C

Jan Tuisbly se wiele pap? Sit ’n huppel in jou stap met 8 heerlike Afrikaanse e-boeke, net vir jou

Jan Tuisbly se wiele pap? Sit ’n huppel in jou stap met agt van die beste Afrikaans boeke, nou in e-boekformaat beskikbaar!

Lees meer oor hierdie wonderlike boeke:

Grensgeval deur Marita van der Vyver

Die brief wat Theresa tussen haar eksman Theo se besittings ná sy dood ontdek, skeur haar lewe oop. Jare lank het sy haar rug op Theo gedraai, ’n man wat sy laaste twee dekades in ’n inrigting moes deurbring. Só ook het sy die land se verlede weggestoot, die tyd toe tienerseuns gestuur is om aan die grens te veg – ’n plek en ’n oorlog waarvan mense tuis bitter min geweet het. Vir Theresa self was dit ’n tydperk van eerste liefdes, disko’s en vakansies by die see.

Theresa besef gou die brief is deur ’n Kubaanse soldaat aan sy kind geskryf – iemand wat, indien hy of sy nog leef, nou minstens veertig jaar oud sal wees. Theresa weet in haar siel sy moet Kuba toe: om die soldaat se kind te soek, om die brief te besorg, om boete te doen vir Theo se dade en vir haar eie onkunde.

In swoel, afgeleefde Kuba, tussen kleurryke motors uit die vyftigerjare en geurige sigaarrook, word Theresa se soektog intiem vervleg met die lewens van mense wat in Angola as “die vyand” gebrandmerk is. Só ontrafel sy wat dit beteken het om groot te word in die Suid-Afrika van daardie tyd.

***

Bloedsteen deur Irna van Zyl

Dinge ontrafel vinnig wanneer iemand speuradjudant Storm van der Merwe se ma voor ’n trein op Paddington-stasie instamp. Storm moet Londen toe, al is sy tot oor haar ore met ’n moordsaak: Beebee Bukelwa Babu, befaamde Suid-Afrikaanse modeontwerper, lê leweloos in ’n luukse hotel op Hermanus.

Hande om Storm te help met die ondersoek ná Beebee se dood is min, want protesaksie lê die dorp lam. Boonop sweep ’n charismatiese profeet die skare tot ’n histerie op.

Storm besef gou dit is nie net haar ma se lewe wat in gevaar is nie. Sy is self ’n teiken.

Intussen probeer haar ekskollega, Andreas Moerdyk, nou ’n privaat speurder, om ’n skaars rooi diamant van onskatbare waarde op te spoor.

Van Londen se donker strate tot Antwerpen se diamantebeurs, van Port Nolloth se verlate kuslyn tot Storm se geliefde Hermanus, ontvou die storie in Irna van Zyl se derde misdaadroman teen die pas van ’n sneltrein.

***

Noorman deur SD Fourie

Dit was die meisiekind, Louisa, wat sy lewe red toe hy ná daardie verskriklike deurmekaar nag in die kloof kom skuiling soek. Hier, by die waterval, doop sy hom Noorman, alhoewel hy probeer om sy verlede as skeepskaptein en soldaat tydens die Eerste Wêreldoorlog te vergeet. Ook die twee vroue uit dié donker tyd.

Louisa en die mense van die omgewing raak onlosmaaklik deel van sy lewe. Op die buurplaas is die boervrou skaamkwaad oor haar eerste ontmoeting met dié fors rooikopman, al het sy haar oog op die stuk grond waar hy woon.

’n Watertwis ná die depressie en die landswye droogte dryf Noorman se verhouding met sy bure op die spits.

Maar wie kon ooit die stortvloed van verandering ná die verkiesing van ’48 vir die mense van die plase om die waterval voorspel?

SD Fourie blaas met  Noorman  lewe in die ryk geskiedenis van die Strandveld.

***

Zola deur Johan Jack Smith

‘Johan Jack Smith het die soort verwronge, donker verbeelding waarvan ek hou.’  – Martin Steyn

‘Zola is ’n boeiende piknagdonker speurverhaal uit die swartse hart van ons land se geskiedenis en haar gevaarlikste stad.’  – Jaco Adriaanse

Die hel is los in Johannesburg se strate. Iemand is besig om jong meisies wreed af te maai en die bloedspoor wat hy agterlaat, sê: ‘Reeksmoorde’. Die stapel slagoffers raak kaptein David Majola en adjudant Jason Basson se gemors.

Kaptein Majola: ’n man deurmekaar met wit lyne en opgerolde geldnote wie se ma en suster steeds in die township sit en krepeer. Adjudant Basson: die tipe polisieman wat veel eerder die Mag jare gelede vaarwel moes roep.

Terwyl koerante en politici blaf en die taxibase met ’n verwoestende staking dreig, moet Majola en Basson duiwels in ’n malse stad trotseer.

***

In ‘n land sonder voëls deur Harry Kalmer

Dit was die vyftiende jaar van ekonokrasie. Vyftien jaar nadat ons ons demokrasie vir die Korporasie verruil het. Die politiek is geprivatiseer. Nes ons polisiediens en hospitale, dekades vroeër. Danksy tegnologie, die stygende reënval, die veranderende klimaat, kon die land aan derduisende yskoue, dankbare Amerikaners en Kanadese blyplek bied. Vir beide die aankomelinge én die gevestigde inwoners het voorspoed en ’n beter lewe aangebreek. So het ons geglo, of so is aan ons vertel. Maar nou leer ek ’n nuwe taal. Die taal van onthou. En dit maak my gevaarlik.

Wanneer ’n mediese dokter die aandag van die Sentinels trek, moet hy deur ’n verwoeste landskap vlug. In ’n wêreld waar ’n skynson lig verskaf, raak hy ’n pion in ’n komplot waarvan hy onbewus is. Selfs die verdwyning van sy kind tydens die chaos en die kosopstande voor die Wending kon hom nie hierop voorberei nie.

In ’n land sonder voëls is ’n verdoemende ondersoek na die impak van ’n totalitêre bestel en een man se besinning oor sterflikheid en dít wat ons mense maak.

***

Karaktermoord deur Carina Diedericks-Hugo

Jare gelede het die beeldskone digter Anna Neethling finaal uit die uitgewer Malan Sinclair se lewe gestap.

Hul verhouding was ’n maalkolk wat sy huwelik en loopbaan wou verswelg.

Maar nou is Anna onverwags terug. Wanneer Malan haar lyk langs sy motor vind ná ’n helse uitval in sy kantoor, bou die afwaartse spiral momentum op.

’n Paar dae later maak ’n uittreksel uit Anna se dagboek Malan die hoofverdagte in haar moord en kom gebeure wat ’n dekade gelede tydens ’n drinkparty op ’n wynplaas afgespeel het op die lappe.

Iets het daardie aand in die kelder gebeur en meer as een paar hande is bevlek …

***

Net mooi fine deur Lanie Van Reenen

Iets heerliks gebeur. Dis asof ek nie meer Lanie-op-’n-fiets op ’n mission is nie, maar een word met die natuur om my; of ek nog van altyd af hier was, hier hoort. Asof die lewe nog altyd eenvoudig was. Ek klim af en gaan lê op my rug en kyk deur die herfsblare wat goud aan die bome hang tot by die ysblou lug ver bo. Ek wil iets gee, iets sê…

Net mooi fine is die opvolg van Lanie van Reenen se suksesvolle boek C’est la Vie. Hierin beskryf sy wat gebeur het sedert haar hotelprojek in Frankryk gefaal het; hoe sy die nuwe realiteite van haar eie gestroopte lewe te bowe moet kom terwyl sy ook die verwerende château moet probeer red of verkoop.

Op haar pad na heling onderneem Lanie vele avonture: soms alleen per fiets, soos wanneer sy die Camino Portuguese voltooi; maar ook te voet, soos die tog na die berg Everest se basiskamp wat sy ter wille van liefdadigheid onderneem.

In hierdie ontroerende omstandighede ontstaan die vraag: Wat is die somtotaal van verlies? En hoe groot is die wins wat verlies tot gevolg kan hê as jy bewustelik daarmee omgaan, sodat ʼn mens ten slotte kan sê: ‘Eintlik is alles net mooi fine’?

***

Geen engel nie deur André Krüger

Nuwe plek, nuwe skool, nuwe mense. Ek het my eenkant gehou, net in die middae pinball gespeel by die Griek se kafee op die hoek. Pinball was my ding. My nuwe klasmaats het gesien hoe ek speel.

‘Kyk hoe jive die cat daar agter die pinball,’ lag die een. ‘Ek scheme dié Randfontein cat is nie te bad nie.’

Omdat ek ’n soort van pinball wizard was, het hulle my nie so geboelie soos vir my kleinboet Johnny nie.

Ná ’n lewe in die skadus neem ’n man stelling in, rewolwer in die hand, om sy allerlaaste misdaad te pleeg.

Terwyl hy in ’n donker sitkamer wag, loop sy herinneringe wye draaie: na harde grootwordjare in Randfontein en Germiston se strate, waar selfs jou eie familie jou kon bloedmond slaan. Hy onthou die Suid-Afrika waarin hy opgegroei het: die Castle Lager en Lucky Strikes agter skoolpawiljoene, die seuns met aanvalsgewere op die grens.

Vir ’n hierjy soos hy was sy pad reeds vroeg uitgemeet: hoëtroustelle steel, baie Klipdrift, verbeteringskool, daarná die army. En toe sluk Sunnyside se nagklubs en onderwêreld hom in.

In André Krüger se aangrypende roman oor familie, verraad en wraak – geskryf in die taal van die straat en die tyd – voer een man ’n uiterste stryd teen sy lotsbestemming.

 

 

Categories Afrikaans Fiction Non-fiction South Africa

Tags Afrikaans André Krüger Bloedsteen Carina Diedericks-Hugo E-boeke Geen engel nie Grensgeval Harry Kalmer In 'n land sonder voels Irna van Zyl Johan Jack Smith Karaktermoord Lanie van Reenen Marita van der Vyver Net mooi fine Noorman Penguin Random House SA SD Fourie Zola


1 Votes

C

You must log in to post a comment

0 Comments