl en het betreklik laat in haar lewe voluit begin skryf. Nou is daar nie sprake van ophou nie. Skryf maak die leë nes (tot ’n mate) vol en hou depressie op ’n afstand. Skryf bring groot uitdagings, maar ook nuwe visie, nuwe energie, nuwe vriende en ongelooflike bevrediging.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Kleine Paradys deur Santie Neven

Katryn soek nie ’n nuwe man nie.

Sy is gelukkig om vir ewig Paul se weduwee te wees, al het hy haar hart gebreek. Die man wat langs haar plaas, Kleine Paradys, intrek, is egter nie net enige man nie. Nee, hy’s ’n sexy dokter wat niks van boer af weet nie en sy word gereeld na sy plaas ontbied om te kom help met ’n krisis.

Axel weet sy beeldskone buurvrou het geheime, maar dit gaan hom nie afskrik nie. Hy het immers Soete Waters gekoop sonder om enigiets van boerdery te weet. Hy sal haar net moet oortuig dat hulle nie só verskillend is nie. En dat sy eerder vir hom moet kies as haar ander buurman. Dié mag dalk alles van die plaas weet, maar hy weet niks van vroue nie.

Oor die outeur

Santi Neven is in die Vrystaat gebore, het in KwaZulu-Natal grootgeword, lank in Gauteng gebly, in die Kaap ’n gastehuis gebou en woon nou weer in Gauteng. Sy is ’n weduwee met twee seuns. Haar eerste Romanza, Goudgeel liefde, verskyn in 2012 en word vinning ’n topverkoper.

Ook beskikbaar as e-boek:

***

Boerefeëtjie deur Alicia Hanekom

Kry jy ’n tweede kans met jou eerste liefde?

Nina is ’n fyn stadsmeisie wat boerin moet kom speel op haar ouers se plaas. Sy het ietwat aangepas op Kouefontein, maar iets waaraan sy nooit, ooit gewoond gaan raak nie, is om vir Jaco Louw elke dag te sien. Haar jeugliefde. Nuwe buurman. Clooney se dubbelganger.

Sy het vir Jaco tien jaar laas gesien toe die mooie Willemien vir Nina allerhande stories oor hom vertel het. Daardie dag het sy haar hart gesluit, maar nou bly hy feitlik óp haar werf en sy moet keer dat sy glimlag weer die sleutel tot haar geluk word …

Oor die outeur

Alicia Hanekom heet van Eendekuil in die Wes-Kaap, waar sy ’n onderwyser by die laerskool is. Sy het ’n man wat boer en twee pragtige kinders wat hulle besig hou. Sy is al van kleins af verlief op lees in Afrikaans en droom nog altyd van skryf. Sy vind ontvlugting in stories, en hulle hou haar rustig te midde ’n besige lewe. Alicia hoop haar stories kan dieselfde ontspanning en vervoering bied aan haar lesers.

Ook beskikbaar as e-boek:

Categories Afrikaans Fiction South Africa

Tags Afrikaans Alicia Hanekom Alta Cloete Beste Bianca Boerefeetjie Kleine paradys LAPA LAPA Uitgewers Magdaleen Walters Marilé Cloete New books New releases Nuut begin Romanza Santi Neven


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments